Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Ontsluit die wonderwêreld van bier met nuwe kennis

Enigiemand kan ’n bierkenner wees – dit gaan net oor hóé goed jy bier ken. Suzaan Potgieter deel Suid-Afrikaanse Brouerye (SAB) se wenke oor hoe om bier te geniet en meer daarvan te leer.

Skink bier korrek vir ware bierplesier

Dit is voorwaar ’n wetenskap, maar tog eenvoudig om die perfekte bier te skink. Só behoort jy dit te doen:

Tshepo Tloubatla, bierkultuurbestuurder by SAB, bekyk die kleur van die bier . . .Foto’s: VERSKAF

1. Hou die glas teen ’n 45 grade hoek – ongeveer 2,5 cm onder die bottel of blikkie.

. . . . dan ruik hy dit . . .

2. Laat die bier teen die kant van die glas af vloei totdat dit halfvol is.

. . . . draai dit . . .

3. Lig die glas stadig regop en skink die bier in die middel om sowat 2,5 cm skuim te maak. As daar meer skuim as verwag is, laat die bier rus totdat die skuim sak en skink verder.

. . . en proe dit!

4. As die skuim reg is, hou op gooi, ontspan en geniet.

Word só ’n bierfynproewer

Kyk, in die somer hou die Kapenaars darem maar van hulle krieket en ’n yskoue bier, dis vir seker. SAB verskaf dié nuttige wenke om bier te proe:

1. Maak jou palet skoon: Enigiets wat jy eet of drink voordat jy bier proe, kan jou smaak beïnvloed. Kaas en beskuitjies kan ook jou palet se sensitiwiteit affekteer, so hou eerder by water.

2. Kyk na die kleur: Die bier se kleur sal wys watter tipe dit is. Pilsner het ’n vaal strooikleur, terwyl Amerikaanse en Engelse ale ’n goue skynsel het. Porter en stout is amberbruin en swart. As jy bier proe, begin by lig en proe na donker.

3. Ruik die aroma: Beweeg die glas een of twee keer verby jou neus. Jou neusgate en smaakknoppies werk saam, so die aroma sal “verklap” watter tipe bier jy proe. Jy gaan tipiese geure soos sitrus, peper, vars gras van die hop, en miskien gis optel.

4. Draai dit: Draai (swirl) jou glas liggies – dit laat die vlugtige bestanddele in die bier vry en ook koolsuurgas wat die bier effens sal laat skuim. As die bier met lug meng, kry die drinker sterker aromas.

5. Ruik diep aan jou bier: Asem die geur sommer lekker diep in sodat jy meer van die aroma kan ruik. Moutgeure sluit in heuning, beskuit, karamel of gebakte brood.

6. Tyd vir proe: Neem ’n klein slukkie, genoeg dat dit oor jou hele tong vloei en laat dit vir ’n paar sekondes oor jou tong rol voordat jy dit sluk en uitasem. Verwag smake soos vrugte, karamel, koffie, neute, sjokolade en meer.

Kos vir by jou gunstelingbier

Stella Artois: Pas by romerige disse en seekos, soos ’n ligte kerrie-botterskorsiesop.

Hansa Pilsner: Geniet dit saam met ligte maaltye soos groenslaaie, gestoomde broccoli of stokvis.

Carling Black Label: ’n Bier wat by kosse met sterk geure pas, soos ’n peper-springbokfilet met kapokaartappels.

Castle Milk Stout: Drink dit saam met sjokolade-nageregte, ryk vleis (soos beesstert en lamskenkel), asook poedings wat van sjokolade en karamel gemaak is.

Die moets en moenies van bier

Foto: iSTOCK

  • Lig: Bêre bier in ’n donker, koel plek om te verhoed dat lig die fisieke struktuur daarvan verander. ’n Slegte reuk en smaak is tekens dat die bier deur lig geaffekteer is.
  • Ouderdom: Bier het ook ’n vervaldatum en hoe langer dit op die rak staan, hoe meer tyd het die bier om te oksideer.
  • Hitte: Niemand hou van warm bier nie. Bêre dit by ’n temperatuur van onder 4 ºC.
  • Opskudding: As ’n bier te veel gehanteer en geskud word, kan die suurstof daarin oplos wat dit sal laat verslaan.
  • Vries: Moet nooit bier vries nie. As dit gevries word, gaan die koolstofdioksied verlore en die bier sal verslaan/sonder vonkel wees en dit affekteer die smaak.
  • Vuil glase: Skoon glase bevorder die skuim en die borrels sal nie vassit aan die kant van jou glas nie. Vuil glase kan die bier se smaak en aromas affekteer.
Meer oor:  Bier  |  Wenke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.