Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Ontsnap na gasvrye wynvallei

Dis nie net die sakpas wyne wat die Worcester-wynroete so lekker maak nie, maar ook die mense, skryf Suzaan Potgieter.

By Nuy on the Hill kan jy kies en keur tussen die wyne 'n van die spyskaart, wat onder meer pizzas en ander peuselhappies bied. Foto: The Newspaper

Jy kan maar na die Worces­ter-wynroete verwys as die vallei van die C’s, want hier kan jy altyd goeie chenin blanc, colombard en chardonnay kry.

Maar moenie vergeet van die goeie soetwyne nie – net betyds vir die koue maande.

Boonop is die plekke op dié roete oordadig met gasvryheid en kosporsies, en vrygewig as dit kom by die wyne, waarmee hulle beslis kan spog.

As jy nie beplan om oor ’n week en ’n half die Nuyvallei-fees by te woon nie, kan jy enige Saterdag die wynroete pak, want binne ’n uur kan jy aan die eerste kelder se voordeur klop.

Enige dag ’n bederf

As jy nie by Nuy on the Hill was nie, kan jy nie sê jy het dié roete aangepak nie.

Dié proelokaal van die Nuy-kelder bied nie net ’n uitsig oor die vallei van waar jy op die koppie sit nie, maar het ook gou ’n gunsteling onder besoekers geword.

Jy kan eenvoudig nie verby ry sonder om in te loer nie – veral as jy eers die gebou vanaf die pad gewaar.

Hier kry jy lekker en goeie­gehaltewyne teen ’n sakpas prys. Van die vars en lekker Chenin Blanc 2018 (R48) tot die Mastery Chardonnay 2016 (R50) en die Mastery Shiraz 2017 (R115).

Jy kan eenvoudig nie verby ry sonder om in te loer nie – veral as jy eers die gebou vanaf die pad gewaar.

Probeer gerus ook die Barbieri Idro 2013 (R220), ’n baie spesiale rooi muskadel. Hulle vervaardig ook ’n potketelbrandewyn (R220) en twee craft­jenewers (R375 en R425) wat jy sal wil huis toe neem.

Benewens die keelbederfies het Nuy on the Hill ook ’n volle restaurant wat elke dag heeldag oop is.

Reeds om 09:00 soggens staan hulle reg om ontbyt voor te sit, óf jy kan smul aan ’n roosterkoek of vetkoek. Middagete sluit in ’n verskeidenheid van pizzas (tussen R125 en R148) of tapas soos bitterballen (R65), sout-en-peper-calamari (R68) en Chinese bobotierolletjies (R48). Daar is ook slaaie, steaks, ligte etes en burgers.

Daar is ook ’n kinderspyskaart en ’n verskeidenheid van nageregte en koeke vir die suikertand.

Nuy on the Hill is van Maandae tot Sondae oop.Jou kontak: 023 347 0272

Ontsnap na dié plaas

Dit is soos ’n gans ander wêreld wanneer jy Leipzig in die Nuy-vallei besoek, wat die wegry daarvandaan selfs moeiliker maak.

Probeer die Sauvignon Blanc 2018 (R85), Chenin Blanc 2016 (R110) en die rooiversnit Grand Master 2017 (R160). Die Pinot Gris 2018 (R70) is beslis een wat jy moet probeer, want dit is nie ’n druifsoort wat jy elke dag teëkom nie – veral nie in ’n roosgoue kleur nie.

Dit kos R55 per proe, wat twee wit- en twee rooiwyne insluit.

Leipzig bied ook luukse kamers vir verblyf. Jy kan met jou besoek gaan fietsry op die plaas, die skilpadtuin besoek (waar die kleintjies dié tyd van die jaar ’n bederf is) en op ’n wandeling gaan om die natuurskoon te geniet.

Hulle bied ontbyt en aandete vir gaste wat oorbly.

Leipzig is Dinsdae tot Saterdae oop vir wynproeë.Jou kontak: 023 347 8422

Ontspan by Leipzig tydens ’n wynproe of binnekort as deel van die Nuy vallei-fees. Foto: Verskaf

Van die dam tot nou

Die was aanvanklik langs die Brandvleidam geleë, maar die nuwe kelder en proelokaal is nou sommer maklik bereikbaar tussen Worcester en Villiersdorp.

Wat dié kelder bied, is wyne teen goeie pryse wat jy te alle tye kan geniet.

Die splinternuwe sauvignon blanc, chardonnay (albei R36) en chenin blanc (R35) van die 2019-oesjaar is vars en vrugtig, terwyl die rooiwyne van die 2018-oesjaar mooi smake en geure na vore bring. Probeer die Ruby Cabernet/Merlot 2018 (R37) en die Cabernet Sauvignon 2018 (R38).

Wat dié kelder bied, is wyne teen goeie pryse wat jy te alle tye kan geniet.

Vir die suikertande is daar ook die Bacchanté 2019 (R35), wat ’n semisoetversnit van chenin blanc, colombard en viognier is.

Hulle bied van Maandae tot Vrydae wynproeë aan.Jou kontak: 023 340 4215

Meer as 60 jaar van wyn

Sedert 1954 streef Aan de Doorns na uitmuntendheid, en met hul topklaswyne is dit duidelik dat hulle dit regkry.

Die hooffokus is witwyn met ’n klein verskeidenheid rooiwyne, soos ’n heerlike Shiraz 2017 (R50). Probeer gerus die Chenin Blanc 2018 (R44) en een van drie gefortifiseerde wyne, wat ’n Cape Ruby 2018 (R49) en Rooi Muskadel 2016 (R28 vir 375 ml) insluit.

Sluit gerus aan by die kelder, sowat 8 km vanuit Worcester, vir ’n wynproe waar jy buite kan sit en ’n uitsig van die berge met jou glasie wyn kan geniet. Andersins kan jy knus binne die proelokaal sit.

Aan de Doorns is Maandae tot Saterdae oop.Jou kontak: 023 347 2301

Nuyvallei-fees is om die draai

Die vallei vier vanjaar weer die vallei se druiweoes met die jaarlikse Nuyvallei-fees.

By die fees kan jy uitsien daarna om tradisionele kosse asook olywe te proe en na musiek te luister terwyl jy goeie wyn geniet.

Deelnemende kelders sluit in die Nuy-wynkelder by Nuy on the Hill, Conradie Penhill Artisanal Wines, die Willow Creek-olyflandgoed en Leipzig Country House and Winery. Hulle is almal op die R60, halfpad tussen Worcester en Robertson, geleë.

Vir feesgangers met te veel adrenalien begin die feestelikhede met ’n bergfiets- of voetslaanuitdaging.

Mense wat eerder rustig die sonnetjie en vars lug wil geniet, kan na die verskeie kunstenaars luister wat gaan optree.

Ouers kan ook ontspan, want daar is verskeie aktiwiteite om die kinders besig te hou.

Kaartjies sluit ritte op die Nuyvallei Tractor Express in, wat jou gratis na die verskillende lokale sal vervoer.

Wanneer? Saterdag 11 Mei

Waar? Vier plase in die Nuy­vallei

Kaartjies? Dit kos R95 vir volwassenes en R35 vir tieners (13 tot 17 jaar). Toegang vir kinders onder 12 is gratis.

Dit is aanlyn beskikbaar by Webtickets of op die dag by die hekke.

Meer inligting: Besoek www.nuyvalleyfestival.co.za of stuur e-pos na info@nuyvalleyfestival.co.za.

Meer oor:  Versnit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.