Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Ontspan in Oosterse gasvryheid

As jy wil gaan uiteet, maar nie seker is waarvoor jy lus is nie, is Mellas dim-sum & noodle bar in Port Elizabeth net die regte restaurant om te besoek.

Jessica Ah Sing en Camilla Forlee voor ’n vistenk in die restaurant met sy moderne maar tog snoesige atmosfeer.Foto: Willemien Green

Camilla en Dion Forlee is die eienaars van Mellas wat reeds die afgelope ses jaar in die woonbuurt Richmond Hill bedryf word.

Mellas – ’n samestelling van Camilla en Dion se twee dogters (Mià en Ella) se name – spesialiseer in outentieke Oosterse disse en ’n variasie van Kantonese dim-sum.

Met Cecil, Bubbles (Thandi) en Gilbert wat in die kombuis doenig is, bars die eetplek dikwels byna uit sy nate, so gewild het hy onder die Baai se smulpape geword.

“Dit is eintlik ’n familiebesigheid, hier is so baie van ons wat ’n handjie bysit,” sê Camilla.

Sy en Dion het self die kokke in die kombuis opgelei en verander gereeld die spyskaart om dit interessant te hou.

Of jy op jou eie of in ’n groep is, hier sal jy die geleentheid kry om meer as een dis te probeer teen bekostigbare pryse.

Neem jou tyd om die spyskaart deur te lees, maar Jessica Ah Sing, die baie behulpsame en geduldige kelnerin (ook familie), verduidelik met graagte die verskillende disse en gaarmaakmetodes.

Sy waarsku dat alles nie noodwendig op dieselfde tyd sal opdaag nie, omdat verskillende gaarmaakmetodes se tye wissel.

Bestel dus genoeg van ’n dis of drie sodat almal daarin kan deel terwyl julle wag vir die volgende rondte.

Die dekor is eenvoudig maar die sagte beligting skep ’n gesellige atmosfeer. Foto: Willemien Green
Die boom met sy kersiebloeisels versier een van die mure in die restaurant.Foto: Willemien Green
Jy kan nie plek bespreek nie so daag maar vroeg op as jy by Mellas wil eet. Foto’s: Willemien Green

Dim-sum beteken eintlik klein happies of klein bordjies met kos.

By Mellas word dié happies gewoonlik gekook, gestoom of diepgebraai en drie of vier stuk op ’n bord bedien.

Bestel eers een van die soppe, soos die Won-Ton-sop (R40 – R45) met dumplings wat met vark en garnale, hoender en garnale of garnale en koljander gevul is.

Op die tafel is klein bakkies met lepels sodat elkeen vir homself daarvan kan skep.

Probeer dan die dim-sumpotstickers (R55 – R65),diep gebraaide won-tons (R40 – R45) of gestoomde Sui-Mai (R55) vir ’n ander tekstuur en smaak.

Die won-tons wordmet soet rissiesous bedien en die potstickers met ’n soet asynsousie.

Maria Fourie glimlag van oor tot oor toe ’n bakkie Won-ton sop voor haar neergesit word. Foto: Willemien Green

Die gewilde potstickers is net ’n ander manier om die won-tons gaar te maak.

Die gevulde won-tons word eers gestoom en dan word die onderkant in ’n pan gebraai sodat dit so effense taai onderkant het met ’n sagte, gevulde boonste helfte wat in jou mond smelt.

Fyn stukkies rissies en gemmer dryf in die soet asynsous en dis so lekker dat jy dit sommer net so uit die bakkie wil drink. Dit is definitief ’n uitstekende manier om ’n lente-verkoue in die hok te slaan.

Probeer dan die gestoomde Char-Sui Boa buns (R45) of Vegan Bao (R50).Die bolletjies is heerlik en word keurig bedien in die mandjies waarin dit gestoom word.

Deel daarna ’n dis wat met noodles of rys bedien word.

Die red pork met jasmyrys (R80) is die restaurant se spesialiteitsdis.

Die vleis word in sjerrie, sojasous en suiker gekook en smelt omtrent in jou mond so sag is dit.

Bestel ten einde Sukima en roomys (R50) vir nagereg. Dit is soortgelyk aan die Chinese bowtie wat diepgebraai is en daarna met suikerstroop en sesamsaad besprinkel word.

Jy kan jou eie wyn saamneem (’n R30-kurkfooi geld), maar Mellas het ook ’n uitstekend fynproewers-wynspyskaart en jy sal verseker ’n wyn wat in jou smaak val daar kan bestel.

Daar is ook ander alkoholiese drankies, soos goeie whiskey, beskikbaar.

Ongelukkig neem die restaurant geen besprekings nie. Maak dus seker dat jy daar is sodra die deure oopmaak. Sodoende lê die aand voor jou uitgestrek om met smaaklike kos, goeie vriende en familie te kuier!

Gestoomde Sui-Mai met hoender en gemmer (links) en eend-springrolls. Foto: Willemien Green
Red pork belly met jasmynrys, sprinkel die soet- en suursousie daaroor en jy sal die dis met niemand wil deel nie!Foto: Willemien Green
Eg Oosters – gestoomde ‘Char-Sui Bao’ bolletjies.
Beef en eier noodles met sampioene.Foto: Willemien Green
Diepgebraaide ‘won-ton’ met soet rissiesous.Foto’s: Willemien Green
Smaaklike vark – ’n bak ‘three way pork ramen’.

Meer oor:  Port Elizabeth  |  Kos  |  Restaurant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.