Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Pannekoek pantser teen die lentereën

Sou jy verskoning soek om pannekoek te bak, was laasweek se lentereën goeie rede om die meelsak nader te trek.

’n Heerlike pannekoek is in die koue lenteweer steeds welkom.Foto’s: IAN DU TOIT

Die komende Erfenisdag is nog ’n rede om jou vernuf met die kultuurgebak op te skerp, die kirts-kras van die kaneelsuiker tussen die tande.

Hierdie sirkeltjie trooskos, opgerol, plat of gevul, is kultuurkos vir die mensdom.

Volgens Ken Albala, geskiedenisprofessor en skrywer van Pancake, a Global History, is die eerste oerpannekoek waarskynlik op ’n warm, ghriesbesmeerde klip gebak deur ’n afgeremde Neolitiese huiskok.

Hy beskryf die oomblik: “in a flash of insight she pours a blob from the dreary pot of gruel onto a brazen shield resting over the fire, resulting in a crisp, yet pliable disc, fluffy and evanescent, yet substantial and filling: the prototype of every civilized pancake in its wake.”

Deur die eeue is pannekoek as te eenvoudig gesien om as resep neergeskryf te word. (Resepte was neergeskryf wanneer duur bestanddele gebruik is of die metode ingewikkeld was.)

Hierdie sirkeltjie trooskos, opgerol, plat of gevul, is kultuurkos vir die mensdom.

In Apicius se Latynse kookboek verskyn ’n antieke resep vir ’n amper-pannekoek van eier en melk. Dis gebak in ’n dun pannetjie, uitgekeer en bedien met heuning en peper; maar sonder meel was dit meer omelette as pannekoek.

Die naam het eers in die laat Middeleeue ontstaan, maar selfs dan was jy nie seker of dit soos vandag se pannekoek was nie, want “pan” + “koek” kon na ander dinge ook verwys.

Selfs die eerste Franse crêpes was diepgebraaide poffertjies wat later in dun ronde pannekoek sou ontwikkel. Kosgeskiedkundiges volg die pannekoekpad ook deur crispelli, obelias, de crispis, crispellas en selfs wafels.

Al het resepte in die Middeleeue ontbreek is allerhande variasies gemaak soos pannekoek gegeur met naeltjies, kaneel, foelie en sout.

Die kok is toe reeds gemaan dat melk of room in die beslag die pannekoek sou taai maak.

Albala gee die Nederlanders die eer vir die moderne pannekoek: In die Verstandige Kock verskyn drie pannekoekresepte: “vyf eiers opgeklits met lopende water, gegeur met naeltjies, kaneel, foelie, sout en die beste gehalte meel”.

Dis toe al met suiker besprinkel.

Hollandse skilderye uit die 17de eeu het ook heelwat huishoudelike pannekoekbak-tonele uitgebeeld.

Die Britte se pannekoek-kultuur is veral in die 18de eeu bevorder met Hannah Glasse in The Art of Cookery. Teen die 19de eeu was pannekoeke so gewild in Brittanje dat koningin Victoria se sjef ook pannekoek gebak het.

  • Errieda du Toit is die skrywer van Tuistafel. Volg haar kosblog by Huiskok.com en op Twitter @Huiskok.

Puik pannekoekwenke

  • Die beslag moet die dikte van dik room hê. Dunner beslag werk goed as jy die pannekoek gaan vul.
  • Kenners glo die geheim is om ’n handklitser of ballonklitser te gebruik, nie ’n elektriese klitser nie
  • Vir veerligte pannekoeke vou geklitse eierwitte aan die einde by die beslag.
  • Om ’n nuwe pannekoekpan in te wy, kook dit vir ’n paar minute met asyn en sout. Vee uit met ’n lap.
  • Dis makliker om pannekoek te flick met ’n dun, ligte pan.
  • Maak eers die pan warm voordat jy olie of smeer byvoeg.
  • Die pannekoek sal vassit as die pan nie warm genoeg is nie. Toets of dit reg is met ’n druppel water. As die druppel nie beweeg nie is die pan te koud; as dit dadelik verdamp is dit te warm.
  • Draai dit om wanneer die rand begin omkrul en die bokant borreltjies begin maak.
  • Die beslag hou tot ’n week in die yskas. Roer goed voor gebruik.
  • Die beslag vries goed. Ontdooi teen kamertemperatuur, roer dit goed en voeg ’n bietjie water by as dit te dik is.
  • Bestrooi die pan ná gebruik met growwe sout terwyl dit nog warm is, vee uit en bêre dit onderstebo.

Pannekoek vir jou wenslys

Pannekoek-variasies is wêreldwyd gewilde straatkos en te koop in stegies, op sypaadjies en by straatmarkies. Hier is ’n paar wat jy moet probeer.

  • Socca, pannekoeke van keker­etjiemeel, word al langs die Mediterreense kus in die opelug verkoop.
  • In Sentraal- en Suid-Amerika is mieliemeel-pannekoeke gewilde straatkos. Kyk uit vir arepa in Colombië en Mexiko se gorditas.
  • Funkaso uit Wes-Afrika word van giers (millet) gemaak, terwyl injera, gefermenteerde groot pannekoek uit Ethiopië en Somalië, se groot rysgate dit soos ’n maanlandskap laat lyk.
  • Die Filippyne eet klein pannekoekies (hotcakes) vir ontbyt met botter en kondensmelk.
  • In Indonesië word die pannekoeke (serabi) met rysmeel en klappermelk gemaak.
  • Die Amerikaners se kantagtige funnel cake-pannekoeke is gewilde kermiskos wat in diepvet gebraai en met versiersuiker besprinkel word.
  • Die Franse se crêpes en sout bokwiet-pannekoeke (galette) klink wel deftig, maar het as werkerskos ontstaan.

Dié pannekoek is spogkos

Crêpe Suzette is pannekoek haute cuisine.

Volgens legende het die deftige restaurant-pannekoek sy naam gekry nadat ’n lomp kelner die prins van Wallis bedien het, maar die pannekoeksous aan die brand gesteek het in plaas van die drankie.

Die prins het voorgestel dat die konkoksie vernoem word na Suzette, ’n gas aan sy tafel ten tye van die heerlike glips.

    Meer oor:  Errieda Du Toit  |  Pannekoek
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.