Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Kostelik:
Perskes saam met enigiets
Dis ewe lekker vir ontbyt, in slaai of as nagereg

In my blou delftbak lê die blosende perskes in die somerson. Die benewelde perskeparfuum druk my hart so styf dat die trane oor my wange rol. Ek verlang na pa Coen en ons sonsondergang-stappies deur sy perskeboomlaning. Groot Oom Sarels is gepluk, met sy groot hande teen sy hemp skoongevryf, en my kindermond sal nooit die sappigste soet smaak van volkome vaderliefde en perske vergeet nie. Ma het van die groot geel taaipitperskes en blink rooi kaalgatperskes (soos nektariens vir ons bekend ingelê, konfyt gemaak en gevries, maar die meeste is net daar en dan deur ons geëet.

Die soet en sout van die perske en spek rond mekaar af.
Maak ’n slaai met perskes en mozzarella.
Begin jou dag met ’n perske-skommeldrankie. Foto:

Tien maklike idees met perskes

1. Ontbyt: Vir ’n heerlike ontbytbederf pak lae gesnyde perskes en aarbeie of bloubessies met dubbelroomjogurt en krakerige granola.

2. Perske-en-spekhappie: Ek is baie lief vir die kombinasie van soet en sout – draai perskekwarte met spek of parmaham toe. Rooster in oond totdat die spek gaar en goudkleurig is. Eet dit net so of bedien met ’n korrelmosterdslaaisous en vars kruie soos basiliekruid.

3. Hoender en perskes: Die kombinasie van hoender met komyn, koljander en balsamiese reduksie is heerlik saam met perskes en bessies. Probeer dit gerus.

4. Mozzarella-en-perskeslaai: Sny perskes in kwarte en maak slaai met roketblare en mozzarella en bedien met balsamiese reduksie of slaaisous van jou keuse.

5. Vrugtekebabslaai: Ryg gesnyde perskes saam met aarbeie, bessies en fetakaas op kebabstokkies. Drup bietjie slaaisous oor en rond af met bietjie papawersaad.

6. Perske-meringue: Week gesnyde perskes in sjampanje of vonkeldruiwesap. Dreineer en meng met frambose of bloubessies. Pak lae tussen fyngemaakte meringue en versoete room.

7. Gebakte perskekrummels: Plaas gehalveerde perskes op ’n bakplaat. Meng 250 ml meel, 160 ml ligte bruinsuiker, 2 ml kaneel en 80 ml gesmelte botter tot krummeltekstuur en strooi dit oor die perskehalwes. Bak teen 180 °C tot sag, goudkleurig en bros. Sit voor met room, roomys of vla.

8. Perske-galette: ’n Galette beïndruk my gaste keer op keer – en saam met ’n skeppie roomys is dit hemels.

9. Vir ’n heerlike perske-skommeldrankie: Maal perskes tot ’n puree en meng met bietjie melk, dubbelroomjogurt en heuning.

10. Coen se gunsteling was ma Babs se bevrore perskes. Een ding wat ek by my ma geleer het, is om nooit perskes te skil nie. Sy het perskes in agtstes gesny, dit met bietjie suurlemoensap bygekom, suiker oor gestrooi en dit in Tupperware gevries. Dit is dan later ontvries en saam met roomys bedien. Die suiker en sap van die perske vorm ’n heerlike perskestroop, en saam met roomys kon my liewe Pa Coen nie genoeg hiervan kry nie.

Groete uit my kombuis,

Anél

anelpot@gmail.com

Gebraaide hoender en perskes

Braai ’n hoenderborsie op die kole en bedien dit saam met ’n perskeslaai. Foto:

(Resep: Anél Potgieter)

Hoenderbestanddele

6 ontbeende hoenderborsies, sonder vel

15 ml komyn

10 ml gemaalde koljander

5 ml gerookte paprika (opsioneel)

2,5 ml sout

2,5 ml varsgemaalde swartpeper

15 ml olyfolie

30 ml balsamiese reduksie

Slaaibestanddele

perskes

roketblare

fetakaas

bloubessies

balsamiese reduksie (of slaaisous van jou keuse)

Sit elke hoenderborsie tussen kleefplastiek en kap dit effens platter met ’n koekroller of vleishamer. Meng die komyn, koljander, paprika, sout en peper saam. Vryf elke hoenderborsie goed daarmee in. Bedruip met olyfolie en vryf dit ook goed in.

Braai die hoender oor matige kole. Wees versigtig om dit nie te lank te braai nie, anders sal dit droog wees. Sodra die hoender van die vuur afgehaal word, verf balsamiese reduksie daaroor en laat staan vir ’n paar minute. Pak slaaibestanddele en hoender op ’n bord en rond af met slaaisous van jou keuse.

Perske-galette

’n Perske-galette sal jou gaste beïndruk. Foto’s: iStock

(Resep: Anél Potgieter)

Bedien 8

Vir die deeg

210 g koekmeel

15 ml suiker

knippie sout

115 g koue gesoute botter, in blokkies gesny

90 ml yswater

eierwit, liggies met vurk geklits

Vir die vulsel

600 g ontpitte perskes, in agtstes gesny

15 ml suurlemoensap

130 g bruinsuiker (jy kan gewone suiker ook gebruik)

25 ml mielieblom

30 ml botter, gesmelt

30 ml suiker, om galette af te rond

Deeg: Meng die meel, suiker en sout in ’n voedselverwerker. Voeg die koue botter by en meng tot die botterstukke soos groot ertjies lyk.

Haal uit voedselverwerker en gooi die meelmengsel in ’n mengbak. Roer die yswater by en meng totdat die deeg net bymekaarkom.

Maak ’n mooi ronde bal, bedek met kleefplastiek en laat rus in die yskas vir minstens 30 minute.

Vulsel: Plaas perskes in ’n mengbak en gooi die suurlemoensap oor. Skep die suiker en mielieblom bo-op en meng deur.

Bak: Voorverhit die oond tot 200 °C en berei ’n gesmeerde tertbak voor. Rol die deeg uit en plaas in tertbak – moenie die kante afsny nie.

Verf nou die eierwit oor die deeg. Dit verhoed dat die vrugtesappe die deeg nat maak. Skep perskes in die tertdeeg. Vou die rande van die deeg op en oor die vrugtevulsel. Dit gaan nie heeltemal toevou nie. Verf die deeg met gesmelte botter en strooi die suiker oor die deeg. Bak die galette vir so 35 tot 45 minute totdat die vulsel gaar en die kors goudbruin is.

Bediening: Bedien met room of roomys.

Hoe om ’n perske ryp te maak

Die beste manier om ’n perske ryp te maak, is om dit in die vrugtebak te los. Om die rypwording van die vrugte aan te help, plaas dit in ’n papiersak met ’n appel of piesang; die etileengas wat deur die vrugte afgegee word, versnel die rypwordproses.

Plaas die perske in die yskas om die rypwording te vertraag

Hoe om die pit uit te haal

Sny die perske langs die naat deur die vrug tot by die pit. Draai dan die twee helftes van die perske in teenoorgestelde rigtings. Trek die helftes uitmekaar en verwyder die pit.

Vir meer inligting oor perskes, besoek www.juicydelicious.co.za.

Meer oor:  Anél Potgieter  |  Kostelik  |  Kos  |  Resepte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.