Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Pinot noir: ’n Hartebrekerwyn

Vir Winifred Bowman is pinot noir ’n ware casanova.

Praat met enige wynmaker wat met pinot noir werk en jy sal hoor dis een van die moeilikste druifsoorte om mee te werk – werklik ’n hartebreker.

Van die redes hiervoor is dat dit alreeds ’n baie sensitiewe druifsoort is, dit word nie maklik verplaas nie, moeilik om te verbou, en selfs al is die druiwe van uitstekende gehalte, is dit nog steeds moeilik om daardie gehalte in die kelder te behou. Boonop, met die baie dun skil, is pinot noir ook ’n maklike teiken vir wingerdsiektes en peste, sowel as sonbrand tydens baie warm somers.

Ten spyte van alles is dit steeds een van die gesogste en opwindendste wyne ter wêreld.

Die Britse wynkenner Jamie Goode skryf dat ’n wyn soos cabernet sauvignon ’n baie serebrale wyn is, terwyl pinot noir meer plesier laer in die lyf gee! Pinot noir is elegant, praat saggies, dog ferm en is lig, statig en net plein sexy.

Pinot noir se oeroue tuiste is in Boergonje, Frankryk waar al die bekendste wynname hulle oorsprong het. Dis is ook een van die oudste edel druifsoorte, en is al in 1375 in skrifte gevind, maar bewyse van pinot noir strek ver terug na die Romeinse era om en by 100 vC.

Die unieke terroir van Boergonje toon dat die gehalte en smaak van pinot noir ook baie maklik kan verskil. Die gehalte van Boergonje pinot noir-wyne is grotendeels afhanklik van die spesifieke wingerdkarakter. Die Franse neem hierdie feit baie ernstig op en die terroir word tot die laaste sentimeter afgebaken.

Vir die laaste paar dekades het pinot noir ook al hoe meer sy voete in die Nuwe Wêreld van wyn gevind – veral in Suid-Afrika, die nou bekende sentrale Otago-distrik in Nieu-Seeland en natuurlik baie opwindende wyne van die Mornington-skiereiland in Australië.

Wynliefhebbers het agtergekom dat gehalte pinot noir ook in ander dele van die wêreld gemaak kan word. Dit word deels toegeskryf aan beter kloonmateriaal, asook noukeurige aandag aan die terroir waar die wingerd aangeplant word, en natuurlik die hantering van die druiwe in die kelder self.

Suid-Afrika staan nie terug nie – in die 2018-uitgawe van Platter’s South African Wine Guide word meer as 250 verskillende pinot noir-wyne beskryf.

Wat sê die kenners?

Charles Hopkins van De Grendel is ’n groot liefhebber van pinot noir en sê die volgende: “Die druifsoort is tans 1,3% van die aanplantings in SA (1 182 ha). Volgens my moet pinot noir in meer kontinentale groeitoestande groei – hoog geleë wingerde waar stadige rypwording plaasvind. Ons pinot noir groei 960 m bo seevlak op die Ceres-plato en dit vergelyk klimaatsgewys baie goed met die beste pinot noirstreke ter wêreld. Vir my gaan dit oor sagte hantering en so min moontlik byvoegings.

“Ek is van mening ons sal nie sommer Burgundy kan namaak met ons wyne nie, maar moet fokus ons eie styl in Suid-Afrika. Vir my gaan pinot noir oor uitdrukking van die area, grond en klimaat. Dit moet skoon wees nie met snaakse funky wangeure nie – sagte rooivrug, framboos met ’n bietjie aardsheid en ook ligte parfuum-eienskappe wat soepel eindig met ’n volronde nasmaak”.

Andries Burger van Paul Cluver in Elgin glo dat hulle ’n groot voordeel het omdat hulle in een van die koelste wingerdboustreke in Suid-Afrika is. “Ons is ook uniek in die sin dat ons van die laagste nagtemperature in vergelyking met ander streke het – dit lei tot goeie geur- en kleurontwikkeling. Ek maak al 21 jaar wyn hier en het oor die jare waardevolle kennis oor die wingerde en die eienskappe van elke wingerd opgedoen. Dit stel my in staat om die beste versnit van verskillende wingerde in die bottel te sit. Goeie pinot noir het suiwer vruguitdrukking, ’n ferm, uitstekende balans en die belangrikste, dit moet ’n vertoonvenster vir elegansie wees.”

Lourens van der Riet van De Krans in Calitzdorp dink dat die streek van oorsprong pinot noir grotendeels uniek maak. “Ons druiwe sit baie hoog teen die noordelike helling van die Outeniekwaberge, rofweg so 650 m bo seevlak, maar soos die kraai of seevoël vlieg, is dit minder as 10 km van die kus. Die hoogte en afstand van die see veroorsaak dat die temperature tydens rypwording baie meer matig bly en vinniger afkoel in die namiddag. Die koue suidewind vanuit die see veroorsaak ook baie meer reën vir hierdie streek as enige ander gebied in die Klein-Karoo. Die Outeniekwaberge is ook deel van die Kaapse Plooiberge en bestaan grotendeels uit sandsteen. Die goedgedreineerde grond en koue toestande bied die regte omstandighede om goeie gehalte pinot noir van hierdie streek af te produseer.”

JC Martin van Creation sê dat grond met ’n hoë klei-inhoud die verlangde struktuur aan die wyne gee: “Die grond op Creation (Hemel-en-Aarde-vallei) bevat sekere minerale wat die pH-vlak van die wyn beheer. Die klei van die grond het goeie waterhoudende kapasiteit, so ons hoef byna nooit besproeiing te gebruik nie. Ons gebruik ook net virusvrye pinot noir-klone (Dijon 115 en 777) vir hul aanklank met die terroir. Vir my is die maak van gehalte pinot noir ’n toets vir elke wynmaker.”

Abraham de Klerk van Baleia Bay: “In baie gevalle kan pinot noir beskryf word as die werklike toets van karakter. Dié druifsoort duld nooit verveeldheid nie, het geen genade vir die swakkes nie en is die uiterse uitdrukking van terroir: dit is die vasvang van die makro- en mesoklimaat deur die wortels van die plant, gelei deur die menslike hand. Die uitdaging en droom om deel te wees van hierdie skepping dring deur tot die wese van die wynmaker. Dis hier waar die suiwer geure, getrou aan die hart van die grond en klimaat tot stand kom – lewe en nalatenskap.”

Winnie se keuses

Balance

Balance Pinot Noir 2017 (R67): ’n Mondvol vars kersie- en speserygeure – vrolik, vars en sakpas.

  • Sagte rooi bessies, rooibostee en sagte speserygeure sal mens elke keer verlei!
Lourensford

Lourensford The Dome Pinot Noir 2016 (R135): Sysag met vars kersie- en subtiele nat biltonggeure en ’n speserynasmaak.

  • Helder robynkleur met hope vars bessie- en gedroogte kruiegeure – ’n wenner.
  • Sag en soepel met bessie- en nat woudgeure. Smaaklik, gemaak vir sampioenrisotto.
De Grendel

De Grendel Op die Berg Pinot Noir 2015 (R190): Framboos-, naeltjie- en fynbosgeure – elegant en perfek vir geroosterde eendbors met ’n kersiesous.

  • Delikate kersie-, salie- en tiemiegeure met volronde smaak. Lekker met Sondaghoender en al die bykosse.
  • Uitstaande wyn met diep robynkleur, fluweelsag in die mond met donker bessie- en gemarineerde kersiegeure.
  • Sagte pienk met fyn, lui borreltjies wat soos aarbei- spookasem in die mond smelt. Vrugtig en reg vir ’n viering.
  • Dis ’n simfonie van rooi bessiegeure, sagte vanielje, sweempies neutmuskaat en ’n volronde smaak – gemaak om jare se plesier te verskaf.
Meer oor:  Kos En Wyn  |  Kultivar  |  Pinot Noir
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.