Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Pinotage in versnitte bly ’n wenner

Met pinotage as die oorhoofse komponent is die Kaapse versnitte van die Perold Absa Cape Blend-kompetisie nie net eg Suid-Afrikaans nie, maar ook vyf unieke kombinasies.

Die toekennings­geleentheid is verlede Donderdag op ’n spoggeleentheid by die Lanzerac-wynlandgoed in Stellenbosch aangebied. Dit is die kompetisie se agtste jaar.

Volgens die reëls moet pino­tage die sleutelkomponent in die versnitte wees – dit moet minstens 30% en nie meer nie as 70% van elke wyn uitmaak.

51 wyne het vanjaar meegeding vir ’n plek onder die voorste vyf.

Die beoordelaars was Jacques Roux (hoof van die paneel en bemarkingsbestuurder van DGB), Fred Viljoen (Viljoensdrift), Johan Malan (Simonsig), Susan Erasmus (Laffort), Brad Gold (Kaapse Wynmeester) en Guy Webber (Stellenzicht).

Vanjaar se wenners van die Cape Blend. Van links is Adri Esterhuyse (Absa), Louwritz Louw (KWV), Dewald Huisamen (Pulpit Rock), Vian Bester (Leipzig), Danie van Tonder (Lyngrove), Braam Gericke (Wildekrans), Beyers Truter en Anthony Ayling (Absa).

De Wet Viljoen, ondervoorsitter van die Pinotage Assosiasie, sê die kompetisie is ’n bewys van die blink toekoms van Kaapse versnitte. Volgens hom was vanjaar se inskrywings van hoë gehalte en het die wyne balans, elegansie en struktuur getoon wat die wyne tydens veroudering sal saamdra.

“Die finaliste ken van wynmaak,” sê Beyers Truter, voorsitter van die Pinotage Assosiasie. “Jy kan elke komponent in die wyne proe.”

Hy sê die finaliste is almal uitstekende wyne wat vir geen ander wyn in die wêreld terugstaan nie.

“Die wyn in my glas – wenner of net ’n finalis – is die beste Kaapse versnit,” sê Truter.

Meer oor die wenwyne

Vanjaar het finaliste weer eens uit ’n verskeidenheid van Suid-Afrikaanse wynstreke gekom – ’n bewys dat pinotage ’n belangrike rol as versnitkomponent oral in die land speel.

Vanjaar het die 2014-oesjaar veral uitgestaan as ’n goeie jaar, want twee van die vyf wenners kom uit dié jaar. Al vyf die wenwyne het ook cabernet sauvignon as versnitkomponent gehad.

Lyngrove het sy tweede trofee in die afgelope ruk ontvang nadat hy ook ’n Absa Top 10 Pinotage-trofee ontvang het.

Daar was vanjaar drie wenners in die Pinotage Rosé-kompetisie. Van links staan Adri Esterhuyse (Absa), André Scriven (Rooiberg), Janette van Lill (Asara), Michiel du Toit (Landskroon), Beyers Truter en Anthony Ayling (Absa).

Die beste Kaapse versnitte

  • KWV Abraham Perold Tributum 2014 van die wynmaker Louwritz Louw (Wyn van Oorsprong kusstreek: shiraz, pinotage, malbec, cabernet sauvignon en petit sirah)
  • Leipzig Master Blend 2017van die wynmaker Vian Bester (WO Wes-Kaap: pinotage, merlot, cabernet sauvignon, cabernet franc en petit verdot)
  • Lyngrove Platinum Latitude 2016 van die wynmaker Danie van Tonder (WO Stellenbosch: cabernet sauvignon, pinotage en shiraz)
  • Pulpit Rock Louisa Reserve 2014 van die wynmaker Dewald Huisamen (WO Swartland: pinotage, cabernet sauvignon, shiraz en petit verdot)
  • Wildekrans Cape Blend Barrel Select Reserve 2015 van die wynmaker Braam Gericke (WO Botrivier: pinotage, shiraz, cabernet sauvignon en pinot noir)

Ander finaliste

  • Anura Signature Cape Cuveé 2015 van die wynmaker Stander Mass (WO Paarl: pinotage, cabernet sauvignon en shiraz)
  • Beyerskloof Faith 2015 van die wynmaker Anri Truter (WO Stellenbosch: pinotage, cabernet sauvignon en merlot)
  • Blake’s Amethyst 2016 van die wynmaker Christoph Blake (WO Swartland: pinotage, cabernet sauvignon, shiraz en petit verdot)
  • Pulpit Rock Louisa Reserve 2015 van die wynmaker Dewald Huisamen (WO Swartland: pinotage, shiraz en petit verdot)
  • Wellington Wines La Cave Cape Blend 2016 van die wynmaker Francois van Niekerk (WO Wellington: pinotage, cabernet sauvignon en shiraz)

Die wenners van die Pinotage Rosé-kompetisie is ook Donderdag op die toekenningseremonie aangekondig. Produsente vanuit Suid-Afrika se grootste wynproduserende gebiede het almal meegeding vir die Award of Excellence, wat die top­inskrywings vereer.

“Ons is verheug oor hierdie byvoeging tot die pinotagekompetisies wat fokus op die verskillende vorme van pinotage,” sê De Wet Viljoen.

Volgens hom is vanjaar se wen­roséwyne vars en ook van uitsonderlike gehalte.

Die beoordelaars was Guy Webber (sameroeper), Johan Malan, Fred Viljoen, Susan Erasmus, Brad Gold en Jacques Roux.

Topdrie-roséwyne

  • Asara Vineyard Collection Pino­tage Rosé 2018 van die wynmaker Johan Joubert (WO Stellenbosch)
  • Landskroon Blanc de Noir Pino­tage Off Dry Rosé 2018 van die wynmaker Michiel du Toit (WO Paarl)
  • Rooiberg Winery Pinotage Rosé 2018 van wynmaker die André Scriven (WO Robertson)
Duimpie Bayly en Beyers Truter by die toekenningseremonie.

Op die Cape Blend-toekennings­geleentheid is ook eervolle vermelding gegee aan Duimpie Bayly vir sy uitsonderlike bydrae tot die uitbouing van pinotage.

“Duimpie, jy kan nie uit die bedryf bedank nie, jy ís die bedryf,” het Beyers Truter gesê.

Bayly, wat ’n lid van die Pinotagevereniging is, is al meer as ’n halfeeu deel van die wynbedryf. Hy was onder meer ’n direkteur by Distell, president van die Kaap van Goeie Hoop-landbouvereniging (Agri-Expo), voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Nasionale Wynskouvereniging, wynman van die jaar in 1999, en het ’n rol daarin gespeel om die Instituut vir Druif- en Wynstudies te vestig. Hy is ook die onafhanklike voorsitter van die Cape Vintner Classification (CVC).

  • Lees volgende week meer oor Bayly in ’n volledige onderhoud in Versnit.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.