Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Pinotage ná 50 j. steeds koning

Om 50 jaar van pinotage-produksie te vier, neem Meerendal vanjaar hul liefde vir dié druifsoort selfs verder.

Innovasie kraai koning by hierdie Durbanville-wynlandgoed, ook een van die oudstes in die land, met hul nuwe The Pinotage Vine – ’n bekende druifsoort op die plaas, maar met ’n kinkel geproduseer.

The Pinotage Vine. Foto: Verskaf

The Pinotage Vine is onlangs op die plaas se feesgeleentheid bekend gestel om die 50 jaar wat hulle pinotage maak, te vier.

Dié wyn is die meesterstuk van die keldermeester Liza Goodwin en behels ’n driedubbele gisting.

Die 2016-oesjaar-pinotage is verlede jaar ná 11 maande in houtvate aan die vars doppe van die 2018-erfenis-druiwe blootgestel vir dopkontak.

Daarna is die wyn vir nog sewe maande in klein Franse eikehoutvate verouder voor dit gebottel is.

Die driedubbele gisting verwys na die aanvanklike alkoholiese gisting, wat gevolg is deur die normale appelmelksuurgisting waardeur die meeste rooiwyne gaan. Die vars doppe het nog ’n titsel suiker oorgehad toe dit by die 2016-wyn bygevoeg is en daar was dus ’n stadige derde alkoholiese gisting.

Dit het min aan die alkoholvlak verander, maar ’n nuwe dimensie van geure tot die wyn bygedra.

Dié wyn spog met heerlike geure van donker vrug en sagte hout wat dit terselfdertyd volrond én elegant maak.

Hierdie innoverende wyn móét jy uittoets.

50 jaar later

Op Meerendal se halfeeuvieringe is ’n vertikale wynproe aangebied wat begin het by die landgoed se heel eerste Meerendal Pinotage van die 1969-oesjaar.

Wat die proe van dié oesjaar en ander soos 1974, 1982, 2005 en vele meer interessant gemaak het, is die feit dat die wyne se kwaliteit en verouderingspotensiaal deurgaans geproe kon word.

Die wynlandgoed se trotse geskiedenis van 50 jaar van pino­tage produseer word versterk deur die feit dat die wyne ononderbroke, vandat die eerste wyn in 1969 gebottel is, plaaslik en oorsee verkoop is.

Boonop het hulle van die oudste wingerde in Durbanville, met die pinotage-erfenis-wingerd wat in 1955 geplant is – dus die vierde oudste pinotage-wingerd in die land.

Meerendal het ook aangekondig dat ’n projek saam met Vititec, Suid-Afrika se leier op die gebied van die verbetering van wingerdplantmateriaal, aangepak is om van die beste stokke in die erfenisblok-wingerd te identifiseer en dan deur middel van ’n proses die plantmateriaal skoon te maak van virusse.

Daarna sal hulle die virusvrye materiaal gebruik om oop gedeeltes in die ou blok te herplant.

  • Meerendal is heelweek oop vir wynproeë en jy kan by een van hul drie restaurante aansluit vir ete.
Meer oor:  Meerendal  |  Herdenking  |  Kos En Wyn  |  The Pinotage Vine  |  Pinotage
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.