Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Kostelik:
Pluk jou eie sampioene

Wat is nou lekkerder as botter-gebraaide sampioene op ’n snytjie roosterbrood, sampioenrisotto met ’n titseltjie gebrande botter, knoffelsampioenkebabs of romerige sampioensous op ’n stukkie medium-rou filet? Lekker man!

Laat ek julle vertel, wildesampioene smaak nóg beter! As jy ’n fungiliefhebber en -geesdriftige soos ek is, is die Field Guide to Mushrooms & other Fungi of South Africa, geskryf deur Gary Goldman en Marieka Gryzenhout, net die boek vir jou.

Gary Goldman – SA se sampioenkenner

Saam met soet-suur sous en sitrusslaai is dit lekker – en boonop volhoubaar

Gary kén sy fungi en almal ken hom as die sampioenfoendi. Sy bobaaskennis van die geheimsinnige wêreld van sampioene is iets om te beleef. Gary neem mense uit op wildesampioensoektogte in die Kaapse woude, leer jou oor dié wonderwêreld en wys uit wat giftig is en wat jy kan eet.

Jy kry honderde verskillende sampioene in ’n verskeidenheid vorms, groottes en kleure, en dit kan moeilik wees om elkeen te identifiseer. Die kompakte, pragtig geïllustreerde gids is die perfekte hulpmiddel. Dit bevat 200 van die kenmerkendste spesies wat hier voorkom. Elke spesie het ’n duidelike beskrywing en foto’s om dit akkuraat te identifiseer. Die verspreiding, ekologie, grootte, eetbaarheid, giftigheid en ander feite word gegee. Daar is ook riglyne vir die uithaal en fotografie van sampioene en ’n paar heerlike resepte.

Drie eetbare wildesampioene

Kep (porcini), melksampioen (pine ring) en veldsampioen (field mushroom) kan maklik uitgeken word en smaak vorentoe.

Drie giftige wildesampioene.

Wees op die uitkyk vir die gifbeker (death cap), tiersampioen (panther) en gesteelde krulsoom (brown roll-rim).

So, as jy lus is vir ’n sampioensnuffel­ekspedisie, kontak Gary of koop die boek – trek dan jou stapstewels aan en verken die misterieuse wêreld van dié lekkerny.

Groete uit my kombuis

Anél

anelpot@gmail.com

Knoffelsampioen-kebabs

Sampioene is heerlik gaargemaak soos kebabs. Foto: iStock

(Resep uit: Field Guide to Mushrooms & Other Fungi of South Africa)

Maak 6

1 kg verskillende wildesampioene (smaak ook lekker met gekoopte sampioene)

Marinade:

30 ml balsamiese asyn

30 ml olyfolie

3 knoffelhuisies, in die lengte gesny

15 ml vars oreganum, gekap

15 ml vars basiliekruid, gekap

growwe sout en swartpeper na smaak

15 ml gekapte pietersielie (of ander vars kruie van jou keuse)

Meng die balsamiese asyn, olyfolie, knoffel, oreganum en basiliekruid saam in ’n groot bak. Geur na smaak met sout en peper.

Meng die sampioene by en laat staan vir 10-15 minute om te marineer. Verhit intussen ’n swaarboompan – nie te warm nie. Ryg die sampioene op die kebabstokkie, afgewissel met die stukkies knoffel. Bedruip met van die marinadesous.

Giet ’n bietjie olyfolie in die pan en braai die kebabs liggies en stadig, draai gereeld om tot bruin aan alle kante. Sit dadelik voor, met gekapte pietersielie of ander vars kruie.

Sampioenbiltong

(Resep: Zayaan Khan)

Ek het anderdag vir die eerste keer my kosvriendin Zayaan Khan se lekker sampioenbiltong geproe. Dit word in ’n gewone oond teen ongeveer 50 °C gedehidreer, maar Zayaan het ook ’n ander meer praktiese manier: “As die son lekker skyn, maak jou kar se vensters toe, plaas sampioene op ’n bakplaat en dan op jou kar se paneelbord.” Dit is hoekom ek so baie van jou hou, Zayaan!

450-500 g groot bruin sampioene, in die lengte gesny

Marinade

300 ml asyn (enige asyn)

75 ml blatjang

30 ml Worcestershiresous of HP-sous

30 ml sojasous of 1 t sout

30 ml knoffelpoeier

30 ml uiepoeier

15 ml fyn gemmer

5 ml koljandersaad

15 ml rissievlokkies (ek gebruik gerookte rissievlokkies) of peri-peri

Sampioene: Stoom sampioene vir 10 minute, laat dit dan nog 10 minute in ’n sif lê om die oortollige water te dreineer.

Marinade: Meng al die bestanddele saam.

Biltong: Roer die sampioene by die marinade in en laat dit oornag of vir minstens 5 uur marineer. Verwyder een vir een met ’n vurk en dehidreer oornag teen 50 °C in oond. Sorg dat dit nie te droog word nie, maar meer soos die tekstuur van klam biltong proe.

Foto:

Wen

Field Guide to Mushrooms & other Fungi of South Africa word uitgegee deur Penguin Random House en kos R350. Een leser kan ’n eksemplaar wen. SMS die woord “sampioen” met jou naam en adres na 34581. Sluitingsdatum: 13 September 2019

Meer oor:  Resepte  |  Sampioene  |  Kostelik
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.