Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Probeer dié 10 lekker wynproeë
Die pasteitjie-en-wyn-proe by Imbuko verras, veral diegene wat ’n bietjie meer lyf by ’n proe verwag.

Wynproe is nie net vir die kenners nie. Inteendeel, daar is soveel plase wat soveel interessante proeë aanbied om wyn juis minder intimiderend te maak. Hier is ’n paar idees, skryf Maryke Roberts.

1.De Krans

Dít is nou iets wat ’n mens in die Klein-Karoo op De Krans by Calitzdorp kan ervaar. Hierdie besonderse kombinasie is die geesteskind van die wyn- en kosliefhebber De­nise Lindley, wat een middag De Krans Moscato in De Krans Bistro geproe het.

Boets Nel, eienaar van De Krans het my vertel: “Dit het haar herinner aan ’n restaurant, Galuppi, op die eiland Burano waar sy – ná ’n heerlike seekosrisotto – deur haar kelner oorreed is om die Vin Santo met Burano-biscotti te geniet.”

Sy het vir Nel en die glanssjef Francois Ferreira daarvan vertel. Ferreira het resepte begin uitwerk om biscotti te bak wat van De Krans se wyne en portstyl-wyne kon komplementeer.

Die uiteinde is iets unieks vir Suid-Afrika.

Daar is onder meer ’n pi­no­tage rosé met ’n kruie-biscotti; touriga nacional met biltong-biscotti; en allspice-sjokolade-biscotti met stukkies sjokolade in wat saam met ’n sopie van hul Cape Vintage opgedien word.

Kontak: 044 213 3314

Prys: R50 per persoon

Stellenbosch Hills, die vader van die biltong-en-wyn-proe.

2.Imbuko

Die proe by Imbuko-wyne op die plaas Uitkyk by Wellington staan ook uit. Die aanbieding, deur Elsabé du Plessis behartig, is besonders. Sy vertel ook van haar reeks konfyte en boegoeprodukte wat daar gemaak word.

Die Van Zyl-chardonnay-viognier-versnit word met ’n Kaaps-Maleise hoenderkerrie-pasteitjie aangebied; die Van Zyl-cabernet sauvignon met ’n lamskerrie-pasteitjie; die Van Zyl-pinotage met die stadig geroosterde wildsvleispasteitjie; en die Van Zyl-shiraz-mourverdre-versnit met ’n biltongpasteitjie.

Tussendeur skep jy lepeltjiesvol van Du Plessis se tuisgemaakte pinotage-blatjang op jou pasteitjies om die wyne se geure nóg meer te verdiep. Haar humor is vlymskerp.

Kontak: 021 873 7350

Prys: R70 per persoon

3.Nuy

By Nuy on the Hill was daar ’n wyn-en-brandewyn-proe met fudge – kombinasies vir die suikertand soos die semisoet muscat-vonkel saam met malvafudge; die Chant de Nuit droë wit met klewerige gemmerfudge; die Koffiepit-pinotage met whiskey-en-koffie-fudge; en die wit muskadel met pepermentfudge.

Die fudgeporsies is ruim en word deur Fudge­master in George­ gemaak.

Kontak: 023 347 0272

Prys: R65 per persoon

4. Viljoensdrift

Een van my gunsteling-wynproeë op die water is dié van Viljoensdrift buite Robertson. Besoekers kan op ’n boot vaar terwyl hulle op die dek ’n piekniek geniet. Dis nie ’n formele affêre nie. Nadat jy in die proelokaal die plaas se wyne geproe het, koop jy ’n gunsteling of twee en geniet dit saam met voorslag- koue vleis, kaas en varsgebakte brood terwyl jy die windjie in jou hare voel en die boot rustig deur die water klief.

Kontak: 023 615 1901

Zandvliet bied ’n sitrus-en-wyn-proe aan – anders en besonders.

5.Benguela

My ander gunsteling- “water-proe” lê Tuinroete se kant toe by die Lake­side Lodge­ en spa op die Swartvlei buite Sedgefield. Dié luukse gastehuis is deel van die Benguela Cove-versameling, en ’n vriendelike Karl Pietersen sal al die wyne, glase en kombersies na die bootjie vir ’n proe op die meer aandra.

Jy proe die Walker Bay Sauvignon Blanc 2014 saam met donkersjokolade met suurlemoen-ganache; die Walker Bay Chardonnay 2014 met melksjokolade met heuning en amandels; die Matildas Secret 2013 saam met die donkersjokolade met witpeper-ganache en die Walker Bay Shiraz 2012 met die donkersjokolade met brandrissie-ganache.

Jane Stewart van Somerset-Wes maak die sjokolade.

Kontak: 044 343 1844

Prys: R95 per persoon

6. Herold Wines

Dit het lekker gereën toe ons by Herold Wines, tussen George en Oudtshoorn in die Montagupas, gaan kuier het. Die plaas lê langs die Afgunsrivier, en dis presies wat jou vriende sal voel as hulle ná die tyd jou Facebookfoto’s sien.

Die kaggel het op die agtergrond geknetter toe die eienaar en wynmaker, Nico Fourie, by ons tafel kom gesels en van sy wyne vertel.

Saam met sy Herold-wyne (riesling, sauvignon blanc, chardonnay, pinot noir, merlot, cabernet sauvignon en shiraz) dra sy vrou, Maureen, lywige kaasborde uit wat saam met varsgebakte brood, koue vleise, neute en olywe opgedien word.

Kontak: 072 833 8223

Prys: R20 per persoon

Sedert die Nuy-kelder sy proelokaal met ’n restaurant hier op die heuwel net buite Worcester gebou het, het dit ’n trekpleister geword – ook met hierdie fudge-wyn-en-brandewyn-ervaring.

7.Zandvliet

Zandvliet, buite Ashton, is waar van Suid-Afrika se eerste shiraz gebottel is. Hul nuwe wyn-en-sitrus-proe is iets nuuts en opwindends.

’n Mens proe Zandvliet Estate Chardonnay met ClemenGold-marmelade; Zandvliet Kalkveld Shiraz met ClemenGold-donkersjokolade; Zandvliet Vintage Liqueur Wine en ClemenGold-panforte; asook Zandvliet My Best Friend Muscat en ClemenGold-biscotti.

Ek is mal oor biscotti en sit dit graag met sterk koffie voor, maar by hierdie proe doop jy die biscotti vir ’n paar sekondes in die muscat, sodat dit die wyn opslurp en dit in jou mond smelt.

Kontak: 023 615 1146

Prys: R55 per persoon

Pizza en wyn soos op Eikendal kan mos net pret wees!

8.Bonnievale

Verder af in die pad, by Bonnievale verby, is Bonnievale Wines met gewone kos-en-wyn-proeë, maar dit is die boere-soesji-proe op die jaarlikse Robertson Slow waaroor ek wil gesels. Hoe nou? Jip. En het ons dit omtrent geniet: ’n vetkoekie met maalvleis; ’n hamburgertjie; ’n porsie biltong; en vir nagereg ’n mini-koeksister en malvapoeding.

Dit geniet jy saam met die kelder se merlot, cabernet sauvignon-merlot, chardonnay, Riggton-semisoet en Dawn. (My mond water weer.)

Kontak: 023 616 2795

Prys: R40 vir koekie- en wynproe

9.Stellenbosch Hills

Stellenbosch Hills was in 2005 die eerste wynplaas wat ’n wyn-en-biltong- of wyn-en-droëwors-proe bekend gestel het.

Jy proe ses wyne: die Stellenbosch Hills 1707 Reserve White met springbokbiltong; die Polkadraai-pinotage-merlot-versnit met beesbiltong; Stellenbosch Hills Merlot met volstruisdroëwors; Stellenbosch Hills Shiraz met gerookte beesbiltong; Stellenbosch Hills Cabernet Sauvignon met koedoe-droëwors; en Stellenbosch Hills 1707 Reserve Red met bees-droëwors.

Loer ook by die Tank-kunsgalery langsaan in.

Kontak: 021 881 3829

Koste: R50 per persoon

10.Eikendal

Alhoewel Eikendal, tussen Somerset-Wes en Stellenbosch, baie ernstig is as dit by sy wyn kom, kan besoekers nét soveel pret met proe hier hê.

Dié plaas se pizza-en-wynproe-ervaring is gewild en bestaan uit drie tuisgemaakte miniatuurpizzas, elk met ’n landgoedwyn gepaar.

Hoe klink ’n soet-suur hoender-en-pynappel-pizza saam met ’n glasie sauvignon blanc dié somer?

Bellissima!

Kontak: 021 855 1422

Prys: R50 per persoon

Meer oor:  Wyn  |  Wynproe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.