Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Kostelik:
Herman Lensing: Die disse wat proe soos Ma se kombuis

Ek vrees die dag wanneer ek ma Babs sal moet groet. Ek sê nou die dag vir my broer Francois dat hulle my maar saam in die graf sal moet gooi, want hoe verwerk ’n dogter die dood van haar geliefde ma? Ek weet my herinneringe met Babs is in die kombuis tussen koppies meel, botter, skaapboud, patats, groenboontjies en asynpoeding verweef – en die dag as dit gebeur, sal ek ook seker, soos Herman Lensing, my pen optel en vir Babs ’n kookboek skryf.

Herman Lensing se groot verlies

Herman Lensing
Herman Lensing.

Herman het die begin van die jaar sy ma verloor, en in sy nuwe kookboek, Dit proe soos huis, wat hy aan sy ma opdra, skryf hy:

“Vroegoggend op 22 Januarie 2019 ontvang ek die oproep wat ek my hele lewe lank gevrees het: My ma is oorlede. Susan Lensing het die aarde gegroet. My hart breek in duisend stukke, want hoe kan dit waar wees? Hoe kan die een mens wat my so baie gemotiveer het om te kook, skielik nie meer hier wees nie?

“Ek vind my troos in dit wat my ma so diep in my geanker het: kos. My ma was gewoon, maar sy was kreatief en sy kon planne maak, iets uit niks maak. Ek sien steeds die prentjie waar ek as seuntjie in Kimberley toekyk hoe sy linne knoopdoop en snyerspakkies maak vir ’n ekstra inkomste.

“En hoewel haar hande vir niks verkeerd gestaan het nie, was haar ware liefde die kombuis en kos.

“My ma kon kook! Nee, jy hoor nie, my ma kon KOOK soos geen ander mens wat ek ken nie!

“Sy het my geleer wat dit beteken om eerlik te kook. Wat dit verg om mense om jou tafel bymekaar te bring en binne sekondes te laat versoen.

“Ná my ma se dood het ek geglo ek sal nooit weer kan smile nie.

Wanneer die verlange baie raak, maak ek hoender-pastei...

“Ek het haar resepteboeke begin lees en kon weer haar kos proe. Wanneer die verlange baie raak en my trane vlak lê, maak ek hoenderpastei of ek kook sop. Of ek braai jaffels en bak sjokoladekoek.

“Want só kan ek haar liefde in elke happie proe.

“Só kan ek haar omgee ervaar. Só is sy hier én in die hemel.”

Dit proe soos huis is nie ’n hartseer boek nie. Dis ’n kookboek gevul met Herman se ma se resepte, en elke hoofstuk vertel haar mooi storie.

Dis koesterkos wat proe soos huis.

Baie geluk met die pragtige boek, Herman, jou ma smile nou saam met jou van bo.

Groete uit my kombuis,

Anél

anelpot@telkomsa.net

Gebakte groenboontjies

Gebakte groenboontjies
Gebakte groenboontjies.

(Resep: Herman Lensing)

600 g groenboontjies, gesnipper

25 ml botter

200 g-pakkie spekblokkies

2 uie, grof gerasper

50 ml koekmeel

5 ml bruinsuiker

5 ml sout

witpeper na smaak

250 ml aangesuurde room (crème fraîche)

150 ml melk

200 g beleë cheddarkaas, gerasper

40 g growwe broodkrummels

’n hand vol fyngerasperde parmesaankaas

Verhit die oond tot 180 °C. Bring ’n pot met water tot kookpunt en dompel die boontjies daarin. Kook tot sag en gaar. Dreineer en hou eenkant.

Verhit die botter in ’n groot pot tot warm en braai die spek en uie tot goudbruin en bros.

Verwyder van die hitte en roer die meel, suiker, sout en ’n knippie peper by. Roer die suurroom en melk by en klits tot goed gemeng. Voeg die beleë cheddarkaas by en meng tot gesmelt. Voeg die boontjies by en meng goed.

Skep in ’n oondvaste bak. Meng nou die broodkrummels en kaas en strooi dit oor die boontjies. Bak totdat ’n goudbruin kors bo-op vorm. Sit warm voor.

Gebakte kopkool

Gebakte kopkool
Gebakte kopkool.

(Resep: Herman Lensing)

1 mediumgroot groen kopkool, sowat 1,5 kg

olyfolie vir braai

200 g-pakkie spekblokkies

100 g gerasperde beleë cheddarkaas

70 g sagte witbroodkrummels

4 eiers, geklits

125 ml melk

sout en varsgemaalde swartpeper

vars kruie as garnering

Verhit die oond tot 180 °C. Kerf die kool lekker fyn met ’n skerp mes. Bring ’n pot met gesoute water tot kookpunt en dompel die kool in die water. Kook vir vyf tot agt minute of tot die kool sag en gaar is. Dreineer. Verhit ’n bietjie olie in ’n pan tot warm en braai die spek vir ’n paar minute tot goudbruin en gaar. Meng die gaar kool, gebraaide spek, cheddarkaas, broodkrummels, eiers en melk, en geur met sout en peper. Spuit ’n patroonpan met ’n volume van 2 liter goed met kleefwerende kossproei en skep die koolmengsel daarin. Druk stewig vas. Bak vir sowat ’n uur tot gestol. Laat effens afkoel en keer uit. Garneer met vars kruie en sit voor.

Anyspatats

Anyspatats
Anyspatats.

(Resep: Herman Lensing)

2 kg heel patats (so 4 grotes of 12 baba-patats)

140 g (150 ml) botter, gesmelt

80 ml heuning

125 ml brandewyn

3 knoffelhuisies, fyngekap

10 ml anyssaad

sout en varsgemaalde swartpeper

vars kruie as garnering

Verhit die oond tot 180 °C. Skrop die patats onder lopende water met ’n skoon kombuisborsel. Gebruik ’n skerp mes en sny die patats in skywe van 2 cm dik, en pak in ’n oondpan. Meng die res van die bestanddele en giet dit oor die patats. Geur goed met sout en peper. Maak die pan toe met tinfoelie en rooster vir 30-35 minute. Verwyder die foelie, draai die patatskywe om en rooster nou oop vir nog tien minute of tot die patats mooi goudbruin en gaar is. Sit warm voor met ’n hand vol vars kruie.

Dit proe soos huis
Dit proe soos huis word uitgegee deur Human & Rousseau en kos R365

Wen:

Dit proe soos huis word uitgegee deur Human & Rousseau en kos R365. Drie lesers kan elk ’n eksemplaar wen. SMS die woord “huis” met jou naam en adres na 34581. Sluitingsdatum: 25 Oktober 2019

Meer oor:  Herman Lensing  |  Resepte  |  Anél Potgieter  |  Kookboek  |  Kostelik
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.