Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Progressiewe pinotage-plesiere

Die pinotage-druif is trots Suid-Afrikaans, so as jy dié feestyd ’n glasie rooi gaan skink, kies gerus dié plaaslike gunsteling.

Voel trots Suid-Afrikaans en skink ’n glasie pinotage.Foto: iSTOCK

Ons eietydse wynwêreld is verdeel tussen “internasionaal” en “plaaslik”. In die dae voor kommunikasiegrense ophou bestaan het, was ons almal hoofsaaklik aangewese op dít in ons onmiddellike omgewing.

Wynmakers het wyn vir mense in hul geweste gemaak. Nie ’n slegte ding nie, sal baie mense deesdae met ’n sweempie nostalgie toegee.

Hoe ook al, deesdae drink ons globaal wyn – as jy dit kan bekostig natuurlik.

Die gevolg van hierdie wêreldwye wynbeweging is dat daar sommige druifsoorte is wat die kollig steel.

Onder die “internasionale wyndruiwe” tel onder meer cabernet, chardonnay, merlot en sauvignon, en wêreldwyd word dié gekweek en gepars. Aldus dan “internasionale wynsmaak en die wynmark”.

In die groot filosofiese teorie het elke beweging uiteindelik ook ’n teenpool, en vandag is dit daardie minder bekende wyndruiwe wat aan bod kom. Al gehoor van teroldego, arneis of falanghina (Italiaans), liatiko, xinomavro (Grieks), poulsard, savagnin blanc (Frans)? Klink eksoties, nie waar nie.

Dis tyd dat ons weer die eksotiese van ons eie pinotage-druif koester, dat ons weer die plaaslike vier: skepping van ons unieke wynland.

’n Maand of drie gelede het ’n paar van ons geleentheid gehad om die legendariese 1959-Lanzerac Pinotage, die eerste op ’n etiket, te beleef. Dít laat jou dink.

Oor 60 jaar het pinotage, Abraham Izak Perold se wingerdhuwelik van cinsaut en pinot noir, al verskeie paaie geloop. Die ondernemende Pinotage Assosiasie met ruim borgskap van Absa onder leiding van Beyers Truter, die pinotage-meester, het die wyn se status al oor en oor bevestig.

Tog is niks konstant nie, en wyn se tegniese vlyt verander ook soos die mode.

Al hoe meer word daar deesdae gedink hoe om pinotage vir die moderne tyd te maak. Kan ons al van ’n “progressiewe”, dalk “postmoderne”, pinotage praat?

Volgens Christian Eedes, redakteur van die Winemag-webwerf, is daar sterk koers ingeslaan om eietydse pinotage vir die nuwe geslag te formuleer. Hy dink die ouer garde is straks té gevestig, goed soos hulle is: groot, ryk en donker wyne wat lank hou. Maar daar is ook plek vir jonger en ligter plesier.

“As pinotage iets van die eietydse Suid-Afrika op die hart het, moet hy dit uitbasuin,” aldus Eedes.

Hy noem die volgende eietyds: B Vintners Liberté, David & Nadia, Eikendal, Longridge en Spioenkop.

Die klassiekes sal altyd die vlag hoog laat vlieg – soos onder die Absa Top-10.

Niemand sal twyfel oor Beyerskloof Diesel, Kanonkop se swart etiket, Ashbourne, Simonsig, L’Avenir, Môreson of Rijk’s Reserve nie.

Welverdiende en soms duur wyne met status. Maar vir die meer avontuurlike pinotage-aanhanger is daar deesdae meer en nog.

Tipies Pinotage?

Oor die 60 jaar van die wyndruif se bedryf in die bottel, is dit steeds moeilik om die “tipiese aard” vas te vang.

Tog kan jy jou nie maklik met pinotage misgis nie.

Daardie soet pruimgeure, sweempie piesang, kersies soms, titseltjie koffie of stof op die neus, die krokante vrugtigheid wat op jou tong lê, forse tanniene en, in die goeies, die lang nasmaak met net die regte bitter byt.

Dié wat met ouderdom goed omgaan, bied eindelose plesier ná tien en selfs meer jare.

Melvyn se keuses

Jy kan die duurstes aanlê, maar dalk is ’n nuwerwetse versameling meer pret. Hierdie wyne wys die verskeidenheid vandag op die pinotage-rak; elkeen kom met ’n progressiewe storie:

  • Gerhard Swart kan homself as pinotage-meester beskou nadat hy al soveel pryse verower het. Die wyn is doodeenvoudig uitstekend, so drink- en onthoubaar vir sy kompleksiteit.
  • Nou hier is ’n ding. Jurgen Gouws, wynmaker van Intellego, Scholtz Rossouw se druiwe van neffens Paardeberg en kenner-wynhandelaars David en Jeanette Clarke se handgetemde pinotage. Praat van progressief . . . selfs postmodern.
  • Vol in die tradisie van die eerste pinotage wat die mark betree het: ryk en mildelik in tipiese Lanzerac-styl. Om nou versigtig te proe-proe, met vriende langs jou vleisgereg te skink. Uitstekende oesjaar.
  • Lieflik fluweelsag met relatief lae alkohol, rokerig met ryp bessiegeure. Die sagte soetigheid sal jou Kaapse kerriedis uitstekend pas. Verkoel dit effe en deel mildelik.
  • Koen Rose, Belgies van natuur, is ’n man van die grond en die wingerd. Verwag dus uitgesproke, unieke en outentieke presies geformuleerde wyn wat net so ’n skuins kopknik maak in die rigting van pinotage se geskiedenis.
  • Die jong Sadie­egpaar maak fyn-fyn, intrigante witwyn en dan hierdie verrassende delikate, skraal rooi liefling as ’n moderne kunswerk. Dis vrugtige, bessie-agtige pinotage, maar is dit dalk meer?
  • Onder Emul Ross het pinotage ook meer van ’n sagter Europese gevoel, minder hout, meer mineraal-ekspressiewe bessie-/pruim-/kersiegeure wat ’n slim speserygereg sal komplementeer. Vyf sterre?
  • Net om te verseker ons is op die pinotage-spoor, die koers-aanduier, maar ook een wat sy fynbos-karakter so netjies, statig en modern in fyn balans met tipiese druifgeur en ’n tikseltjie rokerige hout hou. Klassiek én ’n boheemse plesier.
  • Jonk, anders en effe uitdagend soos die naam aandui, verrassend mooi in jou mond met lang nasmaak. Dit is ’n pinotage van ons tyd in Franse styl. Skink nog ’n glas met die kaas.
  • Die gekoesterde Durbanville-wingerdblok van 1955 wat hierdie historiese landgoed al dekades een van die mees voortreflike “Boergondiese” pinotages met fyn nuanses gee. Proe geskiedenis en kultuur. Eweneens ’n treffer-oesjaar.
Meer oor:  Wyn  |  Pinotage
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.