Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
RESEP: Bobaas bykosse

Moeg vir altyd dieselfde kosse by die braai maak? Tyd vir ’n paar nuwe idees. Hierdie twee bykosresepte vul nie net enige soort braaivleis heerlik aan nie, dis ook (redelik) gesond en kan selfs deur jou vegetariese vriende geniet word. Mari Zeelie het albei op die proef gestel en kan getuig van die genot!

Dewald Brink se bulgurkoringslaai

Bestanddele:

  • 1 koppie bulgurkoring
  • 1 pak botterskorsie, opgesny in blokkies
  • 1 pak strookspek
  • Deense fetakaas
  • 2 rooi uie
  • Sout na smaak
  • Spaanse paprika na smaak
  • Olyfolie
  • 2 koppies water
  • Balsamiekasyn
  • Bruinsuiker
  • Esdoringstroop (opsioneel)

Metode:

Kook die bulgurkoring in twee koppies water. Gooi ’n bietjie sout en olyfolie by. Kook tot die water weg is en laat afkoel. Wanneer dit afgekoel het, vlok die bulgurkoring met ’n vurk en gooi weer ’n bietjie olyfolie oor.

Die bulgurkoringslaai hou lekker lank in die yskas, so jy kan dit selfs ’n dag voor die braai maak. Foto: Ilana Easton

Sny die spek in blokkies en braai dit in ’n pan tot bros. (Jy kan esdoringstroop oorgooi as jy van daardie geure hou.) Braai die rooi uie oor ’n lae hitte saam met balsamiekasyn en bruin suiker om die uie te karameliseer. Sit die botterskorsie in ’n oondpan, sprinkel met olyfolie en strooi sout en Spaanse paprika oor. (Moenie skaam wees met die paprika nie.)

Bak dit teen 180 °C vir ongeveer 40 minute in die oond of totdat die botterskorsie sag is. Dit kan maar bietjie skroei. Wanneer al die bulgurkoring, gekarameliseerde uie, spek en botterskorsie afgekoel het, voeg blokkies Deense feta by en meng alles saam.

Dis ’n lekker slaai om vroeg klaar te maak en net in die yskas te los totdat die braaivleis gaar is. Dit hou ook goed in die yskas vir ’n dag of twee.

Ilana Easton se murgpampoentjieslaai

Bestanddele:

  • Murgpampoentjies
  • Babaspinasie
  • Roketblare (opsioneel)
  • Avokadopeer
  • Bokmelkkaas (chevin)
  • Benodig vir slaaisous:
  • Goeie olyfolie
  • Balsamiekasyn
  • Sout
  • Knoffel, gekneus

Metode vir slaai:

Sny die murgpampoentjies in dun repies met ’n mandolien.

Maak die murgpampoentjieslaai net voordat jy klaar gebraai is sodat die avokadopeer nie bruin raak nie. Foto: Ilana Easton

Gooi die repies murgpampoentjie in ’n sakkie en voeg genoeg olyfolie by sodat elkeen met ’n lagie bedek is.

Rooster op ’n riffelpan as jy die mooi merkies wil hê of pak op ’n bakplaat, strooi sout oor en sit dit redelik naby aan die oond se element om te rooster. (Hou die murgpampoentjies dop, want dit kan vinnig brand.)

Gooi die babaspinasieblare in ’n slaaibak. (Jy kan ook roketblare byvoeg as jy wil.) Sny dun repies avokadopeer en pak dit op die blare. Rangskik nou die murgpampoentjierepies op die avokadorepe en krummel die bokmelkkaas bo-oor.

Moenie die slaaisous byvoeg voordat jy die slaai bedien nie. Sit die slaaisous eerder op die tafel sodat elkeen vir homself sous kan oorgooi.

Metode vir slaaisous:

Gooi olyfolie, sout, knoffel en balsamiekasyn bymekaar en meng. Maak die slaaisous ’n dag of twee vooraf en laat dit in die yskas staan sodat die knoffelgeur kan deurtrek. Hoe langer dit staan, hoe lekkerder smaak dit.

Meer oor:  Erfenisdag  |  Erfenis  |  Murgpampoentjie  |  Slaai  |  Braaidag2020  |  Braaidag  |  Braai  |  Koring  |  Resep
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.