Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
RESEP: Boeuf bourguignon om Bastille-dag te vier

Vandag is Bastille-dag. Ek het weens werksomstandighede dus Saterdag my Hugenote-herkoms gevier met ’n lekker Bastille-dag­ete op ’n wynplaas in die Boland.

Vier Bastille-dag met hierdie foutlose bord kos.

Dit het my ook weer laat besef: Alte dikwels is mense onder die indruk dat Franse kos slegs nouvelle cuisine ensovoorts is. Dit is egter taamlik ver van die waarheid, want die heel lekkerste Franse geregte is immers plattelandse disse soos boeuf bourguignon (beesvleis gestowe in rooiwyn), coq au vin (hoender in rooiwyn) en cassoulet (’n klassieke witbonebredie).

Juis toe ek laasjaar op ’n triestige herfsdag in Parys aankom, het ek skaars geland voor ek ’n Suid-Afrikaanse vriendin wat nou al baie jare lank in die mooie stad woon, in die Luxembourg-tuine moet ontmoet. Van daar af stap en gesels ons deur die straatjies van dié deel van die stad. Sy neem my vir ete na die Polidor – ’n geen fieterjasies, stokou Parys-eetplek met die dekor wat lyk asof dit sedert die Tweede Wêreldoorlog nie aan geraak is nie. Ons deel ’n langtafel met die tradisionele rooi-en-wit geruite tafeldoek, met vreemdelinge wat inkom vir ’n vinnige middagete. Daar is nie ’n spyskaart nie, slegs die plat du jour (gereg van die dag) wat daagliks verander. En vandag s’n is heel van pas – ’n ou gunsteling van my, boeuf bourguignon.

Hy word bedien in ’n eenvoudige wit bord op ’n bedding kapokaartappels en met geen tierlantyntjies versier nie. Dis nie nodig nie. Hierdie bord kos is foutloos en kort nie eens effe sout of peper nie.

Dus het my Bastille-dagfeesviering vanjaar bestaan uit ’n heerlike pot van hierdie einste gereg.

  • 2 kg beenlose stowe-beesvleis in groot blokkies gesny van ongeveer 4 x 4 cm
  • 200 g gesnipperde varkspek
  • 1 groot ui, fyn gesny
  • 1 groot wortel in klein blokkies gesny
  • 3 knoffelhuisies, fyngemaak
  • 1 e. vars tiemieblare
  • 12 jong uitjies, geskil
  • 1 pakkie knopiesampioene
  • 500 ml rooiwyn
  • 1 koppie beesvleisaftreksel
  • 1 klein blikkie tamatiepasta
  • 1 e. meel
  • Sout en peper na smaak
  • ’n Handvol gesnipperde pietersielie

So maak jy:

  • Maak ’n groot swartpot warm. Voeg ’n bietjie olie daarin en braai eers die spek daarin vir ’n paar minute. Voeg dan die blokkies vleis in sarsies daarby tot effe bruin. As al die vleis in die pot is, braai die gekerfde ui, wortel en knoffel daarmee saam vir ongeveer vyf minute. Voeg die tamatiepasta en meel daarby en roer goed deur.
  • Nou kom die wyn, beesvleisaftreksel, tiemie en sout en peper na smaak by. Draai die hitte af tot die pot stadig prut en los hom so vir ongeveer ’n uur en ’n half.
  • Roer die jong uitjies daarby en laat verder prut vir ’n halfuur totdat hulle net-net sag is.
  • Laastens kom die sampioene by – proe ook weer vir nog sout of peper. Prut vir 15 minute totdat die sampioene net-net gaar is. Om af te rond, sprinkel die pietersielie oor net voordat jy opdis.
  • Bedien dan die smullekker gereg saam met kapokaartappels of rys.
Meer oor:  Lise Beyers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.