Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
RESEP: Dís mos KOS!

Boerekos se jongste uitgawe het talle reis- en koshoogtepunte en stories van Namibiese boere, bakkers en kosmense. Daar is vleisgeregte om van te droom (en hulle is maklik om te maak), heerlike seekos en uitsonderlike Duitse gebak en lekkernye. Boerekos Winter 2019 kos R55 en is in die meeste supermarkte te koop.

Bestel dit ook by Landbou.com

Beesstertbredie met preie en rooiwyn

(Vir 6 porsies)

  • 1,8 kg beesstert, in stukke gesny
  • Sout en varsgemaalde swartpeper
  • Olyfolie, vir braai
  • 6 groot preie, goed skoongemaak en in 5 cm-stukke gesny
  • 6 heel knoffelhuisies, geskil
  • 15 ml komynsaad
  • 5 ml gemaalde koljander
  • 3 ml droë brandrissievlokkies
  • 1 blik (410 g) gekapte tamaties
  • 1 bottel (750 ml) rooiwyn
  • ’n Knippie suiker
  • Water
  • ’n Hand vol fyngekapte pietersielie en fyngerasperde suurlemoenskil, om deur te roer

Onvergeetlike beesstertbredie soos net ’n boervrou (of manlief) dit kan maak.Foto’s: boerekos

Só maak ’n mens:

1. Geur die beesstert goed met sout en peper.

2. Verhit ’n bietjie olyfolie in ’n groot kastrol en braai die beesstert daarin bruin. Skep dit uit en hou dit eenkant.

3. Braai nou die preie en knoffel in dieselfde kastrol tot sag.

4. Voeg die speserye en brandrissievlokkies by en braai dit tot geurig is.

5. Skep die vleis (en enige pansouse wat op die bord afgedrup het) terug in die kastrol.

6. Voeg die tamaties, rooiwyn en ’n knippie suiker by. Verhit dit tot kookpunt, verlaag die hitte en prut die beesstert stadig oor lae hitte vir 4-5 uur of tot dit baie sag en lymerig is. (Loer gereeld in die kastrol en vul aan met ’n bietjie water indien dit nodig raak. Veral teen die einde van die kooktyd is die sous geneig om maklik aan te brand.)

7. Geur dit na smaak en roer ’n bietjie vars gekapte pietersielie en fyngerasperde suurlemoenskil by.

8. Sit dit voor op rys, krummelpap of kapokaartappels.

Die beste kerriesosaties

(vir 16 sosaties)

  • 1,5 kg varknek- of skouerstuk, in blokkies gesny 
  • 250 ml room
  • 80 ml suurlemoensap
  • 3 cm-stuk vars gemmer, fyngerasper
  • 2 knoffelhuisies, fyngerasper
  • 45 ml kerriepoeier
  • 10 ml borrie
  • 30 ml gemaalde koljander
  • 3 vars lourierblare, gesnipper
  • 125 ml blatjang
  • 125 ml fyn marmelade
  • 250 ml asyn
  • 125 ml olie
  • 2 uie, in wiggies gesny
  • 1 pak (250 g) spekvleis, in blokkies gesny
  • Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Kerriesosaties is altyd ’n treffer.

1. Pak die vleisblokkies in ’n niemetaalbak en giet die room en suurlemoensap oor. Voeg die gerasperde gemmer en knoffel by. Meng dit goed deur, bedek en verkoel tot jy dit benodig.

2. Sit die kerriepoeier, borrie en koljander in ’n kastrol en verhit dit tot jy die speserye kan ruik. Voeg die lourierblare, blatjang en marmelade by en verhit alles tot kookpunt, terwyl jy dit roer.

3. Voeg die asyn en olie by en verhit weer dit tot kookpunt, terwyl jy dit aanhoudend roer.

4. Prut die sous vir ’n minuut of twee, verwyder dit dan van die hitte en laat dit afkoel.

5. Sodra die gekookte kerriesous tot kamertemperatuur afgekoel het, voeg

dit by die varkvleisblokkies in die roommengsel en meng dit baie goed deur. Bedek dit weer en verkoel dit vir minstens 6 uur, maar verkieslik oornag.

6. Haal die lagies van die uiekwarte van mekaar af, sit dit in ’n bak en giet genoeg kookwater oor om dit te bedek. Laat dit staan tot die kookwater kamertemperatuur bereik het.

7. Ryg die varkvleisblokkies afwisselend met ’n stukkie ui en ’n stukkie spekvleis op stokkies.

8. Braai dit oor matige kole of rooster dit in die oond tot dit gaar genoeg is na jou smaak, terwyl jy die sosaties gereeld met die marinade bestryk.

9. Sit dit voor met braaibroodjies, aartappels en slaai.

Swart-en-witkoekies

Dié koekies (ook bekend as skaakbordkoekies) is ’n gewilde Duitse Kersfeeskoekie.

En dit is baie makliker om te maak as wat dit lyk!

(vir 5 dosyn koekies)

  • 250 g sagte botter
  • 310 ml strooisuiker
  • 10 ml vanieljegeursel
  • 2 ekstragroot eiers
  • 30 ml rum of brandewyn
  • 810 ml koekmeel
  • 30-45 ml kakao, gesif

Duitse Kersgebak is die perfekte peuselhappie vir die winter.

Só maak ’n mens:

1. Verroom die botter, strooisuiker en vanieljegeursel tot dit lig en romerig is.

2. Skei een van die eiers en hou die eierwit eenkant.

3. Voeg die eiergeel en die ander eier (geel en wit) by die verroomde bottermengsel en voeg die rum of brandewyn by. Meng alles goed.

4. Voeg die meel bietjie vir bietjie by, terwyl gemeng word, tot ’n sagte deeg vorm. Verdeel die deeg in twee gelyke dele. Voeg die kakao by die een deel deeg en knie dit goed daarby in tot die deeg ’n egalige sjokoladebruin kleur het.

5. Draai elke stuk deeg in kleefplastiek toe en verkoel dit vir minstens 2 uur, maar verkieslik oornag.

6. Voorverhit die oond tot 180 °C en voer ’n paar bakplate met bakpapier uit. Rol die deeg in lotte uit en gebruik die wit en donker deeg op mekaar om interessante patrone, soos spirale, strepies en skaakbord-effek koekies te skep.

7. Klits die orige eierwit liggies en verf ’n dun lagie daarvan op elke stuk deeg voor ’n volgende stuk bo-op gesit word – dit laat die lae deeg vaskleef.

8. Bak die koekies (maak seker alles is ongeveer 6 mm dik) vir sowat 7-10 minute, of tot dit net gaar is (die wit deeg moenie verbruin nie).

9. Laat die koekies vir sowat 3 minute op die bakplate afkoel tot dit ferm genoeg is om versigtig met ’n paletmes afgelig te word. Pak dit op draadrakke om af te koel tot kamertemperatuur.

10. Bêre die koekies in ’n lugdigte houer.

Arina du Plessis
Meer oor:  Boerekos  |  Resep  |  Oos-Kaap Naweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.