Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
RESEP: Doeksag varkribbetjies vir wintervuur

Varkribbetjies gelak met ’n lekker taai, geurige sousie, die vleis val-van-die-been-af-sappig en wat jou bakkies behoorlik laat blink, is op ’n lieflike herfsdag net die ding om jou te laat moed skep ten tyde van die staat van inperking.

Mmmm, dié ribbetjies sal sorg vir blink bakkies!

Hierdie lekkerte is die meeste mense baie lief voor. Maar net ’n vinnige wenk: Gaan koop eerder jou varkribbetjies by jou slaghuis en vra die slagter vir ribbetjies vanaf die lies en waar die vleis nie heel van die been afgesny is nie.

Te dikwels kyk ek so na die verpakte ribbetjies in supermarkte, wat nou ten duurste verkoop word, en dan is daar net ’n spatsel vleis aan die been om aan te knaag.

Nog beter, ek koop sommer ’n heel varklies met been aan, dan sny ek die vleis self af tot die dikte wat ek verkies en hou die ontbeende vleis vir ’n later gaarmaak of om sommer ’n bietjie pancetta of bacon te maak.

Jy benodig:

  • 1½ kg rou varkribbetjies
  • 3 eetlepels bruin suiker
  • 1 eetlepel sout
  • 1 eetlepel, plus 1 teelepel Chinese five-spice-poeier
  • ½ koppie hoisinsous
  • ½ koppie sojasous
  • 3 eetlepels heuning
  • 10 cm stuk vars heel gemmer
  • 5 knoffelhuisies

Só maak jy:

  • Meng die suiker, sout en 1 eetlepel five-spice-poeier saam in ’n klein bakkie en vryf dan die mengsel oral goed oor die ribbetjie. Maak dan toe in twee lae foelie en maak seker dat hy baie goed verseël is.
  • Jy kan die pakkie nou in die oond bak op 180 °C vir 90 minute, of soos ek, sit eerder die pakkie in die braairooster en laat hom nes met ’n staanrib langs ’n knetterende vuur staan en rustig bak. Ek sal hom so laat staan vir ’n uur en ’n half en so nou en dan die rooster omdraai.
  • Maak intussen die bedruipsous deur die hoison- en sojasous, heuning en 1 teelepel five-spice-poeier saam in ’n klein kastrol te verhit. Skil en rasper die vars gemmer fyn daarby, asook die fyngekapte knoffelhuisies.
  • Verhit als stadig saam en klop gereeld deur met ’n vurk. Wanneer die vleis aan die punte begin wegtrek van die been, is die ribbetjie reg om gebraai te word.
  • Smeer die bedruipsous oral goed oor die vleis en braai dan oor matige kole totdat dit donkerbruin gekaramelliseer is, maar wees versigtig om dit nie te verbrand nie en draai dus gereeld die rooster om.
  • Bedruip deurgaans met die sous (hou wel ’n klein bietjie sous oor vir bediening). Die braaiproses behoort nie langer as tien minute te duur nie.
  • As jy die ribbetjies daarna opsny, smeer hulle dan weer goed met die bedruipsous en nou kan julle maar smul totdat die bakkies blink.

Geniet dit!

Meer oor:  Lise Beyers  |  Resep
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.