Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
RESEP: Eenskottel-hoendergereg met groentekoekies

Op Via (DStv-kanaal 147) se kosprogram Boerekos met ’n twist kook die voedsel-en-voedingsdosent Annelien Pienaar nostalgiekos saam met bekende kuiergaste. Saam omtower hulle ons ou gunstelinge in splinternuwe lekkertes vir ons hedendaagse tafels.

Hier deel Annelien Pienaar haar resep vir ’n hoender-eenskottelgereg met groentekoekies wat sy saam Gielie Hoffmann en Louise Calitz met gekook het. Besoek Annelien se blog vir nog boerekosidees.

In Annelien se eie woorde: “In ’n samelewing wat so vinnig verander ten opsigte van verwerkte produkte gepak met preserveermiddels en wie weet wat nog wat kanker kan veroorsaak – om nie eens te praat van die hartvatsiektes wat dit teweegbring nie – sien ek gesondheid in ’n ernstige lig.

“Ek maak my eie soppoeiers en souse om geregte mee te verdik of om net so as sop te gebruik. Hier gee ek vir julle ’n soppoeierbasis en dan verder ’n paar variasies om gegeurde soppe te maak.

“Klipgemaalde meel is altyd my eerste keuse as ek my souse maak. Jy kan dit egter met gewone koekmeel vervang as jy nie dadelik klipgemaalde meel byderhand het nie. Onthou net: Klipgemaalde meel is gesonder.

“Ek pak gereeld dié poeier in as die kinders sport het en gee hulle dan so op ’n gesonde manier kos. Ek pak in elke kosblik ’n sakkie met die poeier in, dan is daar bestanddele soos ham of spek reeds gebraai, of fyn biltong om by te meng vir die ekstra proteïene.

“Kom ons begin!”

Die tafel is gedek - kom sit aan!

Soppoeierbasis

Bestanddele

  • 500 g volroommelkpoeier
  • 300 g koekmeel (kan met rysmeel vervang word vir gluten-allergie)
  • 100 g mielieblom
  • 500 g botter
  • 4 hoenderaftreksel-blokkies (maak seker dit is preserveermiddelvry)

Metode

1. Plaas al die bestanddele in ’n voedselverwerker en meng tot fyn en totdat al die bestanddele ingemeng is.

2. Plaas in ’n lugdigte houer en bêre vir drie maande in die yskas of vrieskas vir ses maande.

  • Om te gebruik: Voeg drie tot vier eetlepels basiese soppoeier by 1 koppie (250 ml) water en gebruik dan om soppe en souse te verdik.

Gegeurde soppoeier

1. Sampioensop: Sien asseblief die les oor gedroogde sampioene op my webtuiste (annelienpienaar.co.za). Gebruik twee koppies gedroogde sampioene en drie tot vier eetlepels uievlokkies en voeg dit by die mengsel en verwerk met ’n voedselverwerker tot so fyn as wat dit jou smaak pas.

2. Beesstert- of skaapskenkelsop: Vervang net die aftrekselblokkies en voeg dan kruie by soos drie tot vier eetlepels roosmaryn, asook drie tot vier eetlepels uievlokkies en twee teelepels knoffelvlokkies.

3. Hoendersop: Voeg drie tot vier eetlepels uievlokkies, vier eetlepels dillepuntjies en een pakkie kitsnoedels by wat gebreek is.

Meraai se groentekoekies

Meraai se groentekoekies

Annelien vertel: “Ek weet nie of dit instink by kinders is om nie van groen kos te hou nie. My een seun het eendag luidkeels voor gaste gesê die kos is vrot! Ek het net vasgebyt en die groen groente vervang totdat ek hom uitoorlê het.

“Ek het sy gunstelinggroente soos mielies by die fyn gerasperde murgpampoen gemeng. Raai wat? Die mannetjie eet groen groete! As ek nie murgpampoen het nie vervang ek dit met spinasie, broccoli, groenboontjies en selfs eiervrug as die hoofgroente. Vandag is dit sy gunstelinggereg!

Bestanddele

Porsies: 8

  • 2 ½ ml (½ t) tiemie
  • 2 ½ ml (½ t) basiliekruid
  • 250 ml (1 k) mieliepitte
  • 2 ½ ml (½ t) knoffel, fyn
  • 500 g (4 k) murgpampoen, gerasper
  • 2 ½ (½ t) sout
  • 30 ml (2 e) olyfolie
  • 4 eiers, geklits
  • 125 ml (½ k) kaas
  • 105 g (¾ k) koekmeel
  • 2 ½ ml (½ t) bakpoeier

Metode

1. Meng al die bestanddele saam en skep lepels vol op ’n kleefvrye pan wat met olie uitgevee is. ’n Maklike wenk vir eweredige porsies: Gebruik ’n roomyslepel om die beslag uit te skep.

2. Bak aan albei kante tot goudbruin.

  • Hierdie beslag kan ook in ’n wafelpan of toebroodjiemaker gaar gemaak word. Ek het dit ook al in kolwyntjiepannetjies gebak en ’n bietjie mozzarella oorgesprinkel.

Soet glanswortels

Bestanddele

  • 500 g julienne-wortelrepies
  • 250 ml water
  • ¼ k witsuiker
  • 3 e botter

Metode

1. Kook saam tot glansend en skep warm voor met die hoendergereg.

Eenskottel-hoendergereg

Eenskottel-hoendergereg

Bestanddele

  • 30 ml botter
  • 1 kg hoenderstukke
  • sout en peper na smaak
  • 250 g sampioene, gesnipper
  • 1 ui, klein, opgekap
  • 2 knoffeltoontjies, gekap
  • 15 ml dille of tiemie, gedroog
  • 15 ml borrie
  • 5 ml paprika, verkieslik gerook
  • 100 ml witwyn
  • 125 ml hoenderaftreksel
  • 125 ml room
  • 100 ml mayonnaise
  • 3 e tamatiepuree
  • 100 ml blatjang
  • 30 ml heuning

Metode

1. Braai die hoenderborsies met botter tot goudbruin aan die buitekant, maar nie gaar nie. Die vleissappe moet net ingeseël word.

2. Verwyder uit die pan en sit in ’n kastrol of prutpot.

3. Voeg die sampioene en uie by en braai verder totdat die sap van die sampioene uitgekook is.

Prutpot: Skep die uie en sampioene oor. Meng die res van die bestanddele en giet oor die hoender en groente. Laat die vleis kook vir ongeveer ses uur in die prutpot.

Kastrol in die oond: Voorverhit die oond tot 180 °C. Skep die uie en sampioene bo-oor. Meng die res van die bestanddele en giet oor die hoender en groente. Laat die vleis vir ongeveer twee uur bak.

  • Nuwe episodes van Boerekos met ’n twist wys elke Maandag om 18:00 op die Afrikaanse leefstylkanaal Via (DStv-kanaal 147) met heruitsendings op Sondae om 16:30.
Meer oor:  Annelien Pienaar  |  Gielie Hoffmann  |  Tv  |  Vermaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.