Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
RESEP: Gesonde, veganistiese bruintjie-vierkante

Nadat sy vir haar hele lewe lank ’n vegetariër was, het Mira Weiner in 2019 ná ’n groot mediese terugslag besluit om 100% veganisties te word.

Nou deel sy haar storie en help ander oor hoe om hul gesondheid te verbeter deur middel van plantgebaseerde kos en die gebruik van die hele produk as geheel.

“Twee jaar gelede is ek in die hospitaal opgeneem en ek was ses maande siek in die bed. Ek was fisiek en geestelik gedaan. Net daar het ek besluit om te begin kyk na my gesondheid deur middel van dit wat ek eet en danksy die hulp van ’n gesondheidsentrum en leiding van ’n mediese dokter, hou ek myself nou gesond met kos,” vertel sy.

Mira Weiner vat haar liefde vir kosmaak en passie vir gesondheid vanjaar na ander vlak deur haar resepte en wenke te deel op sosiale media en haar webtuiste. Foto: VERSKAF

Sy het so passievol oor hierdie nuwe leefstyl geword dat sy onlangs die projek aangepak het deur haar kennis met almal te deel op sosiale media en ’n webwerf.

“Ek het nog altyd gehou van kosmaak en het dit by my ouers geleer. Ek is ’n kreatiewe kok wat daarvan hou om net goed by te gooi en iets nuut te skep.”

Die groot leerkurwe vir haar was hoe om te leer om haar gunstelingdisse met nuwe bestanddele te maak. Skielik moes sy kyk na produkte wat haar gesondheid bevoordeel en alternatiewe vir resepte vind.

“Toe ek met die reis begin het, was die bestanddele nie so vrylik beskikbaar soos deesdae waar jy plantgebaseerde plaasvervangers in byna alle winkels kon kry nie. Veral nie in McGregor waar ek woon nie. Ek moes baie aanlyn bestel,” vertel sy.

Weiner sê dat dit deesdae egter baie makliker is om ’n plantgebaseerde leefstyl te handhaaf, want daar is ’n groter fokus daarop. Veral met die vernuwing van plaas-na-tafel en al die vars groente en vrugte wat jy direk van plase af kan kry.

Sy fokus veral op maaltye waar niks weggegooi word nie (die whole foods-benadering) en probeer om soveel as moontlik van elke bestanddeel te gebruik. Volgens haar is dit iets wat in enige dieet toegepas kan word: of jy nou ’n veganis is of nie!

“Om ’n plantgebaseerde dieet te volg is uitstekend vir jou gesondheid én vir die omgewing, maar dis nie nodig om dit voltyds te doen nie. Jy kan klein begin met een dag per week of een maaltyd per dag. Jy kan dit inbring in enige dieet of die gesondheidsvoordele daarvan geniet.”

Volgens haar is daar ’n rits tendense waarna daar vanjaar uitgesien kan word, soos onder meer mense wat al hoe meer plaaslik ondersteun en hul produkte direk van die plase of produsente kry.

Ander tendense sluit in kos en drankies wat jou immuunstelsel verbeter (veral gefermenteerde produkte soos kimchi en kombucha) en mense wat meer beweeg na goed wat onder meer gluten-vry en suikervry is. Alkoholvry is ook ’n tendens wat al hoe meer toeneem om verskeie redes.

Laastens is haar heel gunsteling-tendens: kekerertjie-alles.

“Kekerertjies is so veelsydig en kan in verskillende disse gebruik word. As ’n gewas is dit goed vir die grond en as ’n bestanddeel is dit goed vir jou! Boonop is dit nie baie duur nie en maklik bekombaar,” sê sy opgewonde.

  • Volg Weiner op Instagram by @miraweiner of op haar Facebook-blad (Mira Weiner). Besoek ook www.miraweiner.com vir lekker resepte.

Hawer-, kekerertjie- en bosbessie-sjokoladebruintjies

Resep: Mira Weiner

Kosstilering: Christi Wasserman

Maak: 9 medium bruintjie-vierkante

  Foto:    SAMANTHA LOWE
Foto: SAMANTHA LOWE

Voorbereidingstyd: 15 minute

Kooktyd: 25 minute

Bestanddele

  • ¾ koppie glutenvrye hawermeel (verwerk glutenvrye hawer na ’n meel in voedselverwerker)
  • ¼ koppie kekerertjiemeel
  • 2/3 koppie klappersuiker
  • ¼ koppie rou kakaopoeier
  • 6 t. geraffineerde (virgin) klapperolie, gesmelt
  • 1 koppie plantgebaseerde melk (hawer, organiese soja of amandel werk goed)
  • 1 vlas- of chia-“eier” (1 t. fyn vlassaad (flax seed) of fyn chia-sade met 3 t. gefiltreerde water)
  • ¼ koppie geraffineerde suikervrye donker sjokoladestukkies (of grofgekapte sjokolade)
  • ’n handvol swaelvrye gedroogte bosbessies
  • ½ t. koeksoda
  • ½ t. appelasyn
  • ½ t. suiwer vanielje-ekstrak
  • ’n knippie pienk Himalajasout

Metode

Maak die vlas- of chia-“eier” in ’n glas of koppie aan deur die fyn sade en water saam te meng.

Laat dit sit vir 5-10 minute.

Meng die hawermeel, kekerertjiemeel, kakaopoeier, suiker en sout saam en meng goed.

Gooi die koeksoda by en dan die appelasyn bo-oor sodat dit skuim.

Voeg dan die klapperolie by. Voeg stadig die melk, vanielje en “eier” by en meng.

As alles gemeng is, kan jy die sjokolade en bosbessie byvoeg en los die mengsel vir 5-10 minute om dik te raak.

Gooi die mengsel in ’n bak (19 cm x 19 cm).

Bak die bruintjies teen 175 °C vir 20-25 minute.

Laat afkoel en bedien.

Meer oor:  Resep
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.