Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
RESEP: Heel lamskenkels met ’n rooiwyn-pansous

Dié liefdestaak neem tyd en geduld, maar jou gaste sal nog vir jare praat oor hierdie mooi en smaaklike ete. Gebruik goeie rooiwyn met vrugtige note om ’n bitter nasmaak te vermy.

Lamskenkels
Lamskenkels met ’n lekker rooiwyn-pansous.

Jy benodig (genoeg vir 6) 

  • 6 heel lamskenkels (minstens 400 g elk)
  • gegeurde sout van jou keuse
  • 75 ml (5 e) olyfolie
  • 1 mediumgroot ui, fyngekap
  • 3 knoffeltoontjies, fyngekap
  • 3 wortels, fyngekap
  • 4 selderystingels, gesnipper
  • 1 kg tamaties, geblansjeer en fyngekap
  • 60 ml (4 e) tamatiepasta
  • 750 ml (3 k) goeie pinotage of merlot, of gebruik bosbessiesap (cranberry juice)
  • 500 ml (2 k) hoenderaftreksel
  • 15 ml (1 e) gerookte paprika
  • 10 takkies vars tiemie
  • 6 lourierblare, vars of gedroog

Só maak ’n mens: 

1. Voorverhit die oond tot ­ 180 °C.

2. Strooi die gegeurde sout oor die lamskenkels en hou eenkant. Verhit ’n groot, diep vuurbestande swaarboomkas-trol met ’n digpassende deksel. Die skenkels moet plat kan lê tydens die gaarmaakproses.

3. Braai die skenkels twee-twee op ’n slag in die droë pan tot bruin reg rondom, maar nie gaar nie. Verwyder telkens die bruingebraaide skenkels en hou eenkant terwyl jy die res braai. Indien daar baie vet uitbraai, giet dit uit die kastrol.

4. Braai die uie, knoffel, wortels en seldery in die olyfolie tot mooi sag en glansend. Voeg die tamaties en tamatiepasta by en kook vir ’n minuut. Roer die wyn en aftreksel by en kook vir 5 minute.

5. Voeg die gerookte paprika, tiemie en lourierblare by en sit die skenkels terug in die kastrol. Roer goed deur en maak seker die vleis is bedek met die sous. Verdeel andersins die vleis in twee ewe groot kastrolle.

6. Bak met die deksel op vir twee uur totdat die vleis sag is, maar nog nie van die been afval nie. Skep die vleis baie versigtig uit die sous en hou dit warm op ’n voorverhitte bord terwyl jy die sous tot ’n fyn puree verwerk.

7. Sit die skenkels voor op ’n bed van blomkoolpuree en giet die sous oor die vleis om dit te verglans. Soet ertjies of worteltjies is perfekte pasmaats vir dié geurige gereg.

Meer oor:  Resep
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.