Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
RESEP: Heerlike Weskus snoekbraai-resep

As die snoek loop, dan word dit gebraai, gekook, gebak en wat ook al nog! Tasneem van Rooyen deel ’n smullekker snoekbraairesep deur ’n ware Weskusser, wat jou sommer behoorlik sal laat uithonger!

Die een aand eet ons vis en brood en die ander aand dan is dit brood en vis, is dit dieselfde? Só vra Tim Afrika, gebore Weskusser en jarelange inwoner van St. Helenabaai, wat ’n snoek kan braai wat jou mond sal laat water.

“Met snoek aan die kus, word die koppe gekook, die kuite, lewer en magies word gebak of ons maak triepa (maar, dis ’n resep vir ’n ander dag),” sê hy.

Volgens Tim moet jy eerstens onthou dat jy nie ekstra sout moet gebruik as dit ’n “mild cure” (lank gesoute) snoek is nie.

“Ek hoop dan ook jy het ’n lekker bokwa (groot snoek waarvan die kop op die grond sleep as jy hom oplig) om te braai om jou snoekbraai-ervaring af te rond,” sê hy.

Só braai Tim sy snoek:

Bestanddele

  • 125 g yskoue botter (in blokkies gesny)
  • 6 knoffelhuisies (fyngekap)
  • 2 tot 3 teelepels gemengde kruie
  • 2 suurlemoene in die helfte gesny
  • 1 groot snoek in vier dele gesny
  • Sout en peper na smaak, indien snoek ongesout is

“Let wel, geen jêm nie asseblief, hou dit vir die bakbrood wat jy saam met die snoek gaan geniet!”

Moenie vergeet om ’n lekker snoek deel van vanjaar se Braaidag te maak nie. Foto: iStock

Maak so

Sny die gevlekte snoek in vier gelyke dele. Jy het nou twee pensstukke en twee stertstukke.

Smeer die fyngekapte knoffel in die voue van al vier stukke van die snoek. Sprinkel van die gemengde kruie ook in die voue en druk dan van die blokkies yskoue botter bo-op die knoffel en kruie in die snoek se voue.

Hou ’n paar blokkies botter eenkant.

Plaas nou eerste die twee pens- gedeeltes, (die stertkante word hierna gebraai), op ’n toeklaprooster met die dik gedeeltes na mekaar in die middel, en die penskante na die kante van die rooster. Dit sal help dat jou dik gedeeltes gelyk gaar word.

Onthou, jou kole moenie te warm wees nie, sodat die botter stadig kan smelt en een lekkerte vorm met die knoffel en die kruie.

Druk van die suurlemoensap oor die vis uit. Sodra jou botter lekker gesmelt het, kan jy die snoek omdraai. Dit sal so ’n paar minute neem.

Vat nou van daai ekstra botter en smeer dit al op die speke van die rooster sodat dit op die vel drup. Dit sal help dat jou snoek nie vassit nie. Moet egter onder geen omstandighede foelie gebruik nie, dit is ’n doodsonde, meen Tim.

Met snoek aan die kus, word die koppe gekook, die kuite, lewer en magies word gebak of ons maak triepa.

Nadat jy daai rooster goed met die blokkies botter gesmeer het, kan jy jou snoek weer omdraai sodat die velkant ’n bietjie hitte kry. Druk nou nog ’n paar blokkies botter in die voue van die snoek en druk nog suurlemoensap oor dit uit.

As die snoek se kleur nog nie reg is na sowat 10 tot 12 minute nie, dan draai jy hom vir die laaste keer weer op sy vleiskant na die kole. Kry intussen ’n plat oondplaat reg.

As jou snoek na jou smaak reg is, lig die rooster versigtig van die velkant af, druk jou oondplaat tot bo-op die snoek, klap jou rooster toe en draai dit om sodat die snoek netjies in die plaat val.

Volg dan dieselfde metode met die stertkant van die snoek. Die snoek is reg om bedien en geniet te word!

Meer oor:  Erfenisdag  |  Erfenis  |  Weskus  |  Braaidag  |  Braai  |  Resep  |  Vis  |  Snoekbraai  |  Braaidag2020  |  Snoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.