Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
RESEP: Herinneringe van huis toe gaan

Om so ’n bietjie weg te kom van die werklikheid, ‘reis’ Errieda du Toit na die geure van Libanon danksy Sophia Lindop se kookboek.

Die voorblad van Sophia Lindop se nuwe kookboek spog nie met kleurvolle uitbeeldings van Midde-Oosterse en Mediterreense bestanddele of liplekker geregte wat blink van olyfolie nie. Dis eerder die eenvoud en stilte van ’n deurleefde vurk op ’n verweerde houtblad wat die oog tref en die boektitel Going Home. Food and stories from Lebanon, the land of my forefathers wat die hart raak.

Om in inperkingstyd die weelde van ’n nuwe Sophia-kookboek te hê, is soos om in die geselskap van ’n baie goeie kosvriendin te wees wat die intieme verhaal vertel van haar soeke na herkoms. Sy deel haar persoonlike reis na Libanon om die legkaart-stukke te gaan soek hoekom haar oupa- en oumagrootjie destyds die bekendheid van hul vaderland, Libanon,verlaat het vir die vreemde.

Deel van haar eie legkaart is dat sy ’n plaaskind van Douglas is met ’n Afrikaanse ma en Libanese pa. Die boek is die nakom van ’n belofte aan haar pa op sy sterfbed dat sy sal teruggaan “huis toe”, sy voorvaderland.

’n Aanhaling uit die boek “Ons dra almal in ons die mense wat voor ons gekom het,” bly my by in hierdie tyd wat ons verdieping en geborgenheid in familiebande soek.

Sophia se ryk vertellings en die kos wat haar ontdekkingsreis na haar wortels aan vaderskant uitbeeld, maak dit die ideale boek vir die bedkassie, kombuis en leunstoel.

Die resepte en hul stories neem jou deur die straatmarkies, restaurante, kafees en huiskombuise van Beiroet, en geregte soos suurlemoen-deurdrenkte pothoender en smeltsagte, knoffelgegeurde lamsvleis, vars kruie, aromatiese speserye en kraakvars slaaie.

Foto’s: HEIN VAN TONDER

Herinneringe van haar Libanese ouma se kombuistuin in Douglas met sy olyfbome, geil groentetuin vol minder bekende okra en eiervrug, wat nie algemeen was nie, raak ook deel van die storie-smeltpot.

  • Sodra ek ’n blikkie okra by my plaaslike deli kry en lamsnek van die slagter, maak ek die bamia-bredie. (Die resep is op my blog).

Met ’n groot kopkool in my groenterak en basmati op die spensrak kon ek die naweek die honger na ’n wandeling deur Beiroet se straatmarkies stil met mesha malfouf, koolblare gevul met geurige maalvleis en rys en gebak onder ’n kombers van tamatie.

Dit het sommer ook my verlange na my ma se ouvrou-onder-die-kombers gesus.

  • My laaste slopie heerbone het ek gebruik om Sophia se boontjieslaai te maak, ’n waardige vervanging vir die platbone, lima- of botterbone wat sy aanbeveel vir haar Fassolia aa’rida moutabale. Besoek Du Toit se blog Huiskok.com vir die resep van Sophia se okra- en lamsnekbredie.

WEN! Om ’n eksemplaar van Going Home, uitgegee deur Anneke Müller Publishing, te wen, stuur ’n e-pos aan errieda@ edtpr.co.za gemerk Going Home in die onderwerplyn. Gee jou naam en kontakbesonderhede en jou antwoord op die vraag hoekom jy graag die kookboek wil wen. Die sluitingsdatum is 16 Julie om 18:00.

Fassoliabone slaai (Fassolia aa’rida moutabale)

Maak 4 porsies.

Wat jy benodig

  • 300 g fassoliabone, oornag geweek (of groot platbone, lima- of botterbone) 
  • 1 knoffelhuisie, geskil en platgedruk
  • sout na smaak
  • sap en fyngerasperde skil van 1 suurlemoen
  • 4 eetlepels olyfolie
  • ’n handvol pietersielie, grofgekap
  • granaatpitte

Maak dan só

Dreineer die geweekte bone, spoel af, bedek met skoon water en kook met die deksel op – moenie enige sout byvoeg nie. Verwyder van die hitte wanneer hulle net begin sag word – hulle moet nie te sag wees nie. Dreineer. Voeg die knoffel, sout, suurlemoensap-en-skil, en olyfolie by en meng deur.

Laat afkoel.

Om te bedien, roer die pietersielie by en strooi die granaatpitte bo-oor.

Meer oor:  Errieda Du Toit  |  Resep  |  Versnit  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.