Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
RESEP: Hoenderborsies met vulsel op romerige pasta

Ek grawe verlede week in al wat ’n onwaarskynlike kas en krat is vir my matrieksertifikaat. Ná jare se relevante werkservaring én ’n universiteitsgraad, moet ek steeds my matrieksertifikaat toon vir registrasie as diensverskaffer vir ’n maatskappy wat by Seda wil registreer.

Foto: Mandi Botha

Ek mor nog so oor die tyd wat ek nie het vir so ’n soektog nie, toe my oog op ’n juweeltjie uit die jare 90 val: my flip file met uitgeskeurde tydskrifresepte. ’n Halfuur later blaai ek steeds, en onthou hoe mal die kinders was oor die botterskorsie met swartpeper en toffie-uie; die lamsboud gestop met repies groenvyekonfyt, roosmaryn en knoffel waarvan ek 17 vir my kleinsus se troue moes maak… dit het my tot Koningin van die Kombuis verhef in familiegeledere.

Die gevulde hoenderborsies op suurlemoenpasta het ek tot as ’n kookklas vir ongeïnspireerdes aangebied! Die suurlemoenpasta op sy eie het ’n staatmaker as sidekick op menige spyskaart geword.

Die resep is genoeg vir agt eters en vra net vir ’n lekker vars slaai om die ryk romerigheid van die dis te balanseer.

Bestanddele

  • 8 hoenderborsies met vel aan, oortollige vet afgesny
  • 30 ml olyfolie
  • 1 ui, gekap
  • 1 selderystingel, gekap
  • 50 g amandels, gekap
  • 30 ml gekapte pietersielie
  • 15 ml gekapte dragon
  • 15 ml gekapte grasuie
  • Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 350 g ricottakaas, gekrummel

Suurlemoenpasta

  • 500 g fettucini of tagliatelle
  • 2 houertjies room (500 ml)
  • 2 suurlemoene, skil gerasper en sap uitgedruk
  • varsgemaalde swartpeper na smaak
  • gerasperde parmesaankaas

Só maak jy

Verhit die oond tot 180 °C.

Maak met jou vingerpunte die vel liggies los van die hoenderborsie om ’n sakkie te vorm.

Verhit die olie en soteer die seldery en ui tot sag, voeg die neute by en roerbraai tot die neute goudbruin is.

Roer kruie by en geur na smaak met sout en peper. Laat dit afkoel. Meng ricottakaas by.

Versprei die vulsel onder die vel van die hoenderborsies en trek die vel weer oor die borsies. Plaas in ’n gesmeerde oondbak. Drup die olyfolie oor en geur na smaak met sout en peper.

Bak in die oond vir 40 tot 45 minute tot goudbruin en gaar.

Kook die pasta volgens die aanwysings op die pak in soutwater waarby die suurlemoensap gevoeg is.

Verhit intussen die room en suurlemoenskil en laat indamp met die helfte.

Geur na smaak en meng met gedreineerde pasta. Ek het die hoeveelheid hier verdubbel – die oorspronklike resep gebruik net een glasie room, maar ek vind die pasta slurp dit op en vra vir dubbeld soveel lekkerte.

Skep die pasta in ’n groot, plat opdienbord, rangskik hoenderborsies bo-op, sprinkel parmesaankaas oor en gaan maak jou gaste bly!

Meer oor:  Hoender  |  Resep  |  Pasta  |  Sampioene
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.