Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
RESEP: Kanarie se geel vir suikerbekkies

Met die meer sonnige lentedae, span Errieda du Toit soeter en sitrusrige resepte in.

Foto: Ian du Toit

Daar is iets hoopvol aan my 23-jarige suurlemoenboom wat die eerste keer wat dit ooit dra met ’n oorloop-oes opmaak vir die stadige begin. “Hou net uit, die son sal wel weer skyn.”

Dit plaas my in die kamp van kokke wat oorgenoeg suurlemoene het om in sout in te lê, bottels vol suurlemoenstroop te maak vir latere somerdrankies en tuisgemaakte suurlemoenmarmelade op die spensrak uit te stal.

Suurlemoensmeer, of te wel lemon curd, kom ook nou uit my eie hand eerder as ’n winkelflessie.

Toe lentedag aanbreek met sneeu op die berge, haal ek dié sonnige smeer uit die spens vir die kanariegeel suurlemoenpoeding wat ek hou vir sulke grou dae. Dis ’n poeding wat my die lieflike Boerneef-vers “Kaapse kanarie wat so geelkeel sing” laat neurie terwyl die sitrusgeure meng met die parfuum van die jasmynrank by my agterdeur. Dit wis die voetspore van die nare, vreemde winter uit en laat net die ligtheid van lente agter.

My eie suurlemoene maak ook hul debuut in die veerligte sjiffonkoek wat gebak word vir die eerste familiekuier in maande. Sjiffonkoek is ’n goeie keuse vir ’n viering en bied die beste van twee wêrelde. Die olie gee dit die ryk smaak van botterkoek, en dit bly langer klam as koeke wat met botter gemaak word. Die tikkie bakpoeier saam met die geklitste eierwit gee dit die veerligte tekstuur van sponskoek en silwerbrood (angel food cake).

  • Du Toit is die skrywer van tien kookboeke. Besoek haar blog by Huiskok.com.

Gebakte kanarie-suurlemoenpoeding

Die poeding se alles-in-een-mengbakmetode is net so maklik soos die suurlemoensmeer wat met groot sukses in die mikrogolfoond gemaak word.

Wat jy benodig

  • 100 g strooisuiker
  • 110 g botter, kamertemperatuur
  • 100 g koekmeel
  • 7,5 ml bakpoeier
  • 2 eiers
  • gerasperde skil van 1 suurlemoen
  • knippie sout
  • 5 ml vanieljegeursel
  • 325 g flessie suurlemoensmeer, tuisgemaak of gekoop (sien resep onder)

Opdiening: Geklitste room of mascarpone

Maak dan só

Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer ’n poedingbak met botter, bestrooi liggies met meel en skud oortollige meel uit. Jy kan die bak ook net met kombuissproei spuit.

Klits die suiker, botter, meel, eiers, suurlemoenskil, sout en vanieljegeursel saam in ’n mengbak totdat die beslag glad is. Giet in die gesmeerde bak, maak die bokant gelyk, stip 60 ml van die suurlemoenbotter bo-op en smeer effe met kartelbewegings deur die beslag.

Bak 20-25 minute tot goudbruin en nog drillerig in die middel.

Verhit die orige suurlemoenbotter in die mikrogolfoond of in ’n pannetjie tot warm en loperig. Skep die poeding in bakkies, bedruip met suurlemoenbotter en ’n skeppie room.

Maklike suurlemoensmeer

Hierdie resep van Vickie de Beer, voormalige kosredakteur van Rooi Rose, span die mikrogolf in vir ’n moeitevrye suurlemoensmeer.

Maak 5 x 250 ml flessies.

Wat jy benodig

  • 310 ml botter
  • sap van 6 groot suurlemoene
  • 680 ml strooisuiker
  • 5 ml sout
  • 9 ekstragroot eiers

Maak dan só

Smelt die botter in ’n diep mikrogolfvaste bak. Voeg die suurlemoensap, suiker en sout by en meng goed. Klits die eiers baie goed en roer by die suurlemoenmengsel in. Mikrogolf vir 4 minute, terwyl jy elke minuut roer.

Toets of die smeer dik genoeg is deur ’n houtlepel daarin te steek. Dis reg as die lepel se agterkant met ’n dik lagie bedek word. As dit nie dik genoeg is nie, mikrogolf nog ’n minuut en toets dan weer. Hou in gedagte dat die smeer verdik soos dit afkoel. Bottel die smeer terwyl dit warm is in skoon flesse en seël dadelik. Bêre in die yskas of op ’n koel plek.

Meer oor:  Errieda Du Toit  |  Nagereg  |  Suurlemoen  |  Resep
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.