Dié potjieresepte kom uit VIA (DStv-kanaal 147) se supergewilde kosprogram Laat die potte prut. Die resep hieronder is deur een van die program se wenspanne, Parow Troopers. Nuwe episodes van Laat die potte prut wys elke Donderdag om 20:00 met heruitsendings op Vrydag om 19:00 en Saterdag om 20:30.
Sous
- 50 ml brandewyn
- 1½ k rooiwyn
- 1½ k port of sjerrie
- 1 k blatjang
- ½ k worcestersous
- ½ k tamatiesous
- vloeistof van 1 blikkie botterbone
- 1 pakkie beesstertsoppoeier met koppie water gemeng
- 2 e Aromat
- roosmaryn en tiemie na smaak
- 1 t suurlemoenpeper
- 1 t sout
- 3 lourierblare
- 1 knoffelhuisie, fyngekap
Meng al die bogenoemde saam.
Potjie
- 2 kg beesstert
- 1 soetrissie, grofgekap
- 3 selderystingels, gekap
- 250 g knopiesampioene
- 1 blik botterbone sonder sous
- 20 klein aartappeltjies
Metode
1. Verbruin die vleis met ’n bietjie olie.
2. Voeg die soetrissie, seldery en bone by.
3. Maak die deksel toe en laat die pot op die medium kole staan (hoog genoeg van die kole af sodat dit nie kan aanbrand nie). Moenie die kole direk onder die pot sit nie. Sit ook so nou en dan ’n paar kole bo-op die deksel sodat daar hitte van bo af kom.
4. Ná omtrent drie uur, voeg die sampioene, aartappels en sous by.
5. Laat staan op die kole (met die deksel op) vir omtrent nog 40 minute (sit weer ’n paar kole op die deksel).
6. Kook dan vir so ’n kwartier sonder die deksel.
7. Bedien met groentegebak en potbrood.