Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Resep: Mango-heuning-vis

’n Maaltyd kan ’n duisend dinge sê: Ek is jammer, ek mis jou of selfs trou met my. In VIA (DStv-kanaal 147) se kosprogram Hartskos help die sielkundige en kok Elmarie Claassens kombuisleke om ’n bord kos en ’n spesiale boodskap vir ’n geliefde voor te berei. Nuwe episodes van Hartskos word elke Donderdag om 17:30 uitgesaai met heruitsendings op Sondae om 16:00.

In dié episode: Die rol van ouers en kinders verander baiemaal namate kinders volwassenes word. Vandag kook Efraine van Heerden vir haar ma, Mandie, ’n ete om te sê hoe lief sy haar het en hoe trots sy op haar is, want dit is vir Efraine soms makliker om deur middel van dade te wys hoe sy voel, eerder as om te sê.

Bestanddele vir diepgebraaide vis

* 1 heel vis (ongeveer 1 kg), binne skoongemaak en skubbe afgekrap

* growwe sout – (ongeveer 4 koppies)

* mielieblom om vis in te doop

* sonneblomolie vir diepbraai

Bestanddele vir sous

* 1 liter mangosap

* 1 k rysasyn

* 1 k heuning

* 3 e palmsuiker (of vervang met bruinsuiker)

* 5-10 rooi rissie, gekap (of na smaak)

* 4 cm vars gemmer, gesny in dun repies soos vuurhoutjies

* 1 e vissous

* 5-6 koemkwats, in ringe gesny

* 2 e mielieblom in water opgelos (opsioneel)

* 2 rooi soetrissie, in dun repe gesny

* 1 groot wortel, in dun repies gesny – soos vuurhoutjies

* 1 k vars pynappel, in blokkies gesny

* ½ k grenadellapulp

Garnering

* ’n handvol geroosterde amandelvlokkies

* 2 kersies vir garnering van oë

* 4 sprietuie, diagonaal gesny

* 1 lemmetjie in kwarte gesny

* ’n handvol vars koljander, gekap

Opsionele bestanddele

* rysnoedels, diepgebraai

* Brusselse spruite, gestoom en in sesamolie gebraai

Metode

1. Maak die sous eerste. Kook die eerste agt bestanddele vir die sous oor ’n lae hitte sodat die geure ontwikkel.

2. Kook die sous af tot stroperig of gebruik die mielieblom in water om die sous te verdik.

3. Voeg die vrugte, groente en neute by net voor opdiening.

4. Sout die vis vrygewig en laat dit rus in die sout vir 20 minute.

5. Spoel die vis goed af onder lopende water en maak die vis ordentlik droog met kombuispapier.

6. Gebruik ’n skerp mes en sny diep, diamantvormige kepe aan albei kante van die vis.

7. Bedek die vis ordentlik met mielieblom en braai diep in warm olie (180 °C) tot goudbruin.

8. Hou die vis se stert effens bo die olie terwyl dit braai – dit sal keer dat die stert nie afbreek nie.

9. Dreineer dit op handdoekpapier.

10. Plaas die vis op ’n ovaal opdienbord (op rysnoedels as verkies). Druk die kersies in die gaar vis se oë.

11. Gooi die sous oor die vuurwarm vis met genoeg groente en vrugte. Die goudbruin vis sal die sous intrek soos ’n koeksister.

12. Garneer en bedien dadelik.

Meer oor:  Via  |  Elmarie Claassens  |  Hartskos  |  Kos  |  Resepte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.