Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Resep: Marinda se maklike macaroni-en-kaas

Op VIA (DStv-kanaal 147) se kosprogram Maklik met Marinda gee Marinda Engelbrecht kitsklasse vir bekendes wat sukkel in die kombuis.

In dié episode: Marinda kook saam met Louise, haar skoondogter. Haar seun, PG, beweer Louise se macaroni-en-kaas proe nie soos sy ma s’n nie.

Macaroni-en-kaas

Bestanddele

½ pak macaroni

3 Duitse worsies (bv. Käsegriller), in klein blokkies gesny

750 ml melk

2 eiers, geklits

60 ml botter

60 ml meel

sout en peper na smaak

250 ml gerasperde kaas

2 groot tamaties, in skywe gesny

rooipeper na smaak

Metode

Kook die macaroni tot net gaar. Dreineer en gooi dit in ’n oondvaste bak. Voeg die worsies by, roer deur en sit eenkant. Meng 250 ml van die melk met die eiers en roer dit by die macaroni-en-worsiemengsel in.

Maak nou ’n witsous:

Smelt die botter in ’n pot en roer die meel in tot glad. Verwyder van die hitte en gooi die oorblywende melk geleidelik by terwyl jy aanhoudend klits.

Sit die pot terug op die hitte en roer tot dit verdik het. Verwyder van die hitte en geur met sout en peper.

Gooi die witsous oor die macaroni en sprinkel die kaas eweredig bo-oor.

Rangskik die tamatieskywe bo-oor, geur die tamatie met sout, peper en rooipeper, en bak in ’n voorverhitte oond vir 30 minute teen 180º C of tot gaar en gestol.

Bedien 4 – 6 porsies met ’n lekker slaai.

Broccolihoender

Bestanddele

1 ui, in blokkies gesny

olie om uie in te braai

500 ml witwyn

250 ml water

2 naeltjies

2 takkies roosmaryn en tiemie

4 hoenderborsies of een heel hoender

sout en peper

300 g stukke broccoli

½ pakkie sampioensoppoeier

500 ml melk

kerriepoeier na smaak

250 ml mayonnaise

40 ml suurlemoensap

350 ml kaas

Metode

In ’n groot pot, verhit die olie en braai die uie tot glaserig.

Voeg die wit wyn, water, naeltjies, roosmaryn, tiemie en hoender by en geur na smaak met sout en peper.

Kook die hoender tot sag.

Haal die hoender uit die pot, maar hou die aftreksel.

Verwyder die hoender se vel en bene en vlok die res van die hoender.

Plaas die gevlokte hoender in ’n oondvaste bak.

Plaas die broccoli in die hoenderaftreksel en kook tot net sag. Dreineer en plaas die broccoli bo-op die gevlokte hoender.

In ’n aparte pot, meng die sampioensoppoeier en melk en verhit stadig totdat dit begin verdik.

Voeg die kerriepoeier, mayonnaise en suurlemoensap by en kook vir omtrent 4 minute.

Verwyder van die hitte en gooi oor die hoender en broccoli. Sprinkel die kaas oor en bak in ’n voorverhitte oond vir 30 minute teen 180º C of totdat die kaas gesmelt het en die hoender warm is.

Bedien 6 porsies met oondgeroosterde groente.

Romerige mossels

Bestanddele

60 ml botter

1 ui, in blokkies gesny

8 knoffelhuisies, fyngekap

2 selderystingels, in skyfies gesny

500 ml droë witwyn

2 lourierblare

3 takkies tiemie

1 kg halwe mossels of toe skoongemaakte mossels

250 ml room

Sout en peper

125 ml fyn gekapte vars pietersielie

Metode

Smelt die botter in ’n pot en braai die ui tot glaserig. Voeg die knoffel en seldery by en braai totdat die seldery sag is.

Voeg die wit wyn, lourierblare, tiemie en mossels by. Plaas die deksel op die pot en laat die mossels vir 7 minute gaar stoom.

Verwyder die mossels wat nie oopgegaan het nie (as jy nie halwe mossels gebruik nie).

Haal die res van die mossels uit die pot, maar hou die vloeistof. Plaas die gaar mossels in ’n opdienbak.

Gooi die mossels se vloeistof deur n sif, plaas dit terug in die pot en voeg die room by.

Kook vir 3 minute en geur na smaak met sout en peper.

Gooi die warm sous oor die mossels en sprinkel die fyngekapte pietersielie bo-oor.

Bedien 4 – 6 porsies met vars brood en ’n groen slaai. Dit kan ’n voor- of hoofgereg wees.

  • Nuwe episodes van Maklik met Marinda word elke Donderdag om 17:30 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai met heruitsendings op Sondae om 16:00.

Meer oor:  Via  |  Marinda Engelbrecht  |  Resepte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.