Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Resep: Pampoenkoekies
Pampoenkoekies

Ná 27 jaar het die gewilde resepteboek Boerespyse ’n nuwe baadjie gekry: Hartskombuis: Boerekos van die ABO tot vandag. Die resep vir pampoenkoekies is in dié boek te vind.

Terwyl die vredesonderhandelinge by Vereeniging aan die gang was, het Jan F.E. Celliers een pond te lene gekry waarmee hy kos in die omgewing wou koop. By ’n plaas naby aan die laer wou die boer egter niks aan hom verkoop nie. Toe hy moedeloos omdraai, roep die man hom terug.

“Hij had twee pampoenen in zijn handen en gaf ze mijn present,” word Celliers in Oorlogsdagboek van Jan F.E. Celliers aangehaal.

Dit was genoeg voorraad vir vier dae – ’n halwe pampoen per dag, fyngekook met ’n paar hande vol meel daardeur geroer, was voldoende kos vir een dag.

Die Boerekryger P.J. Jacobs vertel ook hoe hulle op kommando soms van sorghum en gekookte pampoen ’n soort pampoenkoekie gemaak het.

Jy benodig:

  • 750 ml (3 k.) gaar boerpampoen, fyngemaak om ’n pulp te vorm
  • 3 eiers, goed geklits
  • 60 g (½ k.) koekmeel
  • 2 ml (½ t.) sout
  • 20 ml (4 t.) bakpoeier
  • ’n Bietjie melk, indien nodig
  • Kookolie om in te braai
  • Kaneelsuiker
  • Suurlemoenskyfies

Só maak ’n mens:

1. Meng die pampoen en eiers.

2. Sif die droë bestanddele saam.

3. Voeg dit by die pampoenmengsel en meng deeglik. Die mengsel moet slap wees. Voeg ’n bietjie melk by indien nodig.

4. Giet die olie ongeveer 1 cm diep in ’n braaipan en verhit.

5. Skep lepelsvol van die pampoenmengsel in die olie en braai alkante. Draai die koekies om wanneer dit goudbruin aan die een kant is. Wees versigtig om dan nie die ander kant te lank te braai nie.

6. Plaas die koekies direk uit die pan op ’n vadoek sodat die ergste olie kan dreineer.

7. Skep die koekies oor in ’n opdienskottel en sprinkel kaneelsuiker oor. Sit dit voor saam met suurlemoenskyfies en ekstra kaneelsuiker.


Hartskombuis bevat meer as 100 resepte en is ook propvol geskiedkundige brokkies en pragtige foto’s.
Hartskombuis
Hartskombuis bevat meer as 100 resepte vir alles van boereworspastei tot tamatiebredie en ’n magdom nageregte en gebak. Dit is ook propvol geskiedkundige brokkies en pragtige foto’s van voorwerpe uit die ­Anglo-Boereoorlog. Die boek word deur Tafelberg uitgegee en is in boekwinkels beskikbaar teen R300. 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.