Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
RESEP: Retro is altyd in die mode

Tydens ’n besoek aan Worcester het Errieda du Toit weer die lekkerte van ouskool-geregte beleef.

Die Covid-19-era druk sy eie stempel af op hoe en wat ons in ons eie huise eet, maar ook op uiteet. Retro-geregte veral beleef ’n renaissance op restaurant-spyskaarte.

Een sonnige herfsdag onderneem ek en my eetmaat Ian ’n pelgrimsreis na Fowlers-restaurant in Worcester. Die Kerkstraat-perseel in die hartjie van die middedorp word al bykans 35 jaar verbind met uiteet, lekker kos en kuier.

“Die ouer garde onthou die plek in Kerkstraat nog waarskynlik as die St. Geran-restaurant wat destyds begin is deur Andre Fowler,” vertel Peter Basson, die joviale eienaar van die landmark-eetplek. “In my kinderjare het my pa-hulle spesiaal uit Ceres gery om geregte soos die ‘continental pepper steak’ uit die era hier te kom eet.”

Die motivering vir my spesiale uittog oor die berg is om hul cordon bleu-huisspesialiteit op my emmerskop-lysie te beproef. Terwyl die Franse en die Switsers nog aan die stry was oor wie oorspronklik die cordon bleu geskep het, het Fowlers besluit om hul eie kinkel daaraan gegee. Dis die einste weergawe waarmee Edwin Theron, die jong Kokkedoortjie-wenner van Worcester, in 2017 die kampioenskapskroon in die eindronde gewen het. Edwin het dit spesiaal by Fowlers gaan leer maak ter voorbereiding van sy deelname aan die kykNET-kookkompetisie.

Hoewel Peter en Jana Laubscher, sy vennoot, die ou eetplek gemoderniseer het, ’n houtstook-pizza-oond ingebou het, die interieur in ’n kontemporêre houtskool-grys uitgedos het, en die spyskaart sedert Covid-19 ietwat hersien het, seëvier klassieke ouskool-geregte steeds: slakke in knoffelbotter, gekrummelde sampioene, peri-peri-hoenderlewertjies, braaisnitte, schnitzels en souse, tongvis, koningklip, surf ’n turf-kombinasies, spareribs in ’n taai sousie en burgers. Hier word die tjips nog met die hand gesny, terwyl geroomde spinasie, uieringe en gebakte aartappel ’n gerusstellende verskyning maak.

Aan die soet kant skuur die tradisionele malvapoeding skouers met crème brûlée en immergroen roomys en sjokoladesous. Don Pedro of Irish Coffee laat herleef verder die goue era van uiteet.

  • Fowlers is in Kerkstraat 48, Worcester-Sentraal. Die Ceres-tak is in Voortrekkerstraat. Bel hulle by 023 347 8761. Daagliks oop vir middag- en aandete. Toe op Maandae, Saterdagmiddae en Sondagaande.

Foto’s: Ian du Toit

Fowlers se peri-peri-hoenderlewers

Wat jy benodig

  • 500 g hoenderlewers
  • 1 rooi-ui, in repe gesny
  • olyfolie en botter vir gaarmaak
  • 100-200 ml peri-peri-sous
  • 250 ml room
  • geroosterde ciabbata vir bediening

Maak dan só

Verhit die olie en botter in ’n pan totdat dit begin sis. Braai die uie en hoenderlewers oor hoë hitte totdat die lewertjies kleur kry, maar nog nie deurgaar is nie. Verminder die hitte, voeg die peri-peri-sous en die room by en laat prut ’n bietjie totdat die sous effe verdik. Bedien met geroosterde ciabatta.

Legendariese sous
Fowlers se romerige peper-sjerrie-en-speksous wat saam met die kontinentale pepersteak bedien word, is legendaries. Berei die basissous as volg voor: Kook 1 liter room, 350 ml sjerrie, 100 ml groen Madagaskar-peperkorrels en 50 ml gestampte swartpeper saam totdat die sous verdik. Om die finale sous te maak, meng 2 dele van die basissous met 1 deel witsous om die soet van die sjerrie effens te breek. Die sous moet dik genoeg wees om nie af te loop van die steak nie.


Meer oor:  Voorgereg  |  Errieda Du Toit  |  Covid-19  |  Uiteet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.