Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
RESEP: Russiese tert (Jodetert)

Om dit te bak is ’n liefdestaak, om dit te eet is pure plesier.

Foto’s: IAN DU TOIT | Stilering: HANNES KOEGELENBERG

Hierdie resep is uit Uitgesoekte resepte, ’n ikoniese gemeenskapsresepboekie wat die Potgietersrus-tak van die SAVF in 1961 uitgegee het. C. Fouche het dit opgedra aan haar ouma en oupa, ’n versekering dat die resep betroubaar is.

Maak ’n dag voor die tyd.

Lewer 1 x 20 cm-seslaag koek/tert.

Wat jy benodig

Deeg

  • 450 g koekmeel (afgeweeg)
  • 10 ml bakpoeier
  • knippie sout
  • 200 g (250 ml) suiker
  • 225 g botter (moet sag wees)
  • 2 eiers, geklits

Vulsel (bakkersvla)

  • 1 vanieljepeul, oopgesny en sade uitgeskraap/10 ml vanieljegeursel
  • 500 ml melk
  • 6 eiergele
  • 100 g strooisuiker
  • 30 g koekmeel
  • versiersuiker om oor te sif

Maak dan só

Voorverhit die oond tot 180°C.

Deeg: Sif die meel, bakpoeier en sout saam. Voeg die suiker by en meng.

Vryf die botter in die meelmengsel met jou vingerpunte of voedselverwerker in. Voeg die eiers by en meng om ’n sagte deeg te vorm. Verdeel die deeg in 6 stukkies van + 160 g elk. Plaas dit in ’n houer met deksel en laat 30 minute rus.

Om perfekte ronde sirkels te vorm, gebruik 2 x 20 cm koekpanne. Spuit die boom van die panne met kleefwerende kossproei en plaas sirkels bakpapier op die boom van die panne. Plaas ’n stukkie deeg in elke pan en druk dit met die onderkant van ’n glas egalig plat.

Bak 8-10 minute lank of tot ligbruin en gaar. Laat dit in die panne afkoel en lig dan versigtig uit met ’n eierspaan of spatel. Herhaal met die res van die deeg.

Vulsel: Verhit die vanieljesade of geursel en melk in ’n kastrol en bring tot kookpunt.

Meng die eiergele, suiker en meel in ’n mengbak.

Bring die melk weer tot kookpunt. Giet oor die eiermengsel en giet die eier-melkmengsel terug in die kastrol. Bring tot kookpunt en roer voortdurend tot die mengsel verdik, laat nog 2 minute kook. Nou kan enigiets bygevoeg word, soos gemmerstukkies, kersies, okkerneute of siterkonfyt. Bedek met kleefplastiek. Laat afkoel. Verwyder plastiek en skep vlamengsel in spuitsak met 1 cm-tuit.

Plaas eerste koeksirkel op bord, spuit vulsel in spiraal oor en plaas tweede koeksirkel bo-op. Herhaal tot al die sirkels en vulsel op is. Sif versiersuiker oor en sit voor. In sommige variasies word een laag gekrummel en bo-oor gestrooi.

Meer oor:  Resep
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.