Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
RESEP: Smulbobotie met bykosse

In VIA (DStv-kanaal 147) se kosprogram Heerlik halaal kook en kuier die susters Gadija Gamieldien en Mymoena Bey by vriende om die kosjuwele van die halaalkombuis te verken – en hulle wil hê nie-halaaleters moet saamsmul.

In dié episode: Pampoentert, lensieslaai en bobotie is op Yolande Conradie van Hartebeespoort se spyskaart wanneer Gadija en Mymoena in haar kombuis kom kook.

Lekkerste melktert

x

Bestanddele vir die kors

  • 125 g botter / margarien (kamertemperatuur)
  • 1/2 koppie suiker
  • 1 eier, geklits
  • 2 koppies koekmeel
  • 2 teelepels bakpoeier
  • knippie sout

Metode

1. Voorverhit oond tot 200°C. Smeer/spuit twee middelslag tertborde.

2. Klits die botter/margarien en suiker deeglik, totdat dit botter/margarien lig van kleur is.

3. Voeg die eier by en meng deeglik.

4. Sif die droë bestanddele saam.

5. Meng die meelmengsel met die eiermengsel tot ’n deeg.

6. Druk dit baie dun teen boom en kant van die tertborde. Sny die deeg gelyk bo die rand van die tertborde.

7. Bak die korse “blind”* vir 8 minute.

8. Haal uit na 8 minute terwyl die vulsel berei word; draai oond af na 190°C.

  • Om blind te bak: Bedek die rou kors met waspapier, en sit droë bone/rys op die waspapier.

Bestanddele vir die vulsel

  • 800 ml melk
  • 4 eetlepels mielieblom (Maizena)
  • 4 eetlepels koekmeel
  • knippie sout
  • 1 koppie suiker plus nog 100 ml apart
  • 250 g botter
  • 4 eiers, geskei
  • 2 ml vanillageursel
  • kaneel

Aanwysings

1. Meng ’n driekwart koppie melk met die mielieblom, meel, sout en suiker.

2. Meng tot glad en klits indien nodig.

3. Kook die res van die melk op die stoof. Sodra dit begin kook, klits die meelmengsel in die melk in.

4. Hou aan om dit te roer oor medium hitte totdat die mengsel begin prut.

5. Voeg die botter by en roer in.

6. Klits die eierwitte styf met skoon klitsers, en hou dan eenkant.

7. Klits die eiergele en voeg dit by die melkmengsel saam met die vanieljegeursel.

8. Vou die eierwitte in die mengsel.

9. Skep die vulsel in die tertkorse en laat dit bak vir 25 minute by 190°C.

Pampoentert

x

Dié is ’n baie toegewende resep. Selfs diegene wat voel dat hulle nie baasbaksters is nie, sal maklik hierdie tert baasraak.

Bestanddele

  • 2 koppies gekookte pampoen, fyngedruk en afgekoel
  • ½ teelepel sout
  • 175 ml suiker
  • 3 eiers, geklits
  • 100 ml koekmeel
  • 15 ml bakpoeier
  • 175 ml melk
  • 2 eetlepels botter

Aanwysings

1. Voorverhit dit oond tot 180°C.

2. Klits die botter, suiker en eiers saam.

3. Sif die meel, bakpoeier en sout by en meng.

4. Roer die melk en pampoen by.

5. Bak vir ongeveer 45 minute of tot gaar.

6. Berei die sous voor terwyl dit bak.

7. Bestanddele vir sous

8. 1 koppie ingedampte melk

9. 250 g botter

10. 125 ml kookwater

11. 250 ml suiker

Aanwysings

1. Kook bogenoemde bestanddele saam. Jy kan dit in die mikrogolfoond in ’n glasbeker of mikrogolfbak doen.

2. Sodra die gaar pampoentert uit die oond kom, steek dit ’n paar keer met ’n mes tot op die boom van die bak.

3. Giet die warm sous oor. Sit vir 5 tot 10 minute terug in die oond.

Smulbobotie

x

Bestanddele vir mengsel 1

  • 30 ml borrie
  • 30 ml kerriepoeier (matig)
  • 45 ml sagte bruinsuiker
  • 45 ml gemaalde gemmer
  • 15 ml sout
  • 5 ml komyn (jeera)
  • peper na smaak
  • 75 ml botter
  • 5 groot uie, gekap

Bestanddele vir mengsel 2

  • 1,5 kg maer maalvleis
  • 2 dik snye witbrood
  • 200 ml rosyne
  • 90 ml blatjang
  • 60 ml appelkooskonfyt
  • 45 ml tamatiepasta
  • 45 ml asyn
  • 45 ml Worcestersous

Bestanddele vir mengsel 3

  • 450 ml melk
  • 3 eiers
  • lourier-/suurlemoenblare

Aanwysings

1. Berei eerste mengsel twee voor.

2. Week die witbrood in water, druk die meeste vog uit en meng dit met die res van mengsel twee se bestanddele.

3. Meng dit goed deur en laat die mengsel in die yskas staan terwyl jy mengsel een berei.

4. Hou mengsel een se uie en botter apart. Plaas al die ander bestanddele in mengsel een in ’n warm dikboomkastrol.

5. Verhit dit goed en roer dit lekker om. Wees versigtig om dit nie te brand nie.

6. Voeg dan die botter by. Sodra die botter gesmelt is, roer die uie by.

7. Maak die kastrol toe en draai die hitte laag sodat die uie saggies in die speserymengsel kan verbruin.

8. Meng nou mengsels een en twee se bestanddele in die kastrol. Kook dit vir 20 minute oor matige hitte en roer gereeld.

9. Skep dit in ’n groot oondvaste bak, of gebruik twee medium oondbakke.

10. Klits die melk en eiers saam en giet dit oor die vleismengsel. Bak dit vir ongeveer 45 minute by 180°C.

11. Sit voor met klapper, blatjang en piesangskywe.

Yolandé se Hartiesslaai

x

Bestandele

  • ½ koppie gaar lensies, afgekoel
  • 2 rooi uie
  • 1 houertjie aarbeie
  • 15 rosatamaties
  • 1 avokado
  • mikroblaarslaai
  • suurlemoenpeper na smaak
  • sout na smaak
  • 1 teelepel witsuiker
  • 45 ml balsamiese crema
  • Parmesaanskerwe (opsioneel)

Metode

1. Sny die uie in blokkies en meng. Was, droog en halveer die aarbeie en tamaties en meng dit met die uie.

2. Meng suurlemoenpeper, sout en witsuiker by die uiemengsel.

3. Meng die lensies in. Sny die avokado in blokkies en meng saggies deur.

4. Skep op elke bord ’n porsie van die mengsel, en sit dan van die mikroblare bo-op.

5. Rond dit af met ’n skeut balsamiese crema en ’n paar parmesaanskerwe.

  • Nuwe episodes van Heerlik halaal wys elke Donderdag om 17:30 op VIA (DStv-kanaal 147).
Meer oor:  Resepte  |  Via  |  Heerlik Halaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.