Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
RESEP: Toor met dié lekker maak-en-breek-brood op die kole

Dis nou maar iets waaroor min mense kan stry – daar is niks lekkerder nie as ’n tuisgebakte brood, warm uit die oond of pot, gesmeer met plaasbotter wat tot binne-in die brood smelt en dan gepoets word met konfyt of kaas.

Dis tyd vir die maak-en-breek-brood. Jy sal nie spyt wees nie; dis immer ’n verleidelike lekkerte.

Hulle sê as jy jou huis wil verkoop, dan moet jy brood bak kort voordat potensiële kopers besoek aflê – net daardie warm geur van aardskos wat warm in die lug drentel, gaan genoeg wees om hulle dadelik op die stippellyn te laat teken.

Die proses van broodbak self is ook vir my elke keer byna soos towerkuns wat plaasvind. Die bymekaarbring van meel, gis en water wat ’n onweerstaanbare eindproduk vorm.

Maar dit gaan nie nou oor die fyner kuns hiervan nie, maar eerder ’n lekkerte wat selfs ’n broodbak-leek in ’n kulinêre held kan omskep – die maak-en-breek-brood.

As jy ’n wafferse broodbakker is, maak gerus jou eie deeg aan, maar vir die gemakstoel-bakkers kan winkeldeeg gekoop word.

Die konsep is baie maklik: Rol die deeg uit, bedek hom met allerlei lekkerhede byna soos ’n pizza, rol op, sny ringe, pak in ’n pot of oondskottel, bak en siedaar.

Dit is perfek vir in die swartpot pak om op die braaivuur gaar te maak, en immer ’n verleidelike lekkerte.

Hiervoor is daar nie eintlik ’n resep nie, net ’n basiese metode, en die res is jou verbeelding.

Maak so:

  • Neem ’n bondel brooddeeg, ongeveer twee keer die grootte van ’n tennisbal en rol uit totdat dit so ’n halwe sentimeter dik is in ’n reghoek van so 30 x 40 cm.
  • Vir ’n eenvoudige braaibroodjie-vulsel kan jy die deeg smeer met ’n bietjie blatjang, pesto of soetrissiesous.
  • Sprinkel die oppervlak met gerasperde kaas, pak hom dan vol met baie dun gesnyde skywe tamatie en uie en sout en peper na smaak. Rol hom versigtig in ’n langwerpige rol op. Verseël sy naat met ’n bietjie water.
  • Sny in skywe van ongeveer 3 cm dik en pak die wieletjie plat al langs mekaar in jou goed gesmeerde swartpot, maar moenie te styf teen mekaar pak nie.
  • Plaas die deksel op en laat die gedoente rys vir 45 minute.
  • Maak intussen seker jy het ’n klomp kole in jou vuur. Plaas jou pot op sy staanplek, soos ’n driepoot, en gooi ’n gloeiende bedding kole onder die pot. Maak dieselfde bo-op die deksel.
  • Die brood bak vir ongeveer 45 minute, en jy gaan halfpad deur nog ’n klompie kole bo en onder moet skep.
  • Met die lig van die deksel behoort jy ’n pragtige pot vol gebakte deeg- sirkels styf teen mekaar te hê, goudbruin met die kaas wat uitsmelt.
  • Laat die pot effe afkoel voordat jy die maak-en-breek-brood uithaal. Dan gaan jy en jou gaste eenvoudig met jul hande die wiele uitmekaar skeur en heerlik daaraan smul.

Jy kan na hartelus speel met allerlei vulsels waarvan jy jou gunsteling-braaibroodjies maak.

Vir die soettand kan jy die uitgerolde deeg met suiker en kaneel sprinkel.

Laat die wieletjies rys soos bo genoem en voor die bakslag voeg jy ’n koppie room by, waarby ’n halwe koppie suiker ingemeng is.

Geniet dit!

Meer oor:  Brood  |  Resep
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.