Op VIA se kosprogram Maklik met Marinda gee Marinda Engelbrecht kitsklasse vir bekendes wat sukkel in die kombuis. Gideon Lombard, akteur, skrywer en musikant, is heel gemaklik agter haar kospotte, maar sy leer hom wel nuwe dinge: haar worspastei met Italiaanse sous, slaai en ’n blitsige sjokolademousse.
Worspastei met Italiaanse sous
Bestanddele vir pastei
1 rol skilferkorsdeeg
600 g gaar kapokaartappels
4 gaar varkworsies
250 ml gerasperde cheddarkaas
melk of ’n geklitste eier
Metode
Rol die deeg op ’n gesmeerde bakplaat oop.
Smeer ’n laag kapokaartappels oor.
Pak die varkworsies in ’n lang ry op die aartappels.
Smeer nog kapokaartappels bo-oor.
Strooi die kaas oor.
Rol die deeg toe soos ’n wors en sny kepe daarin. Verf met melk of eier.
Bak 40 minute by 180 °C.
Bestanddele vir Italiaanse sous
30 ml olyfolie
1 ui, in blokkies gesny
15 ml fyngekapte knoffel
5 ml tot 10 ml brandrissievlokkies
400 g bruin sampioene, in skyfies gesny
sout en peper na smaak
410 g heel tamaties, kleiner gesny of fyngedruk
410 g tamatiepuree
15 ml gewone asyn
suiker na smaak
45 ml basiliepesto of ’n handvol geskeurde basiliekruidblare
Metode
Verhit die olie in ’n pot en braai die ui liggies.
Voeg die knoffel en brandrissievlokkies by en braai tot geurig.
Sit die sampioene by en braai tot gaar.
Geur met sout en peper en roer die geblikte tamaties, tamatiepuree en asyn by.
Geur na smaak met die suiker en bring tot kookpunt. Verlaag die hitte en prut ’n halfuur of langer totdat jou sous dieprooi en lekker is.
Roer die pesto of basiliekruidblare in en bedien.
Peer-en-bloukaasslaai
Bestanddele vir slaaisous
90 ml olyfolie
20 ml wit druiweasyn
8 ml heuning
5 ml Dijonmosterd
Sout en peper
Meng al die bestanddele in ’n konfytfles en hou dit eenkant.
Slaai
90 ml okkerneute, grofgekap
6 koppies gemengde slaaiblare, fyner geskeur
10 dadels, fyner gesny
2 pere, in dun wiggies gesny
100 ml gekrummelde bloukaas
Metode
Rooster die neute in ’n pan.
Sit die res van die bestanddele in ’n bak. Krummel die bloukaas daaroor en giet die slaaisous oor.
Blitsige sjokolademousse
Bestanddele
1 boksie kitssjokoladepoeding-mengsel
30 ml kakaopoeier
1 liter room
Metode
Meng die sjokoladepoeding en kakaopoeier.
Voeg 750 ml room by en klits met ’n elektriese klitser tot lekker donsig.
Skep in glase.
Klits die orige room en sit bo-op. Sit in die yskas.
Versier met kersies of gerasperde sjokolade indien verkies.
- Nuwe episodes van Maklik met Marinda is Woensdae om 17:30 op VIA (DStv-kanaal 147).