Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
RESEPTE: Dié boek is ’n speseryreis

Die laaste dae van die herfs lê my na aan die hart en een van die redes is dat dit die kombuisdeur oopmaak vir my gunstelingkosse: behaaglike bredies en soppe, kerries en gebakte poedings.

Met Cariema Isaacs se nuutste boek, Spice Odyssey, gaan die speserylaai ook oopgetrek word om die warmte van speserye in te nooi.

Isaacs het my gevra om die voorwoord vir haar boek te skryf, so ek leef al ’n ruk saam met die wonderlike vooruitsig van haar ode aan speserye.

Hiervoor het sy die aromatiese spoor gevolg van die geurgevulde strate van die Bo-Kaap, waar sy groot­geword het, tot die speserywoude en -markte in Sri-Lanka, Indië, Maleisië en die Midde-Ooste.

Sy is ’n ware speseryfluisteraar wat die taal kan praat van anys, asafetida, karwy en kassia tot Kasjmirse rissie, fenegriek en swart komyn. Sy reël op die blaaie vir jou ’n blye ontmoeting met ou bekendes soos kaneel, naeltjies en gemmer; lig die sluier oor die misterieuse Indiese swart sout kala namak; en prikkel jou begeerte vir die weelde van saffraan.

As jy, soos ek, geboei word deur die stories agter geregte, gaan Spice Odyssey jou ure voor ’n knetterende kaggelvuur laat deurbring met die boek in die hand.

Dis hier, in die hoofstukke met name soos “Essence”, “Cherish”, “Warmth”, “Harvest”, “Feast”, “Preserve” en “Comfort”, dat jy resepte gaan vind wat jou en jou geliefdes deur die koue knus om die tafel bymekaar sal bring.

Wen jou eie een!

Spice Odyssey, geskryf deur Cariema Isaacs, word deur Struik Lifestyle (deel van Penguin Random House) uitgegee.

Om ’n eksemplaar van hierdie pragtige volkleurboek met sy aanloklike resepte en foto’s te wen, e-pos jou naam, kontakbesonderhede en antwoord op die kompetisievraag na errieda@edtpr.co.za.

Dui aan in die onderwerplyn: Die Burger Versnit Spice Odyssey.

Die kompetisievraag is: Hoekom wil jy Isaacs se nuwe boek wen?

Die kompetisie sluit môre om 12:00.


Kaaps-Maleise broodpoeding

Kaaps-Maleise broodpoeding. Foto: Foto’s: Myburgh du Plessis

Wat jy benodig

  • 6 botter-croissants
  • 500 ml melk
  • 250 ml strooisuiker
  • 10 ml vanieljegeursel
  • 10 ml fyn kaneel
  • 3 groen kardemompeule, gekneus
  • 125 ml lig geroosterde amandel- vlokkies, plus ekstra vir oorstrooi
  • 125 ml goue sultanas
  • 6 mediumgrootte eiers
  • 250 ml dik room

Maak dan só

Voorverhit die oond tot 180 °C. Plaas croissants in ’n oondvaste bak en bak vir 10 minute.

Verhit die melk en strooisuiker in ’n kastrol oor matige hitte totdat dit begin kook en voeg die vanieljegeursel, kaneel en kardemom by. Hou eenkant tot afgekoel.

Verwyder die kardemompeule.

Breek die croissants in stukke en plaas ’n laag daarvan in dieselfde oondbak, sprinkel die amandelvlokkies en sultanas bo-oor die eerste laag en bedek met ’n tweede laag stukke croissant.

Klits die eiers by die afgekoelde gegeurde melk en giet eweredig oor die croissant-lae.

Plaas die broodpoeding in die oond en bak vir sowat tien minute.

Verhit intussen die room oor matige hitte en hou eenkant.

Haal die skottel uit die oond, giet die warm room oor die poeding en sprinkel orige amandelvlokkies oor.

Plaas weer in die oond en bak nog tien tot vyftien minute totdat die room borrel en die kors goudbruin is.

Bedien met room indien verkies terwyl dit nog warm is.

Wenk: Hoewel ou brood wat geweek is, tipies gebruik word vir broodpoedings, word Umm Ali van vars blaardeeg of gebotterde croissants gemaak vir ekstra weelde.

Dit kan ook met brioche, palmierkoekies of gemmerkoekies gemaak word.


Thaise groenkerrie

Thaise groenkerrie
Thaise groenkerrie

Wat jy benodig

  • 15 ml grondboon- of klapperolie
  • 750 g hoenderborsfilette, opgesny in 2.5 cm repies
  • 400 g klappermelk
  • 6 Thai-lemmetjieblare
  • seesout, na smaak
  • ’n halwe bossie vars Thai-basiliekruid
  • 6 vars koljanderblare, vir garnering
  • 2 rooi brandrissies, opgesny, vir garnering
  • 2 lemmetjies, in kwarte gesny

Groenkerrie-pasta

  • 2 takkies sitroengras, gekneus
  • 4 knoffelhuisies, fyn gestamp
  • 2 salotte, fyngekap
  • 1 duimlengte stuk galangal of vars gemmer, geskil en fyngekap
  • 4 Thai-lemmetjieblare
  • 2 groen Bird’s Eye-brandrissies
  • 5 ml fyn komyn
  • ’n halwe bossie vars koljander
  • 2,5 ml sout of na smaak

Maak dan só

Begin met die maak van die groenkerriepasta.

Verwyder die harde buiteblare van die sitroengras en kap fyn. Plaas dit saam met al die ander pastabestanddele in ’n voedselverwerker en pols tot ’n gladde pasta.

Verhit die olie in ’n groot pan oor matige hitte en braai die hoenderrepies tot net goudbruin, 5 tot 7 minute. Skep uit op ’n bord.

Verminder die hitte tot medium laag en voeg die kerriepasta in dieselfde pan by, prut 4 tot 5 minute en roer nou en dan. Voeg die klappermelk en lemmetjieblare by en laat liggies prut oor medium hoë hitte vir 5 minute tot effe verdik.

Roer die hoenderstukke by, draai die hitte laag en kook vir ’n verdere 5 minute tot gaar.

Geur na smaak met sout, kap die koljander en basielkruid grof en roer by die kerrie in.

Garneer met die gesnyde brandrissie en bedien met lemmetjiewiggies en gestoomde rys.


Gedroogde rooi brandrissieblatjang

Gedroogde rooi brandrissieblatjang.

Wat jy benodig

Maak 375 ml blatjang

  • 15 ml kookolie
  • 1 groot ui, fyngekap
  • 10 ml knoffel, gekneus
  • 125 ml bruinasyn
  • 30 ml tamarinde, geweek in 125 ml water, deur ’n siffie gegooi (pulp en pitte verwyder)
  • 2,5 ml sout of na smaak
  • 125 ml gladde appelkooskonfyt
  • 45 ml droë rissievlokkies

Maak dan só

Verhit die olie in ’n kastrol oor matige hitte en laat sweet die uie tot deurskynend, sowat 5 minute. Voeg die knoffel by en laat 3-4 minute sweet. Voeg die asyn, tamarindewater, sout en konfyt by en kook af tot ’n effe loperige sous.

Verwyder van die plaat, maar hou die hitte aan. Verwerk die sous met ’n staanmenger tot heeltemal glad en plaas die kastrol terug op die plaat. Voeg die rissievlokkies by en laat prut baie liggies vir sowat 2 minute.

Haal van die hitte af en giet dit in ’n warm, gesteriliseerde fles. Draai die deksel toe en keer die flessie om. Laat afkoel. Die blatjang kan dadelik geëet word of tot 3 maande in die yskas hou nadat dit oopgemaak is.

Wenk: Rissievlokkies is ideaal om kongestie teen te werk in die griep- of hooikoorsseisoen.

Meer oor:  Resepte  |  Kos En Wyn
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.