Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
RESEPTE: Drink wyn en lewe

My Ier se tannie Dee (82 jaar) kuier op die oomblik by ons – en is sy nou ’n inspirasie! Sy’s oorspronklik van Dublin, maar woon nou in Kaapstad. Ek het haar by Canal Walk afgelaai om te gaan inkopies doen en sy bel my toe eers vier en ’n half uur later om haar weer te gaan oplaai! Praat van uithouvermoë.

Vra ek vir haar wat doen sy so lank in die winkels: “Well love, I went to all the shops to buy a pair of jeans for myself, but I could not find what I was looking for . . . so I had long chats with all the friendly staff. They were just too lovely.

Sy drink elke aand minstens een bottel wyn uit, rook tien lang Craven A’s per dag en eet elke bord kos blinkskoon. Ek kom een oggend van die gimnasium af en kry haar in my swembad! Het my natuurlik boeglam geskrik. Die water is yskoud, sy het self ingeklim en sy het geskop en geplas soos ’n tiener.

Tannie Dee in ons yskoue swembad.

Dee is regtig ’n vars briesie in ons huis en dit is tog te lekker om haar met heerlike kos te bederf. Sy is gek oor goeie varkworsies en so het dié varkworsie-stroganoff verlede week op ons borde beland.

Stroganoff word gewoonlik met beeshaas, sampioene en ’n roomsous gemaak, maar met my geldsakke wat maar leeg lê, het ek besluit om eerder varkworsies te gebruik. En pleks daarvan om soos gebruiklik paprika in die kwylbeksous te gebruik, het ek dit met mosterd vervang en sy was so in haar skik dat sy haar bord met haar regterwysvinger skoongesleep het.

Babs se appeltert

Ek het verlede jaar in Rapport se Moedersdag-uitgawe my ma se appeltertresep met julle gedeel en het weer vanjaar ’n hele paar navrae oor die resep gekry (soos in ’n brief van Sue Bruce af) – so hier is die resep weer.

Wat dit so hemels lekker maak, is die botterige broskors, die soetsuur-appelvulsel wat met ’n blik tertappels en sultanas gemaak word en dan daardie onmiskenbare nostalgiese kaneelgeur. Ma het dit altyd met geklopte room opgetof, maar ek verkies dit met ’n goeie skep vanieljeroomys.

Rapport se adjunkredakteur, Inge Kühne, het ook met ’n foto vir my laat weet: “Ek wil net spog met die appeltert waaraan ons Sondag gesmul het. Ek was nog nooit lief vir appeltert nie, maar my familie is wel. En noudat ek dit gemaak het, het ek sommer ’n smaak daarvoor ontwikkel. Daai kors is heerlik! Dankie vir al die lekker kos, Anél.”

Groete uit my kombuis, gaan klim gerus in daardie koue swembad, drink wyn en lewe!

Anél

anelpot@gmail.com

Ma Babs se appeltertFoto:

Babs se appeltert

Maak eers die appelvulsel en laat verkoel. Maak dan die deeg en laat in yskas afkoel.

Vulsel

125 ml sultanas

250 ml water

60 ml suiker (proe wanneer vulsel klaar is en as jy dit wil soeter maak, gooi nog suiker by)

5 ml kaneel

knippie sout

1 groot blik (825 g) tertappels, in klein stukkies gesny

50 ml koekmeel

45 ml suiker

15 ml botter

5 ml suurlemoensap

Kors

45 ml suiker

125 g botter

15 ml kookolie

1 eier, geklits

250 g koekmeel

10 ml bakpoeier

Vir vulsel: Kook sultanas in water tot sag en uitgeswel. Roer die suiker, kaneel, sout en appels by. Prut oor lae hitte. Meng koekmeel en suiker met water tot ’n vloeibare pasta. Roer stadig by die kokende appelmengsel terwyl jy aanhoudend roer. Laat dit deurkook (pasop vir brand). Wanneer dit gaar is, roer die botter en suurlemoensap by. Laat afkoel voordat jy in tertkors gooi.

Vir kors: Room botter en suiker tot lig en romerig. Voeg die olie by en dan die geklitste eier. Sif die droë bestanddele by en meng alles saam tot ’n sagte deeg. Plaas in yskas om te verkoel. Die deeg is bros en hanteer moeilik as dit nie koud is nie.

Vir bak: Voorverhit oond tot 180 °C. Voer ’n gesmeerde tertbord uit met twee-derdes van die deeg. Gooi die koue appelvulsel in en rasper die res van die deeg oor. Bak vir 30-40 minute tot ligbruin. Bedien met vanieljeroomys, geklopte room of vla.

Varkworsie-stroganoff. Foto’s: Anél Potgieter

Varkworsie-stroganoff

(Resep Anél Potgieter)

1 pak tagliatelle of spaghetti (250 g)

1 e of bietjie meer olyfolie

500 g varkworsies, vleis uitgehaal

250 g sampioene, gesny

1 ui, gekap

2 knoffelhuisies, gerasper

¼ k meel

½ t sout

2 t sterk mosterd

1-1½ k biefaftreksel, warm

1 k suurroom

pietersielie, gekap

Kook die pasta volgens die pakaanwysings en sit eenkant. Braai die varkworsievleis, ui, sampioene en knoffel oor matige hitte in die olyfolie totdat die vleis nie meer pienk is nie en die groente sag is – so 7-10 minute. Roer meel, sout en mosterd by tot heeltemal gemeng. Roer nou geleidelik die warm biefaftreksel by. Bring tot kookpunt en prut vir so 2 minute tot verdik. Roer suurroom by. Sit voor met pasta en strooi gekapte pietersielie oor.

Anél se posbus

Sue Bruce van Johannesburg skryf:

Duisend dankies vir jou appel-galette-resep. Ek waardeer jou moeite om dit aan te stuur. Ek sal dit soos goud bewaar en dit die naweek probeer. Ek is eintlik op soek na jou ma se appeltertresep. My man was gaande daaroor. Hy’t gesê dit was die lekkerste tert wat hy al ooit geproe het. En dit was. Dit was so ’n heerlike resep. Ons is so gelukkig om sulke heerlike idees van jou te kry. Ons kan (elke week) nie wag vir die Rapport nie.

Meer oor:  Resepte  |  Anél Potgieter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.