Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
RESEPTE: Kyk met nuwe oë na ‘slap skene’

Met Erfenisdag om die draai, vier Errieda du Toit deur eg Suid-Afrikaanse kosse te maak.

Errieda du Toit

My pa was altyd een vir familie uitlê en hy het altyd almal wat hy ontmoet eers gepols oor van watter Burgers, Redelinghuyse of Van der Westhuizens hulle was. Jou naam is deel van die storie waar jy hoort en waar jy vandaan kom.

Kosname is ook so. Ek kan nie ’n resep of ’n gereg weerstaan met ’n besonderse naam nie, of dit ’n erfenisgereg so bekend as slinger-om-die-smoel (melksnysels) of wasgoedbondeltjies is; of troetelname soos luilappies vir plaatkoekies of broek-en-baadjie vir aartappels in die skil gebak.

Dis wat gemeenskapskookboekies so belangrik maak om die uniekheid en geskiedenis van ons kookkuns te vier. Een so ’n versamelbare erfskat is ’n boekie ten bate van Pofadder se NG Kerk en vrouevereniging vol resepte eie aan die streek. Jy leer van harslag (die niere, hart, lewer, mantelvleis en vetderms van ’n skaap), die verskil tussen skilpadjies en pofaddertjies en wat boekiepens is.

Een van die goeie dinge wat uit die pandemie kom, is dat ons familieresepte weer afstof en half-vergete geregte by die naam laat herleef.

Dit laat jou ghwarra oor en oor op die tong rol tot jy jou verbeel jy proe die gespeseryde, gekerfde harslag, toegewerk in die kleinpens van ’n skaap, in die oond in ’n baksakkie of foelie gebak en in skywe gesny.

Een van die goeie dinge wat uit die pandemie kom, is dat ons familieresepte weer afstof en half-vergete geregte by die naam laat herleef. Sosialemedia-platforms het gegons van resepte vir eenvoudige familiegeregte en die storie agter die naam.

Ek sal nooit weer blindevinke maak sonder om te dink aan my Facebook-vriendin Petro Bee se vertelling hoe dit haar as kind die horries gegee het nie. Sy vertel: “Ek was so vyf of ses toe ek hoor van blindevinke. Ek was oortuig dis regte dooie vinke en het dit laat verbygaan.”

Mandi Botha vertel van haar skoolvriendin wat van blindevinke as dowe uiltjies gepraat het.

Een van die sierade in ons kroon van herkomsgeregte is slaphakskeentjies, die heerlike uieslaai met ’n gekookte soetsuur-mosterdslaaisous en ’n stamboom wat eeue terugstrek. Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal wys op ’n moontlike verband tussen die saggekookte uie en die Nederlandse term “slap hakke”, wat beteken om sonder fut, flou of kwynend te wees.

Een van die sierade in ons kroon van herkomsgeregte is slaphakskeentjies, die heerlike uieslaai met ’n gekookte soetsuur-mosterdslaaisous en ’n stamboom wat eeue terugstrek.

Dan en wan vlam daar ’n debat op oor die bynaam. Martie Retief-Meiring het ewe pittig in haar Van Alle Kante-rubriek (17.4.1987) só oor slaphakskeentjies bespiegel: “Is dit ’n vrot politikus? ’n Verwyfde akteur? ’n Siekte? ’n Borduursteek?”

Pieter Spaarwater het later – ook in Van Alle Kante – die teorie ondersteun dat die naam te make het met ramme wat hamel word en ’n dag of wat daarna met slapperige agterpote loop. Die einste peertjies is dan saam met uie in die soetsuursous gekook.

’n Ander skaperige oorsprongstorie uit die Overberg is dat die naam te make het met “warm hakkies”, ’n armmanskos van skaapkloutjies wat stadig kook tot die taai skeentjies sag en slap is. ’n Plaaswerker wat nooit sy mond sou sit aan uie nie het skynbaar die uieslaai aangesien vir slapgekookte skene en so het die naam bly kleef.

  • Du Toit, skrywer van tien kookboeke, versamel gemeenskapskookboekies, die inspirasie vir haar nuutste boek, Saam.

SLAPHAKSKEENTJIE-EN-BABAKOOLTJIESLAAI MET SPEK 

slaphakskeentjies
Slaphakskeentjies is nie net ’n bykos nie, maar ’n wenner in ’n slaai. Foto: IAN DU TOIT

Ek pas Rina Theron se slaphakskeentjieresep uit haar bekroonde boek Sandveldkos aan en gebruik dit as hoeksteen vir my Erfenisslaai met babakooltjies uit my eie tuin. Ek volg ook Peter Veldsman se raad om die uie in borriewater te kook en die suursous met rooipeper en lourierblare te geur.

Wat jy benodig

2 kg klein uitjies, geskil en tot net-sag gekook in kookwater gegeur met 1 t. borrie, sout en peper
1 eier
1 t. sout
¾ koppie suiker
1 t. sterk mosterdpoeier
1 koppie asyn
1 koppie melk
1 E. mielieblom
1-2 knippies rooipeper
2 vars lourierblare
100 g streepspek, gekap

3 babakoolkoppe, gehalveer en geblansjeer

Maak dan só

Klits die eier, sout, suiker en mosterd saam. Voeg die asyn stadig by en roer. Voeg laastens die melk by terwyl jy aanhoudend roer tot die sous begin kook.

Maak die mielieblom met een eetlepel water aan. Voeg eers van die warm mengsel by die mielieblompasta en roer dan by die res van die warm mengsel terug in die kastrol. Roer aanhoudend tot gaar en romerig. Geur na smaak met rooipeper en sout. Voeg vars lourierblare by.

Braai die spek tot bros. Braai die geblansjeerde (om vinnig in kookwater te druk) babakool in die panvet. Wikkel van die buiteblare los.

Saamstel van slaai: Pak die gebraaide koolhelftetjies en los buiteblaartjies op ’n platterige slaaibord of vleisbord uit, rangskik die gekookte uitjies tussenin, skep die suursous oor en strooi bros spek oor. 


SKILPADJIES

skilpadjies
Skilpadjies.
Hierdie resep vir lewer in netvet is uit die gemeenskapskookboek van Pofadder NG gemeente.

Wat jy benodig

1 skaaplewer

genoeg netvet om lewer in tebraai (dun gedeelte)

sout en peper na smaak

koljander

Maak dan só

Sny die lewer in 3 x 3 cm-blokkies en geur met sout, peper en koljander. Draai die blokkies in netvet toe en steek vas met peuselstokkies. Braai stadig oor rooster.

POFADDERS

Pofaddertjies is vetderm gestop met lewer en niertjies.

Wat jy benodig

vetderm
lewer, niertjies en hart van skaap of bees
tamaties
uie

sout, peper en koljander na smaak

Wat jy benodig

Maak die vetderm deeglik skoon met flou asynwater en spoel goed af met koue water.

Verwyder vliese en buise van lewer en niertjies. Kap die hart, lewer, niertjies, tamatie en uie in klein blokkies.

Geur met sout, peper en koljander. Meng goed.

Stop vetderm met lewermengsel, maar nie te styf nie anders bars dit. Bind die punte toe en braai stadig oor kole.

    Meer oor:  Errieda Du Toit  |  Resepte  |  Skilpadjies  |  Pofadders  |  Versnit  |  Slap Hakskeentjies
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.