Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
RESEPTE: ’n Vegetariese Braaidag

Erfenisdag is om die draai en as jy ook Dinsdag die vleisbraaivuur gaan aansteek, laat die tjops en steak ’n bietjie terugstaan en gee die smullekker resepte van die skrywers van twee splinternuwe vegetariese braaiboeke, Jan Braai en Adele Maartens, ’n kans. 

Vegetariesdeur Jan Braai is beskikbaar teen R370 en word deur Human & Rousseau uitgegee.

Jan Braai is die skrywer van verskeie braaiboeke en aanbieder van sy eie braai-televisiereeks.

Hoekom het jy hierdie boek saamgestel?

Die publikasie van dié boek lyk dalk na ’n natuurlike stap ná my vorige boeke, maar ’n groot deel van die lof vir die boek is aan Brad en Candice Gale verskuldig. Ek ken Brad van my skooldae af, en omtrent ’n jaar voor die publikasie van die boek stuur Brad my ’n boodskap wat hy self sal erken ’n skoot in die donker was. Sy probleem, sê hy toe, is dat hy daarvan hou om te braai en dikwels my boeke daarvoor inspan, maar dat sy vrou ’n vegetariër is. Hy het gevra of ek dit sou oorweeg om ’n suiwer vegetariese boek uit te gee. Ek moet erken dat toe ek eers begin dink hoeveel sin dit maak, was ek verleë dat ek nie reeds vantevore ’n vegetariese boek gepubliseer het nie. Ek kon aan geen goeie rede dink waarom daar nie ’n Jan Braai-resepteboek vir vegetariërs soos Candice is nie. So, aan elke braaiende Suid-Afrikaner wat besluit om nie vleis te eet nie, ek is jammer dat dit my so lank gevat het. Hier is julle boek. Ek hoop julle geniet dit.

Wat is jou gunsteling-resep uit die boek?

Die sousboontjie-bunny chow. Dit is ’n ongelooflik maklike resep om te maak, al die bestanddele is by enige winkel beskikbaar, die resep is baie sag op jou beursie en dis ’n eg Suid-Afrikaanse dis!

Dink jy ’n vegetariese braaiboek kan mense aanmoedig om meer groente te eet?

Moontlik. Vir my is die punt nie regtig om in ’n groente-teenoor-vleis-debat betrokke te raak nie. Die boek gaan daaroor om ’n versameling lekker braairesepte beskikbaar te stel vir mense wat verkies om nie vleis te eet nie. Hulle is ook welkom by die braaivuur en moet asseblief ook braai op Nasionale Braaidag.

Gaan jy meer groentegeregte maak dié Braaidag?

Nee. My Nasionale Braaidag-spyskaart sluit altyd geregte in wat nie vleis bevat nie. Braaibroodjies, mielies en verlede jaar was daar ook ’n sampioen-risotto-potjie as deel van my fees. Vir my is dit ’n braai as die vuur brand en my spyskaart sluit meestal heelwat vleis-, vis- en vegetariese geregte in.

Wat is jou boodskap aan geharde vleiseters – hoekom moet hulle die resepte probeer?

Want dit is lekker! Vegetariese geregte is meestal heelwat goedkoper so jy kan jou rande rek met die resepte in die boek. As jy hou van steak en tjops, dink aan die boek as ’n versameling heerlike bykosse wat jy op die braaivuur kan voorberei.


RESEP: GEBRAAIDE EIERVRUG-PITA

Jy benodig (genoeg vir 6):

* 6 pitabrode

* 2 groot eiervrugte

Marinade:

* 1 t. koljandersaad

* 1 t. komynsaad

* 1 t. sout

* 1 t. gemaalde swartpeper

* 2 knoffelhuisies (opgekap)

* 1 suurlemoen (net die sap)

* 45 ml olyfolie

Jogurtsous:

* 1 koppie dubbelroom-jogurt

* ½ komkommer (opgekap)

* 15 ml olyfolie

* 2 knoffelhuisies (fyngekap)

Slaai:

* 2 groot tamaties (of 12 kersietamaties, opgekap)

* ½ komkommer (die ander helfte)

* 1 kleinerige rooi-ui (of die helfte van ’n grote, fyngekap)

* 15 ml vars kruisement

* 15 ml vars pietersielie

* 15 ml vars origanum

* 15 ml olyfolie

Só maak ’n mens:

1. Kneus die koljander- en komynsaad met ’n stamper-en-vysel en meng die sout, peper, knoffelhuisies, suurlemoensap en olyfolie by. Maak die marinade deur al die bestanddele bymekaar te sit.

2. Sny die eiervrug in 1 cm-skywe en gebruik al die marinade om die skywe mee te smeer.

3. Maak die jogurtsous: Gooi al die bestanddele in ’n bak en meng deeglik.

4. Maak die slaai: Kap die tamaties, komkommer, uie, kruisement, pietersielie en origanum op en gooi alles saam. Voeg ’n bietjie olyfolie by om dit ’n lekker glans te gee.

5. Braai die eiervrugskywe oor warm kole. Draai hulle ’n paar keer om tot hulle gaar is. Hulle behoort heeltemal sag te wees en effens geskroei aan die buitekant.

6. Sodra die eiervrug van die vuur af kom, sit dadelik die pitabrood op en rooster vir ’n paar minute. Draai die pita’s ’n paar keer om en wees versigtig dat hulle nie brand nie.

7. Maak die pitabrode oop en laai hulle eweredig met die verskillende bestanddele – eers die slaai, dan die eiervrug en laastens die jogurtsous.


Adele Maartens is ’n selfopgeleide sjef en die skrywer van My Vegetarian Braai.

My Vegetarian Braai is beskikbaar teen R325 en word deur Struik Lifestyle uitgegee.

Hoekom het jy besluit om hierdie boek saam te stel?

Vegetarisme is die snels groeiende tendens in die wêreld. Ons is ’n braainasie en toe kombineer ek die twee. Die kans is baie goed dat jy binnekort ’n vegetariër of ’n veganis by jou braai gaan hê vir wie jy moet kos voorsit.

Wat is jou gunsteling-resep in die boek?

Ek is gek oor die sampioenpastei met drie kase, asook die patat-falafelpitas met chimichurri. Albei resepte kan jy vinnig aanmekaarslaan en dit kan werk vir ’n somer- of winterbraai.

Dink jy ’n vegetariese braaiboek kan mense aanmoedig om meer groente te eet?

Ja, ek dink so – ons maak altyd vleis die held by ons braai. As ons groente laat uitstaan en net soveel moeite daarmee doen, gaan dit outomaties lekkerder smaak en aanlokliker lyk.

Gaan jy meer groente-geregte maak dié Braaidag?

Absoluut. Lente is hier en ons kan weer lekker groot buite vuurmaak!

Wat is jou boodskap aan geharde vleiseters – hoekom moet hulle die resepte probeer?

My bedoeling met die boek is nie om vleiseters in vegetariërs te verander nie, maar meer om horisonne te verbreed en mense aan te moedig om iets nuuts te probeer.


RESEP: SAMPIOENPASTEI MET DRIE KASE

Jy benodig (genoeg vir 6):

* Olyfolie

* 1 vel skilferkors, ontdooi

* 80 g gorgonzola, gerasper

* 100 g mozzarella, gerasper

* 100 g gruyère, gerasper

* 200 g porcini-sampioene

* gerookte paprika

* 1 t. vars salie, gekap

* seesoutvlokkies en swartpeper

* vars tiemie

Só maak ’n mens:

1. Bestryk ’n bakplaat of reghoekige tertbord met ’n bietjie olyfolie en voer dit uit met die skilferkors. Gebruik ’n vurk en prik die deeg oral­oor.

2. Sprinkel die kase en sampioene oor en dan ook die paprika en salie.

3. Plaas op die rooster oor warm kole, bedek met foelie en plaas ’n paar warm kole bo-op en bak vir 20-25 minute. Loer gereeld. Die pastei is gereed wanneer die kaas borrel en die deeg goudbruin is.

4. Sodra die pastei gaar is, verwyder van die kole en dan versigtig uit die bakplaat of tertbord. Sprinkel sout en peper na smaak oor en garneer met tiemie. Sit dadelik voor.

Meer oor:  Adele Maartens  |  Jan Braai  |  Resepte  |  Braaidagresep  |  Vegetaries  |  Braaidag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.