Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
RESEPTE: Pesto gee feestyd ekstra skop

Die feestyd is om die draai en ons moet begin dink waaraan ons gaan smul om dié spesiale tyd van die jaar te vier. Pesto is ’n veelsydige bestanddeel wat ingespan kan word in alles van pasta tot slaai om ’n geurige skop te gee.

Pesto, daardie geurige Italiaanse brousel van onder meer basielkruid, parmesaankaas, knoffel, dennepitte en olyfolie is ’n wonderlike bestanddeel om dié Desember in jou spens te hê. Dit is uiters veelsydig en kan in alles van slaaie tot toebroodjies gebruik word, en boonop is pesto deesdae in ’n groot verskeidenheid geure beskikbaar. Daar is pesto’s met alles van suurlemoen tot songedroogde tamatie as bestanddele, en dit verbreed verder die moontlikhede van wat daarmee gemaak kan word.

Vandag deel ek twee resepte van Pesto Princess, ’n maatskappy wat in 1998 baie klein begin het in Kaapstad, en nou gegroei het tot ’n formele onderneming wat aan meer as 40 mense werk verskaf.

Pesto Princess maak nie net pesto met basielkruid nie, hulle raak ook kreatief met bestanddele soos koljander, roket en rissie.

As jy nie van hul produkte in die hande kan kry nie, gebruik dit wat jy in jou supermark (of by ’n kosmark) kan uitsnuffel – daar is heelwat verskaffers van pesto van goeie gehalte. Of maak jou eie! Dit is regtig nie moeilik as jy ’n voedselverwerker het nie, en daar is ’n legio resepte op die internet om te beproef.

Pesto Princess-produkte is in Gauteng beskikbaar by La Marina Foods in Edenvale en Pick n Pay on Nicol in Sandton. Besoek www.pesto.co.za vir meer.

WEN!

Een gelukkige leser kan ’n feestelike geskenkpak van Pesto Princess wen. Dit sluit in ’n verskeidenheid pesto’s (soos basielkruid, songedroogde tamatie en Thaise pesto) en brosbrood, perfek vir ’n kitspiekniek, ter waarde van R500.

Om in aanmerking te kom, SMS jou naam, van, e-pos- en afleweringsadres na 35986. Begin jou SMS met “pesto”. ’n SMS kos R1,50 en moet ons teen Maandag om 10:00 bereik.


Vegetariese pastei

Foto: Pesto Princess

Perfek as jy vegetariese gaste dié feestyd moet onthaal. Sit voor saam met groenslaai vir ’n heerlike ligte maaltyd op sy eie.

Jy benodig:

  • 4 e olyfolie
  • 3 e harissapasta van Pesto Princess
  • 1,5 kg botterskorsie, geskil en in 2 cm-grootte blokkies gesny
  • 2-3 rooi uie, fyngesny
  • 4 heel knoffelhuisies met velletjie aan
  • 750 g babaspinasie
  • ½ t fyn witpeper
  • ¼ tot ½ t fyn neutmuskaat
  • 250 g ricotta
  • 50 g dennepitte (pine nuts), gerooster
  • 200 g sagte bokmelkkaas, in skywe gesny

Vir die deeg:

  • 350 g meel plus ekstra vir sprinkel
  • 50 g growwe polenta
  • 150 g koue botter, in blokkies gesny
  • 60 g vegetariese parmesaan, gerasper
  • ’n knypie sout
  • 4-8 e koue water
  • 1 middelgroot eier, geklits

Só maak ’n mens:

1. Plaas die meel, polenta, koue botter, parmesaan en ’n knypie sout in jou voedselverwerker en meng tot dit sanderig lyk. Voeg eetlepels koue water een op ’n slag by terwyl die voedselverwerker aan is totdat die deeg begin bymekaar kom.

2. Haal die deeg uit en vorm dit in ’n netjiese bal. Knie sowat vyf minute per hand of in ’n menger met ’n deeghaak. Draai die deeg in kleefplastiek toe en verkoel sowat 20 minute in die yskas.

3. Voorverhit die oond tot 200 °C.

4. Meng die olyfolie en die harissapasta. Voeg die botterskorsiestukkies by en roer goed.

5. Versprei die botterskorsiestukkies oor twee of drie groot bakplate en rooster 20-30 minute tot sag. Haal uit die oond en hou eenkant.

6. Plaas die uie en knoffel in nog ’n bakplaat en bedruip met olyfolie. Rooster 20 minute. Sodra dit gaar is, haal uit die oond en druk die geroosterde knoffel uit die skille. Laat eenkant effens afkoel.

7. Kap die rou spinasie fyn en verwelk dit bietjies-bietjies op ’n slag in ’n pan met warm water. Skep uit en sit eenkant in ’n mengbak om af te koel. Druk die spinasie om oortollige vloeistof te verwyder. Geur met witpeper, neutmuskaat en ’n bietjie sout en roer die ricotta by.

8. Om die pastei te maak, smeer ’n losbodempan van 23 cm. Rol twee derdes van die deeg uit op ’n meelbestrooide oppervlak. Voer die bodem en kante van die pan daarmee uit. Skep die helfte van die botterskorsie op die bodem, dan al die spinasiemengsel, dan ’n laag bokmelkkaas en die helfte van die dennepitte. Dan kom die res van die botterskorsie, bokmelkskywe, dennepitte en laastens die uiemengsel.

9. Rol die res van die deeg uit, sny dit in ’n sirkel en plaas bo-op die pastei. Druk die kante deeglik toe om dit te verseël. Maak ’n gaatjie in die middel sodat stoom kan ontsnap en versier met enige oortollige deeg. Bestryk met ’n geklitste eier en verkoel vir 20 minute.

10. Bak pastei in voorverhitte oond vir 30-25 minute tot die deeg goudbruin is. Laat 10 minute in die pan afkoel voor jy dit uithaal en voorsit.


Feestelike slaai met granate

Foto: Pesto Princess

Jy benodig (genoeg vir 6):

Vir die slaai:

  • 800 g mengsel van groenbone, suikerertjies en vars ertjies*
  • 50 g haselneute
  • 100 g granaatpitte
  • die skil van 1 suurlemoen

Vir die slaaisous:

  • 125 ml olyfolie
  • 3 e suurlemoen-en-basielkruidpesto van Pesto Princess
  • 1 e suiker
  • 3 e vars suurlemoensap

* as jy nie vars ertjies kan kry nie, gebruik bevrore ertjies wat vir 2 minute gekook is en dan verfris is met yswater

Só maak ’n mens:

1. Plaas al die groen groente in ’n groot bak en giet kookwater oor. Sit ’n vadoek bo-oor en laat dit staan terwyl jy ’n aparte bak voorberei met helfte ys en helfte water.

2. Sodra die groente mooi heldergroen is, dreineer en gooi in die bak met yswater. Dit help om die kleur en knars van die groente te behou.

3. Voorverhit die oond tot 180 °C en versprei die haselneute op ’n bakplaat. Rooster vir ’n paar minute tot goudbruin – loer gereeld dat hulle nie brand nie en skud die bakplaat sodat hulle eweredig verbruin. Jy kan die neute ook in ’n droë pan rooster, maar die kleur sal meer eweredig wees as jy dit in die oond doen. Laat die neute afkoel voor jy dit grof kap.

4. Klits al die bestanddele vir die slaaisous saam.

5. Dreineer die groente en plaas op ’n opdienbord, sprinkel die slaaisous oor en meng liggies. Sprinkel die granaatpitte en neute oor en garneer met suurlemoenskil. Geur na smaak met sout en sit voor.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.