Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
RESEPTE: Saronsvrug vir wintergebak

’n Boks vars plaasprodukte hou baie lekkerte vir Errieda du Toit in.

Tuisaflewering van vars plaasprodukte is nie net ’n gerieflike en veilige manier van aankope doen nie; dit hou ook die roete wat ons kos van die land tot op ons tafel volg so kort as moontlik. So ondersteun dit boere, kleinskaal-produsente en innoverende kos-entrepreneurs in ons eie gemeenskap.

My eerste plaas-na-tafel tuisaflewering van die Pure Boland-mark het my kop laat draai van al die eet-vooruitsigte wat die boks ingehou het: van appelliefies, koejawels, granate, lemoene en nartjies, skarreleiers, kool, spinasie, roketblare, sampioene, groenbone, bababeetjies en patat tot heuning, botter, brood, frambooskonfyt, kontreikase, tuisgebak, klaar slaaie, tuisgemaakte gemmerbier en koffiebone.

Dit was egter die saronsvrugte se sagte rondings en flambojante koraalrooi wat my na ’n handgemaakte blou keramiekbak van Mervyn Gers laat gryp het. ’n Week lank het die stillewe my ingangsportaal opgehelder, deels om goed ryp te word en deels as inspirasie wat om daarmee te doen.

Smullekker soetigheid, net reg vir die koue wintermaande. Foto: Ian du Toit

Die gastronoom Peter Veldsman raai my heel poëties aan: “Bekyk hulle, beloer hulle en eet hulle wanneer jy dink hulle oorryp is. Moenie allerhande sorbets en roomys en terte maak nie. Daar is ’n skoonheid in die vrugte wat net om jou hand vra om dit na die mond te bring. Daar is skoonheid in eenvoud.”

Saronsvrug smaak soos geen ander vrug nie. Dis al beskryf as die liefdeskind tussen ’n sappige, ryp mango en ’n geroosterde soetrissie, met ’n sweempie kaneel op die nasmaak.

Die wynmaker Elzette du Preez het daarmee grootgeword. Sy vertel dat niks vir haar so lekker is nie as om by haar ma-hulle op die plaas te kom, en hulle klaar vir haar die rypstes by die wasbak reggesit het. “Dan staan en eet ek so oor die wasbak dat die sap by my gesig afloop.”

Waar appelliefie en groenrissie Elzette aan sauvignon blanc laat dink, en koejawel aan colombard of chenin, is saronsvrug vir haar pure viognier. “So min mense ken dit!”

Die een helfte van my afgelewerde pluksel is bestem vir ’n onderstebokoek. Die res los ek vir eers in Mervyn se mooi blou bak om so ryp te word dat dit met ’n lepel uit die skil geëet kan word.

  • Du Toit is die kookboekskrywer van Saam en lid van die Heal the Land Heal the People-volhoubaarheidsbeweging. Besoek haar blog by Huiskok.com.


Saronsvrug-en-tiemie-onderstebokoek

Eerder as om die onderstebokoek op die retromanier met geblikte vrugte te maak, vind hierdie prentjiemooi vertolking sy inspirasie in die boks tuisafgelewerde seisoenprodukte uit die Boland. Die resep is aangepas uit Pardon Your French.

Wat jy benodig

  • 3-4 ryp saronsvrugte, in ringe gesny, sowat 6 mm dik, ongeskil
  • 120 ml gesoute botter, kamertemperatuur, verdeel
  • 250 ml + 30 ml goue stroop of esdoringstroop (verdeel)
  • 375 ml koekmeel
  • 5 ml bakpoeier
  • 2,5 ml koeksoda
  • 2,5 ml sout
  • 2,5 ml fyn kaneel
  • 2 ml fyn neutmuskaat
  • 1 groot eier plus 1 eiergeel, kamertemperatuur
  • 165 ml karringmelk
  • vars tiemieblaartjies

Maak dan só

Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer die kante van ’n 25 cm-koekpan.

Smelt 30 ml botter en 30 ml goue stroop in ’n kastrolletjie oor lae hitte en verwyder van die hitte voordat dit begin kook. Giet dit uit in die koekpan en kantel sodat die bodem eweredig bedek is. Hou eenkant.

Sif die meel, bakpoeier, koeksoda, sout, kaneel en neutmuskaat saam in ’n medium mengbak en roer deur, hou eenkant.

Klits die res van die botter (90 ml) met die res van die goue stroop saam in ’n groot mengbak tot glad, en skraap die kante skoon met ’n spatel. Klits die heel eier en die eiergeel by. Voeg die helfte van die meelmengsel by en meng liggies deur met ’n houtlepel tot skaars deurgemeng. Voeg die karringmelk by en meng liggies deur tot net geïnkorporeer. Voeg die res van die meelmengsel by en klop tot net deurgemeng. Die beslag moet glad wees en nie te dik nie.

Plaas een sny van ’n saronsvrug in die middel van die pan en pak die orige snye in konsentriese sirkels uit, en laat ietwat oorvleuel. Strooi tiemieblaartjies oor (hou ’n bietjie vir versiering).

Giet die beslag oor die saronsvrugte en maak die oppervlak gelyk met ’n spatel. Bak 45-50 minute tot die koek ligbruin bo-op is en die kante begin lostrek.

Laat dit 3 minute op ’n draadrakkie afkoel. Gaan versigtig om die rand van die koek met ’n stomppuntmes of bottermessie. Plaas die opdienbord onderstebo bo-op die koek, dop dit vinnig om en lig die koekpan versigtig af.

Laat die koek afkoel vir minstens 30 minute voor bediening. Strooi tiemieblaartjies spaarsamig oor.

Bedien met room, dik jogurt of crème fraîche.

Algemene wenke vir onderstebokoeke

• Wees rojaal wanneer jy die vrugte in die pan uitpak, want die vrugte krimp ietwat.

• Plaas die koekpan op ’n bakplaat om die oond te beskerm teen van die taai vrugtestroop wat kan oorborrel.

• Na die pan uit die oond gehaal is moet dit niks langer as 3 minute staan vir die kokende karamelstroop om rustig te raak nie, anders gaan jy sukkel om dit uit die pan te kry.

• Ontspan as daar dalk van die vrugte in die pan agterbly – lig dit versigtig uit en rangskik net weer mooi.

Meer oor:  Errieda Du Toit  |  Resepte  |  Saronsvrug  |  Onderstebokoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.