Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
RESEPTE: Soettand-smul vir Paasfees

Paasfees is ’n fees vir soettande, met ’n groot verskeidenheid fyngebak om van te kies en keur. Wortelkoek (wat beslis die Paashaas sal laat glimlag), vanielje suikerkoekies en sjokoladesplinter-koekies met ’n Paaseier-kinkel op die spyskaart – daar wag die Paasnaweek ’n groot bederf op soettande van alle ouderdomme.

Wortelkoek
Wortelkoek

Nie alle wortelkoeke is ewe lekker nie, dis nou maar ’n feit. ’n Werklik besonderse koek is lekker klam en propvol luukse bestanddele, wat dit van die middelmatiges onderskei. Elke keer wanneer ek die koek bak, gebruik ek net topgehalte bestanddele en fokus al my aandag op die proses, sodat ek dit nie oorgaar bak nie.

Jy benodig:

  • 4 eiers
  • 2 k suiker
  • 1 k olie
  • ¼ k appelkooskonfyt, gesmelt
  • 2 ½ k bruismeel
  • 1 t koeksoda
  • 1 t bakpoeier
  • 1 e fyn kaneel
  • 1 t wonderpeper (all spice)
  • 1 t neutmuskaat
  • 1 t fyn gemmer
  • 2 naeltjies, fyngemaal
  • 2 k gerasperde wortels
  • 1 k fyn pynappel, gedreineer
  • Die fyngerasperde skil van een lemoen
  • ½ k pekanneute, fyngekap

Vir die roomkaasversiersel:

  • 250 g ferm roomkaas
  • 250 g sagte botter
  • 3 k versuiker, gesif
  • 1 t vanieljegeursel

Só maak ’n mens:

1. Voorverhit jou oond tot 180°C en smeer en voer ’n Bundt-koekpan met ’n deursnee van sowat 23 cm uit met bakpapier.

2. Klits die eiers en suiker saam in ’n elektriese klitser tot dik en liggeel. Voeg die olie en gesmelte konfyt by en meng goed.

3. Klits die droë bestanddele by en roer dan die wortels, pynappel, lemoenskil en neute ook by.

4. Skep die beslag in die voorbereide koekpan en maak dit gelyk bo-op. Bak sowat 45 minute maar begin die koek se gaarheid toets na 20 minute deur ’n sosatiestokkie daarin te druk. Sodra dit skoon uitkom, is die koek gereed. Haal dit dan uit die oond en laat heeltemal afkoel voordat jy dit uitkeer en versier.

5. Maak die versiersuiker terwyl die koek bak: Klits die botter, roomkaas en vanieljegeursel saam met ’n elektriese handklitser. Voeg die versiersuiker geleidelik by en hou aan klits totdat dit so dik is soos jy daarvan hou. As dit te loperig is (op ’n warm dag is), klits nog versiersuiker by om te verseker dit loop nie van die koek af nie.


Paasfees-sjokoladesplinter-koekies
Paasfees-sjokoladesplinter-koekies

My kinders is gaande oor die wit sjokolade Paaseiers, wat binne hol is, met ’n harde, wit lekkergoed-lagie buite-om. Dis ’n groot bederf om dié eiers te gebruik wanneer ek een van hulle gunsteling koekies bak. My wenke vir sjokoladesplinter-koekies: Moenie hulle te lank in die oond los nie, en sit warm voor terwyl die deeg nog klewerig en die sjokolade loperig is.

Jy benodig

(Dit maak sowat 48 koekies)

  • 1 k sagte botter
  • 450 g ligte bruinsuiker
  • 2 t vanieljegeursel
  • 1 t koeksoda
  • ½ t sout
  • 2 eiers
  • 3 k (400 g) koekmeel
  • ’n klein handvol sjokoladesplinters
  • 6 wit sjokolade Paaseiers, grofgekap

Só maak ’n mens:

1. Voorverhit jou oond tot 160°C. Smeer en voer ’n bakplaat van sowat 25 x 40 cm met bakpapier uit.

2. Verroom die botter en suiker met ’n elektriese handklitser of in jou menger, en klits dan die eiers een vir een by. Klits goed na elke byvoeging.

3. Voeg die res van die bestanddele by (alles behalwe die sjokolatesplinters), en hou aan meng.

4. Sodra jy ’n gladde, romerige deeg het, roer die sjokoladesplinters en die grofgekapte Paaseiers by.

5. Nou het jy ’n paar keuses: Jy kan of die deeg in die helfte deel en dit rol om twee lang silinders te vorm (maak seker dis orals ewe dik). Sny skywe van die silinders af met ’n skerp mes om individuele koekies te maak. Druk die koekies effens plat met jou handpalm wanneer jy hulle op die bakplaat sit.

Jou tweede keuse is om balletjies van die deeg tussen jou handpalms te rol, maar maak seker jy vat elke keer dieselfde hoeveelheid deeg om ewe groot koekies te verseker. Druk die balletjies platter wanneer jy hulle op die bakplaat sit, en spasieer sowat 4 cm uitmekaar.

6. Bak die koekies 15-20 minute of tot net-net goudbruin in kleur.


Vanielje-suikerkoekies
Vanielje-suikerkoekies

Pragtig versierde suikerkoekies in oulike verpakking is die perfekte Paasgeskenk. Dié koekies is ideaal om aan kuiergaste voor te sit, of dit kan deel wees van ’n Paaseier-soektog vir die kleinspan.

Verminder die druk van voorbereiding en maak die koekies ’n paar dae voor die naweek. Bêre in ’n lugdigte houer.

Jy benodig

(Dit maak sowat 18 koekies)

  • 2 k koekmeel
  • 3 e mielieblom
  • ’n knypie sout
  • ½ k sagte botter
  • ½ k strooisuiker
  • 2 eiers
  • 1 t vanieljegeursel

Vir die versiersuiker:

  • 1 k versiersuiker, gesif
  • 1 e vloeibare glukose (beskikbaar by bakwinkels)
  • 2 e water
  • ’n paar druppels voedselkleursel

Só maak ’n mens:

1. Voorverhit die oond tot 180°C.

2. Verroom die botter en suiker met ’n elektriese handklitser of in jou elektriese menger. Klits dan die eiers een vir een by.

3. Voeg die res van die bestanddele by en hou aan klits tot deeglik gemeng. Wanneer die deeg krummelrig begin lyk, knie verder met die hand tot dit mooi bymekaar kom. Druk die deeg plat en bedek in kleefplastiek. Verkoel vir sowat ’n uur. Die deeg moet yskoud wees voordat jy daarmee begin werk.

4. Rol die deeg uit op ’n meelbestrooide oppervlak tot dit ongeveer 4 mm dik is. Gebruik koekiedrukkers (miskien het jy ’n hasievorm) om koekies uit die deeg te druk. Plaas effens uit mekaar op ’n gesmeerde bakplaat.

5. Bak die koekies 12 minute of tot goudbruin maar nie te donker nie. Om te voorkom dat die koekies te donker word aan die onderkant, verwyder so gou as moontlik van die warm bakplaat en laat afkoel op ’n draadrak. Sodra die koekies kamertemperatuur bereik het, is hulle gereed om te versier.

6. Om die versiersuiker te maak: meng al die bestanddele en voeg net ’n druppel kleursel op ’n slag by tot jy die regte skakering verkry.


Gin en koek

In haar resepteboek Pink Gin and Fairy Cakes probeer Jan Kohler selfs die mees onervare tuiskokke help om heerlike maaltye en happies te maak sonder om in ’n koue sweet uit te slaan. Haar resepte gaan jou ook nie platsak laat of ure in die kombuis laat deurbring nie. Die boek se doel is om gesonde, tuisgekookte maaltye ’n realiteit te maak vir alle gesinne. Boonop vereis haar resepte bekostigbare, volhoubare bestanddele wat maklik verkrybaar is by jou plaaslike supermark.

Die boek bevat meer as 200 bladsye vol resepte, vergesel van kleurvolle kosfoto’s wat jou mond sal laat water. Daar is maklike versnaperinge, voedsame maaltye, dekadente nageregte en selfs skemerkelkies!

  • Die boek kos R410 en kan aanlyn bestel word by Burble Bookshop burbleonline.co.za of by Kohler se webblad, jankohlercooks.com.
Jan Kohler


Meer oor:  Paasfees  |  Koekies  |  Gebak  |  Resepte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.