Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Kostelik:
Resepte uit die duine

‘Soos ’n origamiblom vou die blaaie van Bella se boek in jou hande oop, hoe meer jy blaai hoe mooier word Bella se Duinhuis-boek.”

Só liries beskryf die kunstenaar Louis Jansen van Vuuren sy vriendin Isabella Niehaus se kookboek, Duinhuis. Hy’t by die bekendstelling van Duinhuis so mooi gepraat oor sy jarelange vriendin, dat ek hom gevra het of ek sy woorde mag leen om julle meer van haar en haar kookboek te vertel.

“Wat vir my anders is van dié publikasie is die verrassende struktuur wat die boek saambind – met ’n tol goue gare word die kosstories en -staaltjies aanmekaar gevleg,” sê Louis.

Louis Jansen van Vuuren en Isabella Niehaus is al jare lank vriende.

Soos Louis tereg sê, is Duinhuis nie net ’n visuele fees vir die oog nie, maar ook ’n sensoriese skouspel waar smake en geure persoonlikhede word in die kulinêre ruimtes wat Bella vir ons skep.

“Dit voel asof ek in ’n home-movie is – ek hoor die Kodak-filmpie deur die Super-8 projektor spin. Ek loop oor die koel gepoetste stoepvloer en word bewus dat Bella my hand saggies vat en my doelgerig deur die halfdonker voorkamer tot by die side­board lei. Ek ruik die Cobra-polish en word bewus van troosgeure uit die kombuis – die beesstert wat stadig tussen uieringe prut en ek proe die asynmosterdsous op my tong. En ja, dit is wraggies Mario Lanza wat deur die radiogram se lap­oorgetrekte speakers sing . . . ‘Come Prima’.

“ ’n Lekkerte is die spyskaart van Maandag tot Sondag wat Bella tussen die stories inweef. Dis soos om vir ’n vakansie by hulle op die plaas in die Vrystaat te kuier. Jy leer ma Issie ken en jy beny haar koeponkoppies met die mooi rooi rose daarop. Jy hoor oom Dan in die blou Bedford wegtrek dat die stofstrepe staan. Ook boetie Dolf wat altyd honger is. Dan is daar die resepte soos Maandag se macaroni-en-kaas met frikkadelle en tamatiesous wat jou lus maak. Ek hoor tant Issie sê: ‘Werk saggies met die kos, Maria’.

Foto:

“Bella stel haar hartsvriende aan die leser bekend, elkeen met ’n storietjie en ’n gunsteling-resep. So leer jy die persoonlikhede ken. Daar’s Carmen, Alet en Kobie, daar’s Rykie, Ruben en natuurlik Taro, Bella se blouoog-seun aan wie die boek opgedra is. Jy leer hulle ken deur hul gunsteling-smake en -geure, en so word haar vriende joune.

“Maar dié boek van Bella is ver meer as net ’n nuwe kookboek op die winkelrakke – hierdie bondel beeldskone blaaie is die vingerafdrukke van ’n uitsonderlike mens. ’n Spesiale skepsel: Isabella Niehaus.”

Ek het al ’n paar keer by Bella se langtafel in haar Duinhuis in Langebaan aangesit, en haar mosselbobotie is ’n belewenis. Sy vertel: “Mosselbobotie het een van my signa­tures geword. My eie deurmekaar-resep wat so lekker is. As jy toegang tot vars mossels het, is dit my voorkeur. Dit het nou ’n Duin-spesialiteit geword. Dit is die kombinasie van geure wat jou heeltyd laat wonder . . . wat het ek nou geproe?”

Groete uit my kombuis,

Anél Potgieter

anelpotgieter.com

Mossels – op die Duin-manier

Mossels - die duinmanier.Foto:

1 e olie

1 t botter

1 ui, grofgekap

1 knoffelhuisie, grofgekap

4 vars tiemietakkies

5 kg vars mossels, baarde uitgetrek

½ k witwyn

Só maak ’n mens

Verhit ’n groot pot op die stoof. Gooi die olie en botter in. Wag totdat die botter behoorlik gesmelt is voordat jy die ui, knoffel en tiemietakkies byvoeg.

Roer tot die uie so effe deursigtig is. Gooi nou die mossels by en sit die deksel op. Haal die deksel ná omtrent 5 tot 7 minute af. Die meeste mossels behoort nou oop te wees.

Voeg die wyn by en kook vir ’n verdere 3 minute. Haal van die stoof af en bedien gou terwyl dit nog warm is. Skep in ’n lekker diep bak en bedien met vetkoek of varsgebakte brood om die lekker sous mee op te vee.

Mosselbobotie

Mosselbobotie. Foto:

2 e olyfolie

1 t botter

1 ui, grofgekap

2 knoffelhuisies, grofgekap

’n handvol vars tiemie

3 kg vars mossels in die skulp

1 k witwyn

Vir bobotiemengsel

1 e botter

2 e olie

3 knoffelhuisies, fyngekap

4 e masala-mengsel

2 uie, fyngekap

2–3 k klapperroom

1 e appelkooskonfyt

sap en skil van 1 suurlemoen

sout na smaak

8 eiergele, goed geklits

kerrieblare, om voor te sit

Só maak ’n mens

Mossels: Ruk die baarde van die mossels uit. Verbruin die botter en olie. Braai die ui, knoffel en tiemie.

Sodra die uie deursigtig raak, voeg die mossels by, sit die deksel op en stoom vir 8 tot 10 minute of totdat die meeste van die mossels oop is. Voeg die witwyn by en stoom vir nog 3 minute. Haal van die stoof af en laat afkoel.

Sodra dit koud is, haal die mosselvleis uit die skulpe en hou die mosselvleis eenkant. Behou die vloeistof vir ’n heerlike sop of om later as aftreksel te gebruik.

Bobotiemengsel: Plaas die botter en olie in ’n pan en braai die knoffel oor matige hitte. Krap eenkant toe in die pan. Voeg die masala-mengsel by en braai liggies. Voeg die uie by, gevolg deur die klappermelk, appelkooskonfyt asook suurlemoensap en -skil. Laat prut.

Proe en geur met sout of selfs nog ’n bietjie van die masala-mengsel. Voorverhit die oond tot 180 °C. Voeg die mosselvleis by die bobotiemengsel. Laat staan vir so 10 minute om af te koel en die geure te laat ontwikkel. Voeg die geklitste eiergele by. Meng goed deur. Gooi in ’n oondpan en bak vir ongeveer 1 uur tot ferm. Sit voor met kerrieblare.

Nota: Jy kan ook bevrore mossels gebruik. Ontdooi en skud in ’n vergiettes om van die ekstra water ontslae te raak.

Die mossel se baard: Die harige slierte wat buite die mossel se skulp hang, is sy baard. Dis waarmee hy homself vasheg aan die tou of rots waaraan hy groei. Om dit te verwyder, knyp die rou mossel tussen jou duim en voorvinger vas om die skulp dig te hou en trek die baard op of af om dit uit te trek.

WEN

Duinhuisword uitgegee deur Human & Rousseau en kos R400. Drie lesers kan elk ’n eksemplaar wen. SMS die woord “Duinhuis” met jou naam en adres na 34581. Sluitingsdatum:

8 Maart 2019

Meer oor:  Resepte  |  Kostelik  |  Kook
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.