Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Resepte uit Nataniël se podsendings
Nataniël kwessie van n dag

In Nataniël se podsendingreeks, Kwessie van 'n dag, stel hy ons voor aan "’n fantastiese kossoort" of "’n resep gee wat maklik en eenvoudig is, maar waarvan jy moontlik nog nie gehoor het nie."

Hier deel hy die resepte sodat jy dit self ook kan probeer. 

LUISTER HIER NA AL DIE PODSENDING-EPISODES


Kreoolse omelet

"Dit is ’n eenvoudige gereg, perfek vir enige tyd van die dag of as volledige maaltyd en met bestanddele wat in alle huise is. Die stappe is effens omgekeer en die geure is kenmerkend van Kreoolse kos, knoffel, brandrissie en paprika."

Maak só:

1. Gebruik ’n groterige pan.

2. Een groot gekapte ui word gebraai in helftes olie en botter, saam met gekapte knoffel en later 2 eetlepels broodkrummels.

3. Roer totdat die broodkrummels krakerig raak.

4. Roer 4 gekapte tamaties by.

5. Roer gekapte pietersielie by.

6. Geur alles met seesout, grofgemaalde swart peper en ’n knippie rissiepoeier.

7. Klits 6 eiers, gooi bo-oor, sorg dat hitte laer is as medium.

8.  As onderkant begin stol, plaas onder die oond se element.

9. Ek is dikwels te lui of daar is iets in die oond en sit dan net ’n deksel op.

10. Sit dit net so voor as dit onder element was.

11. As dit net in die pan was, keer uit op ’n bord met die verbruinde onderkant na bo.

12. Sprinkel met paprika en nog pietersielie.

Let wel: Gegeurde en gerookte worsies of chorizo of ham kan vir diegene wat vleis eet, gekap en by die uie gevoeg word.

Bedien só: 

  •  Sit voor met groenslaai en varsgebakte brood.
  •  Eet net so teen kamertemperatuur.


Pondkoek

Hierdie is Nataniël se gunsteling-resep!

Maak só

1. ’n ¾ koppie strooisuiker word verroom met ’n ¾ koppie botter en 2 teelepels vanielje-ekstrak, NOOIT essens nie!

2. Dan word 3 eiers geklits tot bleek en bygevoeg.

3. Dan volg 1 ¾ koppie amandelmeel, 2 teelepels bakpoeier, ’n knippie sout en die fyngerasperde skil van ’n suurlemoen.

4. Bak in ’n gesmeerde of kleefvrye losboompan met bakpapier op die bodem teen 170 °C (waaier) tot goudkleurig, ongeveer 45 minute.

5. Hierdie koek het nie gewone meel in nie en kan soos enige meellose affêre sak of kraak, dis alles fantasties.

6. Laat dit afkoel in die pan.

Bedien só:

  • Om voor te sit gooi jy ’n kwart glas uitstekende sjampanje oor elke sny.


Persiese gebakte eiers

Maak só

1. Plaas 3 stringetjies saffraan in 1 eetlepel water.

2. Klits 8 eiers in ’n mengbak.

3. Dan kap jy 2 preie, 2 groot hande vol jong spinasie en ’n halwe kropslaai in klein stukkies en meng dit by die eiers.

4. Al drie hierdie bestanddele stel vloeistof vry wanneer dit met hitte in aanraking kom, maar ons almal doen dit vanaf ’n sekere ouderdom.

5. Daar is heeltemal genoeg eiers om hierdie vloeistof te absorbeer, maar as jy ’n spanningslyer is, kan jy die preie, spinasie en kropslaai vooraf vir ’n minuut of twee roerbraai om die vloeistof te verminder.

6. Saam met die eiers en die groengoed meng jy nou 10 eetlepels gekapte kruie: vars pietersielie, vars korianderblare, vars grasuie.

7. Ook 2 gekapte knoffelhuisies en 3 eetlepels gekapte okkerneute.

8. En ten laaste meng jy die saffraanwater by.

9. Geur die mengsel met seesout en grofgemaalde peper.

10. As jy onseker is hoeveel, vat jy altyd jou soutmeul en jou pepermeul en gee een draai per persoon en dan nog een draai vir geluk.

11.Smelt 2 eetlepels botter of verhit 2 eetlepels druiwepitolie onder in ’n ronde oondbak of pasteibak en gooi die mengsel in. Bak todat dit goudbruin bo-op is, ongeveer 25 minute.

12. Sny dit in skywe en sit voor met jogurt vol gekapte kruie.


Aartappels met suurlemoen

Maak só:

1. Jy begin met ’n kwart koppie druiwepitolie of enige ander olie met ’n hoë rookpunt, nie gewone olyfolie nie.

2. Verhit die olie in ’n groterige kastrol en gooi twee groot gekapte uie by. Ook 4 gekapte knoffelhuisies.

3. Gooi daarby een opgehoopte teelepel fyn komyn, een opgehoopte teelepel fyn koljander en 1 een opgehoopte teelepel rissievlokkies. Braai ’n minuut of twee.

4. Sny 1 kg jong aartappels in die helfte, moet dit nie skil nie.

5. Roer dit by die uie. Voeg dan die fyngerasperde skil en sap van 1 ½ suurlemoen by.

6. Ook 1 koppie water en 1 koppie groente-aftreksel.

7. Voeg ekstra water bietjies-bietjies by soos benodig.

8. Laat prut half-bedek vir ongeveer 25 minute todat aartappels gaar, maar nie papgekook is nie.

9. Geur nou eers met seesout.

10. Skep in ’n opdienbak en strooi ’n groot hand vol gekapte pietersielie bo-oor.

Bedien só:

  •  Ek sit dit met ’n groenslaai en ’n suurlemoen-en-heuningslaaisous voor.


Geurige patatpurée met gemmerbroodbolaag

Maak só:

Die proses bestaan uit drie dele. Voorbereiding, gaarmaak en dan saamsit. 

Ter voorbereiding: Krummel ’n dik sny gemmerbrood of gemmerkoek en droog dit effens in die oond of in ’n droë pan - die hoeveelheid is ’n derde tot ’n halwe koppie. 

Skil een lemoen só dat daar twee lang stringe skil is. 

Druk ook die sap uit en hou eenkant. 

 Skil en sny 1 kilogram patat in blokkies. 

Plaas dit in ’n kastrol en bedek met water. 

Voeg een stuk lemoenskil, ’n knippie sout, een kaneelstokkie, ’n heel afgeskilde ui en twee naeltjies by. 

Ek druk die naeltjies in die ui sodat dit makliker is om dit later op te spoor. 

Laat kook alles vir 25 minute tot die patat gaar is. 

Dreineer die patat en haal die skil, ui en naeltjies uit. 

Hou die patat eenkant.

Smelt 1 eetlepel botter in ’n pan oor lae hitte, voeg een geskilde en opgekapte Golden Delicious appel by en ook een opgesnyde piesang. 

Voeg die ander stuk lemoenskil en n nuwe kaneelstokkie by en roer vir 5 minute. 

Skep die vrugte uit en roer 2 opgehoopte eetlepels bruinsuiker by die vloeistof in die pan.

As die vloeistof te min is, voeg ’n klein bietjie botter by. 

Voeg lemoensap versigtig by. Wanneer suiker karameliseer, kan dit spat. 

Roer 4 eetlepels room by en laat prut vir 2 tot 3 minute. 

Plaas nou die vrugte terug in die pan en roer vir 1 minuut. 

Haal van die hitte af en en verwyder die skil en kaneelstukkie. 

Meng die vrugte en room by die patats en maak dit fyn met ’n vurk. 

Voeg ’n klein bietjie room by as die mengsel te droog is. 

Geur dit met seesout en grofgemaalde swartpeper. 

Gooi die mengsel in ’n oondvaste tertbak en strooi die gemmerbroodkrummels bo-oor. 

Bak in ’n waaieroond teen 170°C vir 15 tot 20 minute tot goudbruin aan die bokant. 

 



Biskop se brood - ’n Heerlike nagereg, piekniekhappie, kosblikverrassing of teetydnoodsaaklikheid

Maak só:

Meng 2½ koppies bruismeel, 1¼ koppie ligte bruinsuiker, 1 opgehoopte teelepel bakpoeier, 1 opgehoopte teelepel fyn kaneel en ’n knippie sout saam. Sny ’n halfkoppie sagte botter in blokkies en vryf dit met jou hande by die meel totdat dit krummelrig is.

As die mengsel nog te droog is om behoorlike krummels te vorm, voeg een eetlepel olie by. Ek gebruik druiwepitolie of neutolie. Skep ’n kwartkoppie van die krummels uit en hou eenkant.  

Voeg nou die nat bestanddele, dis ’n halwe koppie melk, 1 teelepel vanielje-ekstrak, die fyngerasperde skil van ’n 1 suurlemoen, een eetlepel suurlemoensap en een geklitste eier by die meelmengsel. Dis al. Meng dit met ’n vurk totdat jy gedaan en die beslag gladderig is. 

Voer die bodem van ’n vierkantige 22 cm koekpan met bakpapier. As jy nie die pan vertrou nie, smeer die kante baie liggies met botter. Gooi die beslag in en maak dit gelyk, strooi die krummels bo-oor en bak in ’n waaieroond teen 170°C  tot goudbruin, ongeveer 25 minute.  

Laat dit heeltemal afkoel in die pan en sny dit dan in blokkies. Dit word nie met vurkies voorgesit nie. 


 

Dik Italiaanse vla 

Maak só:

Dit is vir my die moeder van alle behoorlike vla, dis die vla wat op die meeste maniere gebruik kan word en ook ’n nagereg op sy eie is. Geen poeier of ander fabrieksondes nie, net melk, eiergele, baie vanielje. En die ding wat alle vla verhef tot ’n onvergeetlike oomblik: skil, suurlemoenskil of lemoenskil. 

Heel eerste verhit jy 2 koppies volroommelk, die saadjies van ’n vanieljepeul en twee of drie repe suurlemoenskil in ’n kastrol. Dis die skil van ’n derde suurlemoen. As daar nie ’n vanieljepeul naby is nie, dan 2 teelepels vanielje-ekstrak of poeier. Geursel of essence is nie deel van hierdie plan nie, dit sal jou vat na ’n plek waar ek jou nie kan help nie. 

As die melk net begin kook, verwyder jy dit van die hitte en haal die skil uit.  

Kies ’n glasbak wat hitte kan hanteer en op ’n kleinerige kastrol sal pas. 

Hierin klits jy 4 eiergele en 100 g strooisuiker tot lig en skuimerig. Sif 2 eetlepels meel, 1 eetlepel mielieblom en ’n knippie sout by die eiers, nie oorvol eetlepels nie. Meng tot ’n gladde mengsel. Klits die mengsel en gooi een eetlepel warm melk by, hou aan klits en gooi ’n tweede, derde en vier eetlepel melk by. Jy wil die mengsel skrikmaak sonder dat die eiergele begin kook. Gooi stadig die res van die melk by en klits aanhoudend.  

Maak die kastrol waarop die glasbak pas halfvol met water, die water moet nie aan die bodem van die glasbak raak nie. Verhit die water totdat dit liggies kook, plaas die glasbak bo-op en klits totdat die vla verdik. Haal die bak van die kastrol af, bedek dit die vla en laat dit afkoel.  

Skep dit in glase of bakkies en sit voor met vars bessies of koekiekrummels. Gebruik dit vir klein individuele trifles, vul roompoffertjies of ander baksels, smeer op laagkoeke, gebruik dit as ’n basis vir roomys of net saam met roomys, bedien saam met gebakte nagereg, of eet ‘n lepelvol elke keer wanneer jy voor die yskas verbystap. 

Meer oor:  Nataniël  |  Resepte  |  Podsendings  |  Kwessie Van 'N Dag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.