Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
RESEPTE: Varkpastei, potbrood, groenbone en soetpatats
  • Dié potjiekosresep kom uit VIA (DStv-kanaal 147) se kosprogram Laat die potte prut. Dit is verskaf deur Boerepompie, een van die program se wenspanne.
Potbrood

Voorpot: Potbrood

Bestandele

  • 50 ml heuning
  • 2 l louwarm water
  • 10 g gis
  • 2,5 kg broodmeel
  • 500 g kaiings
  • 20 ml (4 t) sout
  • 15 ml (1 e) sagte varkvet
  • 300 g biltongpoeier

Metode

1. Los die heuning in die louwarm water op.

2. Meng die gis, broodmeel, kaiings en sout in ’n mengbak saam.

3. Voeg die heuningmengsel by die gemengde droë bestanddele en knie dit saam tot die deeg glad en elasties is.

4. Voeg die sagte varkvet by die deeg en knie dit verder saam.

5. Vee die pot uit met van die oorblywende varkvet en sit dan die deeg in die pot vir ’n uur sodat dit kan rys.

6. Plaas die brooddeeg op matige kole met min hitte bo en onder die pot.

7. Laat dit vir 90 minute bak tot gaar.

8. Bedien die brood met biltongpoeier.

Hoofpot: Varkpastei

Varkpastei

Bestandele

  • 250 g gerookte spek
  • 1 kg varkvleis
  • 3 uie, gekap
  • 45 ml (3 e) knoffel
  • 250 ml (1 k) seldery
  • growwe sout na smaak
  • 1 l hoender- en varkaftreksel (500 ml van elk)
  • 2 middelslag-aartappels, in kwarte gesny
  • ’n knippie naeltjies
  • 5 ml (1 t) kaneel
  • varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 2 eiers
  • 250 ml (1 k) vars pietersielie, gekap

Vir die pasteideeg:

Bestandele 

  • 375 ml (1½ k) koekmeel
  • 5 ml (1 t) bakpoeier
  • 1 eier
  • 15 ml (1 e) suurroom
  • ¾ k botter

Metode

1. Meng die koekmeel en bakpoeier in ’n mengbak.

2. Klits die eier en suurroom liggies in ’n aparte mengbak.

3. Verkrummel die botter in die meelmengsel en voeg dan die eiermengsel by.

4. Knie alles saam totdat dit ’n ligte deeg vorm.

Vulsel:

Metode

1. Braai die spek in ’n groot pot oor medium hitte vir sowat 2 minute.

2. Voeg die varkvleis by en braai sowat 5 minute.

3. Haal die varkvleis uit en laat dit afkoel.

4. Voeg die uie, knoffel, seldery en sout by en braai vir sowat 10 minute tot goudbruin.

5. Voeg die gaar varkvleis, aftreksel, aartappels, oorblywende speserye en peper by die pot en laat vir 30 minute oor lae hitte prut.

6. Laat die vark-en-groentevulsel afkoel vir 30 minute tot kamertemperatuur.

7. Voeg een eier en pietersielie by die vulsel en roer dit liggies deur.

8. Rol die deeg uit en voer die pot hiermee uit.

9. Skep die vulsel in die deeg.

10. Rol die orige deeg uit en sny dit in ’n sirkel om mooi oor die vulsel te pas.

11. Druk dit vas en verf die deeg met ’n geklitste eier sodat dit mooi bruin kan bak.

12. Bak die pastei in die pot oor matige kole. Maak seker jy sit ook ’n paar kole op die deksel van die pot.

13. Bak die pastei tot goudbruin.

14. Laat dit vir 30 minute afkoel en sit voor met groenbone en soetpatats.

Bypot: Groenbone met Mosterd

Bestandele

  • 3 l (12 k) water
  • 500 g groenbone
  • 300 g gerookte varkwange
  • 1 middelslag-ui, gekap
  • 15 ml (1 e) sagte varkvet
  • 45 ml (3 e) heelkorrelmosterd
  • 125 ml (½ k) crème fraîche
  • 62,5 ml (¼ k) suurlemoensap, vars uitgedruk

Metode

1. Kook die water in die pot en voeg dan die groenbone by.

2. Kook die bone vir 5 minute – maak seker dit bly steeds groen en effens krakerig.

3. Verwyder en dreineer die bone.

4. Braai die varkwange in die pot.

5. Verwyder die vleis en braai die uie in die varkvet tot sag.

6. Voeg die mosterd en crème fraîche by en laat dit saamsmelt.

7. Voeg die bone en suurlemoensap by die mosterdmengsel en roer deur.

Bypot: Soetpatats

Soetpatats

Bestandele

  • 500 g patats
  • 250 g botter
  • 125 ml (½ k) gouestroop
  • 100 g bruin suiker
  • 1 kaneelstokkie

1. Skil die patats en sny dit in skywe.

2. Smelt die botter oor lae hitte.

3. Voeg die stroop en suiker by en laat karameliseer die mengsel.

4. Voeg die patats en kaneel by en laat prut tot bruinerig.

  • Nuwe episodes van Laat die potte prut word Donderdae om 20:00 vertoon met heruitsendings op Vrydae om 19:00 en Saterdae om 21:00.
Meer oor:  Via  |  Resep  |  Laat Die Potte Prut
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.