Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Restaurant op Wildernis slaan 2 internasionale pryse los
Een van die aanbieders by die spoggeleentheid oorhandig ’n prys aan Lizelle (links) en Rudolf Stolze.

Serendipity, ’n boetiekrestaurant in Wildernis in die Suid-Kaap, het onlangs twee gesogte internasionale pryse in Rusland gewen.

Die Wêreldluukserestaurant-toekennings, wat in 2015 begin is, se wenners is op 5 Julie in St. Petersburg aangekondig.

Vanjaar het dit ook spa’s ingesluit.

Serendipity het die prys in die wêreldwye kategorie vir die beste Suid-Afrikaanse kos gewen, asook vir die beste plaaslike fynproewersrestaurant in Suid-Afrika.

Meer as 90 lande en 270 restaurante het deelgeneem, met meer as 100 000 mense wat internasionaal daarvoor gestem het.

Rudolf en Lizelle Stolze by die geleentheid vir die World Luxury Restaurant Awards in St. Petersburg.

Lizelle en Rudolf Stolze besit en bestuur Serendipity al 18 jaar lank. Lizelle is die hoofsjef en Stolze bestuur die voorkant van die klein restaurantjie.

“Dit is vreeslik lekker om te wen,” sê Lizelle.

“Om hierdie prys te wen is ’n groot prestasie en bring in ’n mate status en ‘selfvertroue’ na jou onderneming.”

Lizelle sê hulle bedien meestal internasionale gaste met 85% van hul besprekings wat deur oorsese gaste gemaak word. Daar is 11 tafels met ’n spyskaart wat maandeliks verander.

“Ons geniet die werk baie. Om te sien hoe mense jou kos waardeer, is baie spesiaal.”

Die spyskaart is nie eg Suid-Afrikaans nie, maar het ’n sterk trek van Suid-Afrikaanse produkte wat gebruik word, sê sy.

Hulle gebruik baie wildsvleis en het selfs vandeesmaand duifborsies op die spyskaart.

Rudolf is volgens Lizelle ’n kranige jagter en hulle gebruik baie van dié vleis vir die spyskaart. Ander bestanddele wat dikwels gebruik word is inheemse graan- en styselsoorte soos pap en mielies.

“Ons gebruik die produkte in ’n internasionale styl.”

Die spyskaart gebruik ook plaaslike inheemse produkte van volhoubare bronne – organies en vars waar moontlik.

Lizelle sê restaurante word deur die organiseerders van die kompetisie gekies, maar dit is die publiek wat dan daarvoor moet stem.

Volgens die webtuiste van die Wêreldluukserestaurant-toekennings, is hierdie pryse ’n groot prestasie.

“Dit sal voortdurende groei stimuleer en restaurante verder laat ontwikkel.”

https://www.luxuryrestaurantawards.com/winner/the-4th-annual-world-luxury-restaurant-awards/?sorts%23winners-table[type]=-1&queries%23winners-table[search]=serendipity

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.