Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Kostelik:
Ryk, donker, hemels

Ek en my Ier het op 1 November ons 17de huweliksherdenking gevier (tot ons albei se verbasing!). Dié dag is ook my hondekinders, Frankie en Robbie, se verjaardag en dié twee is nou ’n goeie ouetehuis-12. Ons viertjies het die dag stilletjies met ’n lekker dekadente drielaagsjokoladekoek, hondebeskuitjies en ’n bottel Roodeberg 2017 gevier. Ek glo rooiwyn is nie net gemaak vir rooivleis nie – saam met ’n groot stuk ryk sjokoladekoek is dit ’n hemelse kombinasie.

Roodeberg is 70 jaar oud

Roodeberg se rooiwyn is ikonies. Dis in 1949 bekend gestel en vier vanjaar sy 70ste bestaansjaar. Vir die eerste 55 jaar is Roodeberg eksklusief vir uitvoer gemaak, oorspronklik vir die Kanadese se drinkgenot.

Om dit te vier het Roodeberg sy 2017-oesjaar in ’n vorstelike verpakking uitgereik.

Vir my is rooiwyn net lekker of sleg en Roodeberg 2017 is lekker.

Hoe smaak Roodeberg 2017?

Volgens Roodeberg ontvou die rooi versnit in jou glas met aromatiese lae rooivrug, swartbessie en potlood-skaafsels, wat verryk word met warm ondertone van tabak en donker sjokolade (dus ’n perfekte maat vir ’n sjokoladekoek!). In verdere wynkennerstaal, is die smaak elegant en afgerond met seder-eik en donker pruim-nuanses, wat ondersteun word deur sagte tannien, wat lank ná die laaste slukkie talm.

Vir my is rooiwyn net lekker of sleg en Roodeberg 2017 is vir my lekker, want dit is nie te swaar nie, dit is volrond met bessie- en sjokolade- geure, is heerlik saam met ’n stukkie steak én net so lekker saam met die dekadente sjokoladekoek wat ek gebak het.

Anél se drielaag-sjokoladekoek

Die sjokoladekoek, sonder die duur 70%-sjokolade, is ekonomies, klam, ryk en lekker. Dit is nou werklikwaar ’n showstopper en moet ook nie jou tyd mors om dit te fênsie te versier nie. Dit is nou hoogmode om sommer ’n mes te vat en die versiersel rof oor die koek te smeer om ’n growwe tekstuur te vorm. Bak hom gerus en laat my weet.

Groete uit my kombuis,

Anél Potgieter

anelpot@telkomsa.net

Anél se drielaag-sjokoladekoek

Anél se dekandente drielaag-sjokoladekoek. Foto:

Maak 3 x 20 cm ronde koeke

Koek

6 groot eiers, teen kamertemperatuur

3 k (600 g) strooisuiker

1 t vanieljegeursel

1¾ koppie (400 ml) kanola-olie

60 ml espresso (opsioneel)

2 k karringmelk

3 k (400 g) koekmeel

2 k (200 g) kakaopoeier

3 t koeksoda

1 t sout

Versiersel

3 k (750 g) gesoute botter, teen kamertemperatuur

10 k (1 250 g) versiersuiker

1 t vanieljegeursel

1 k (100 g) kakaopoeier

30 ml espresso (opsioneel)

1 blik (360 g) karamel

Koek: Voorverhit die oond tot 180 °C. Sproei die koekpanne liggies met kleefwerende kossproei of smeer met botter. Voer die onderkant van die koekpanne met bakpapier uit.

Klop die suiker, eiers en vanieljegeursel in ’n elektriese menger tot lig en dik. Voeg die olie stadig by en meng totdat dit ingewerk is. Meng die espresso en karringmelk by.

Sif die koekmeel, kakaopoeier, koeksoda en die sout by. Meng tot goed gekombineer.

Verdeel die beslag eweredig tussen die drie koekpanne. Bak in die oond vir 35-45 minute of totdat ’n toetspen skoon uitkom. Haal dit uit die oond en laat afkoel voordat jy dit uit die panne verwyder.

Versiersel: Klop die botter, versiersuiker en vanieljegeursel vir 10-15 minute in ’n elektriese menger tot lig en romerig. Skep 1/3 van die versiersel in ’n groot versiersak met ’n groot ronde spuitpunt. Voeg die kakaopoeier en espresso by die res van die versiersel en klits goed vir vyf minute.

Om saam te stel: Plaas een laag sjokoladekoek op die koekstaander. Spuit die vanieljeversiersel op die eerste koek. Plaas die tweede laag koek bo-op. Smeer die karamel op die tweede laag en plaas derde laag bo-op. Versier die hele koek met die sjokoladeversiersel. Plaas die koek vir ongeveer twee uur in die yskas om te set. Sny en geniet!

Briewehoekie

Ek het dié briefie van Alsona Elstadt van Graafwater ontvang en ek het gewonder of iemand ons kan help met ’n resep? Ek het my nou al moedeloos gegoogle en gekrap in al my boeke en kry boggerôl. As julle iets kan deel, stuur asseblief aan my by anelpot@telkomsa.net.

Goeie môre Anél.

Nadat ek nou al jare soek na ’n spesifieke resep vir ’n aspersietert, wend ek my vanoggend tot jou. Ek is self ’n voedselwetenskaplike, maar gee tans lewenswetenskappe op ’n godverlate Graafwater!

Jare gelede was daar ’n aspersietertresep in ’n tuis- of een of ander tuintydskrif. Wat hierdie resep uniek gemaak het, was ’n koppie gekapte kappertjieblomme. Ek het elke aspersietert wat ek maak al gemeng en geswaai - dis suurroom, room of maaskaas, parmesaan, álles . . .

Jy kan nie glo nie, maar daardie smaak kry ek nie opgetower nie. Jy besit nie dalk so ’n resep wat jy nie omgee om te deel nie?

Vriendelike groete, Alsona Elstadt

Foto:


Wenners: Hulle wen elk ’n eksemplaar van Dit proe soos huis: Martie Manley (Stellenbosch), Dot Wollenschlaeger (Bloemfontein), Bettie de Beer (Klerksdorp). Estelle de Koker (Krugersdorp) is die wenner van die Japanse Konro-tafelbraai.

Foto:
Foto:

Wen ’n Roodeberg-geskenkpak

Vyf lesers kan elk ’n Roodeberg-geskenkpak met ’n Roodeberg Rooi, Roodeberg Rosé en ’n leerboekie wen. SMS die woord “Roodeberg” met jou naam en adres na 34581. Sluitings­datum: 15 November 2019

Meer oor:  Kos  |  Resepte  |  Kostelik
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.