Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Kostelik:
Ryk en lekker

Al wat jy kan verloor, is jou middellyf

Kyk, my familie kón eet en kan steeds eet en ek was nog besig om modderkoekies te bak toe moes ek al Saterdae inspring om koek te bak vir my drie honger broers en suikertand-pa.

Ma Babs se Vinnige Veelsydige Koek het ek uit my kop geken en om dié vanieljekoek in ’n sjokoladekoek te omskep het ek net twee eetlepels koekmeel met twee eetlepels kakaopoeier vervang.

By Oom George Koutsoudis se kafee in Wepener was daar ook definitief nie 70%- of 80%-sjokolade te koop nie – gewone melksjokolade was vir ons ’n luukse en is nie in gebak gebruik nie.

Veerligte sjokoladekoek met ganache

Die lekkerste sjokoladekoek vir my is veerligte koek wat met ’n bietjie (of baie) sjokolade-ganache versier word. Ek het Babs se resep bietjie aangepas en sjokoladestukkies bygevoeg en ook bruinsuiker gebruik vir bietjie ekstra geur.

Ek hou daarvan om dit so half morsig op die koekstaander te versier. Plaas die eerste laag op die staander en gooi ga­nache oor. Doen dan dieselfde met die tweede laag.

Dit is vir my sjokolade-sexy wanneer daardie blink ganache so speels van die koek afdrup. Ganache is ’n duur storie, maar die koek is net so lekker saam met ’n skeppie chantilly-room (geklopte soetroom met vanielje-essens) of crème fraîche.

Warm drankie vir koue wintersaande

My Ier het ’n verskriklike suikertand wat veral ná nege saans sy verskyning maak. Hy steek altyd ’n sjokoladetjie êrens in die huis weg en kom dan saans met ietsie soets in die hand bed toe. Slim!

Wintermaande eksperimenteer hy met warm sjokoladedrankies en verlede week het my sjokolade-Einstein my verras met ’n steranys-en-kaneel-sjokoladedrankie.

Ek sê mos altyd hy is nie net sexy nie, maar slim ook. Julle kan self eksperimenteer met Rick se resep, want al wat jy het om te verloor, is jou middellyf.

Groete uit my kombuis,

Anél

anelpot@telkomsa.net

My Ier se warm sjokoladedrankie

Bedien 2

Rond altyd jou warm sjokoladedrankie af met ’n kaneelstokkie. Foto:

450 ml volroommelk

1 steranys

80 g 70%-sjokolade, gerasper

30 g melksjokolade, gerasper

75 ml room

2 kaneelstokkies, vir bediening

Gooi die helfte van die melk en die steranys in ’n potjie en maak warm oor matige hitte.

Roer die sjokolade by tot gesmelt en klits nou die res van die melk en room by. Verhit tot die mengsel warm is, maar dit moet nie kook nie. Skep die steranys uit, gooi in bekers en bedien met kaneelstokkies.

Veerligte sjokoladekoek

Ek hou van ’n sjokoladekoek wat sommer so morsig versier word. Foto’s: iStock

250 g gesoute botter, teen kamertemperatuur

250 g ligte bruinsuiker

2,5 ml sout

100 g kakaopoeier

250 g koekmeel

10 ml bakpoeier

3 groot eiers

250 ml volroommelk

5 ml vanielje-essens

80 g sjokolade van jou keuse, in klein stukkies gekap

Sjokolade-ganache

500 g sjokolade van goeie gehalte, fyngekap

500 ml room

Koek: Spuit twee koekpanne van sowat 20 cm in deursnee met kleefwerende kossproei. Voer uit met bakpapier en spuit weer. Verhit oond tot 180 °C (160 °C vir ’n waaier­oond).

Room die botter, suiker en sout tot lig en romerig. Sif kakao, meel en bakpoeier saam en hou eenkant. Klop die eiers een vir een by die bottermengsel tot goed gemeng. Vou die helfte van die meelmengsel by die bottermengsel. Vou nou die res van die meelmengsel en melk om die beurt by. Laastens, vou die vanielje-essens en sjokoladestukkies by. Verdeel beslag eweredig tussen die twee panne en bak vir 25-30 minute of tot toetspen skoon uitkom. Laat in panne afkoel vir tien minute, keer uit op afkoelrak en laat heeltemal afkoel.

Sjokolade-ganache: Plaas fyngekapte sjokolade in glasmengbak. Bring room tot kookpunt en gooi oor sjokolade. Roer tot gladde mengsel. Versier koek soos in rubriek beskryf.

Foto:

Hoe om die perfekte eier te kook:

Ek het op hierdie oulike foto afgekom wat aandui hoe lank jy eiers moet kook en het dit onmiddellik op my yskas geplak. Onthou om met koue water in jou kastrol te begin.

Plaas eiers in ’n pot en bedek met koue water – moenie die deksel opsit nie. Sit die pot op ’n stoofplaat wat op matige hitte gestel is en bring tot kookpunt. Hou die tyd dop van die oomblik dat die water begin kook. Wanneer die verlangde tyd bereik is, haal die pot van die plaat af en gooi koue water oor die eiers sodat die kookproses dadelik kan stop.

Meer oor:  Resepte  |  Kostelik
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.