Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
SA sjef onder wêreld se bestes

Die Restaurant Mosaic in Elandsfontein, buite Hartebeespoortdam het Maandagaand kulinêre geskiedenis gemaak toe hy by die Franse La Liste-wêreldrestauranttoekennings as Suid-Afrika se beste restaurant bekroon is. Dis die eerste keer dat ’n Gautengse restaurant die prys wen.

Restaurant Mosaic se hoofsjef Chantel Dartnall. Foto: Carla Lewis
Netwerk24 Foto: Carla Lewis

Hoofsjef Chantel Dartnall het Maandag haar prys in Parys, Frankryk, by ’n eksklusiewe toekenningsfunksie ontvang, waar La Liste die wêreld se 60 beste sjefs vir hul kulinêre kuns vereer het. Restaurant Mosaic se finale puntetelling was 94% en hulle beklee ’n algehele 12de plek op die wêreldwye ranglys.

Met dié prys vind Dartnall haarself in die uitgelese geselskap van bekende sjefs soos Guy Savoy, Alain Ducasse en Éric Ripert, wie se restaurante almal ook op die lys verskyn.

Sedert die pryse in 2017 van stapel gestuur is, het die restaurant elke jaar op La Liste se lys van die wêreld se 1 000 beste restaurante gepryk. Die restaurant het ook in die 2019-prys gewen vir die beste wynlys ter wêreld.

“Ons is ongelooflik trots om internasionale erkenning van die kaliber te ontvang en met aanraking te kom met soveel talentvolle sjefs, vir wie ons net die hoogste agting het.” het Dartnall gister uit Parys gesê.

“Ons is natuurlik ook in die sewende hemel om Suid-Afrika op so ’n wêreldwye vlak te verteenwoordig.”

Sy beskryf haar geregte as “botaniese fynproewerskos – waar Moeder Natuur die hoofrol op elke bord speel.

“Elke dis word spesiaal ontwerp om die skoonheid, balans, harmonie en suiwerheid van die natuur na te boots. Ek probeer die natuur se verskillende nuanses vasvang, maar bestudeer ook die medisinale eienskappe van die speserye en kruie wat ek in my geregte gebruik, om my gaste se vertering en bloedsirkulasie aan te help.”

Dartnell glo ’n gereg moet nie net lekker smaak nie, dit moet ook ’n sensoriese ervaring wees.

“Dis belangrik om geregte voor te berei wat al die sintuie prikkel, van die oomblik wat dit by jou tafel aankom. Dit moet ’n fees vir die oë en jou smaakknoppies wees.”

Dartnall het ook verlede maand ’n opskudding in Suid-Afrika se restaurantbedryf veroorsaak toe sy Restaurant Mosaic van die Eat Out-toekennings onttrek het. Die restaurant was die enigste een buite die Wes-Kaap wat op die toptien-lys verskyn het en landswyd negende plek behaal.

“Dis die tiende keer wat ons die lys gehaal het, maar ek voel dis nou tyd dat ons onsself van die toekennings onttrek sodat ’n nuwe generasie van sjefs en restaurante ook erkenning kan kry,” het sy verlede maand in ’n verklaring gesê.

Restaurant Mosaic se hoofsjef Chantel Dartnall word as een van die wêreld se voorste hoofsjefs gereken.
Restaurant Mosaic se hoofsjef Chantel Dartnall, voor ’n skildery van Adriaan Boshoff.Foto: Carla Lewis

Wat is ’n La Liste-prys?

Die La Liste World Restaurant-pryse – wat deur die Frankryk se departement van buitelandse sake onderskryf word – vereer sjefs en kulinêre deskundiges van regoor die wêreld. Dit word wêreldwyd as een van die gesogste en toonaangewendste restaurantpryse gereken.

20 000 restaurante uit 190 lande word oorweeg vir die pryse.

’n Goeie jaar

Restaurant Mosaic het in 2019 die volgende pryse verower:

  • La Liste: Restaurant met die beste wynlys ter wêreld.
  • La Liste: Top 200 restaurante in die wêreld.
  • Wine Spectator Grand Award: Die prys word slegs aan 100 restaurante wêreldwyd toegeken wat ’n uitsonderlike hoë standaard met hul wynlys, wynkelder en kliëntediens handhaaf.
  • The Best Chef Awards 2019: Dartnell is onder die wêreld se top-300 sjefs aangewys
  • World of Fine Wine World’s Best Wine Lists Awards 2019: Wenner: Beste wynlys ter wêreld
  • Haute Grandeur Global Awards 2019: Beste sjef in Afrika
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.