Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
SA sjefs is die beste in Afrika

Wanneer dit kom by fynproewerskos, kan Suid-Afrikaners aansit vir van die beste, skryf Alet Wichmann.

Chantel Dartnall, hoofsjef by Mosaic-restaurant by The Orient-boetiekhotel, in aksie in die kombuis.

Verskeie restaurante is onlangs vereer by die jaarlikse Haute Grandeur Global-restaurantpryse.

“Dié pryse gee erkenning aan gasvryheidservarings oor sewe kontinente en in meer as 60 lande. Hulle maak staat op terugvoering van gaste, eerder as op die publiek se stem of beoordeling,” aldus ’n mediaverklaring deur Durbanville Hills se Tangram-restaurant.

Dié restaurant is vereer as beste Suid-Afrikaanse kookkuns op ’n internasionale vlak, beste restaurantbestuurder en beste gourmet-kookkuns in Afrika.

Die Mosaic by The Orient-hotel in Elandsfontein spog met die beste hoofsjef in Afrika. (Hulle het ook gewen vir beste Europese kookkuns en beste ligging in Afrika.)

“Ons is vreeslik trots,” sê Chantel Dartnall, hoofsjef. Sy verduidelik die restaurant se ligging is so besonders aangesien dit in ’n bewaringsgebied lê. “Ons het die gebied wat oor 280 hektaar strek, 20 jaar terug gevestig en inheemse plante en dierspesies hervestig.”

Sy put inspirasie uit die inheemse plante. Daglelies dien gereeld as blaarslaai. “Daar is baie verskillende spesies en elkeen het ’n ander smaak,” sê Chantel.

Een van die bome, die blinkblaar-wag-’n-bietjie, het ook een van haar gunstelingdisse geïnspireer. “Die bye is baie lief vir die boom en maak donker heuning van die stuifmeel. Ons kombineer dit met Franse kaas uit die Jura-vallei wat 36 maande verouder is. Dis ongelooflik skaars en daar het al soutkristalle op die oppervlak gevorm. Die heuning balanseer die soutsmaak en daarmee maak ons heuningroom en pampoenpitgranola wat lyk soos boomgom wat op boombas lê,” vertel Chantel.

Mosaic-restaurant het ook onlangs vele ander pryse vir hul wynverskeidenheid ontvang. Onder meer Wine Spectator se topprys, die Grand Award. Die oudste bottel in hul wynkelder dateer uit die jaar 1900. Dis ’n Madeira- gefortifiseerde wyn.

Daar’s ook twee bottels van die mees eksklusiewe sjampanje: die 2002 Krug Clos d’Ambonnay Blanc de Noirs Brut. Dit kos R130 000 per bottel.

Maar daar’s darem ook bekostigbaarder bottels. Die sjampanje begin by R450 per bottel, nie sleg vir dié Franse voggies nie.

Ander restaurante wat ook vereer is:

  • Canal Café by die Harbour Bridge-hotel in Kaapstad vir beste gourmet-bistro in Afrika, beste luukse restaurant in Afrika en beste Afrika-kookkuns op die kontinent.
  • Giulio’s Café in Kaapstad vir beste Italiaanse kookkuns in Afrika.
  • Greenhouse by die Cellars-Hohenhort-hotel in Constantia Heights vir beste fynproewerskookkuns, beste Suid-Afrikaanse kookkuns en beste wynseleksie, alles op die kontinent.
  • Marble in Rosebank, Johannesburg, vir beste Afrika-kookkuns op internasionale vlak, beste braai en beste uitsig in Afrika.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.