Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Kostelik:
‘Saam’ vier bak-skatkis
Ode aan nederige, nostalgiese resepteboekies uit gemeenskap

Ek en Babs het nou die dag saam deur Errieda du Toit, Suid-Afrika se huiskoskampioen, se nuwe kookboek, Saam, geblaai. Errieda het haar verdiep in 150 gemeenskapsresepteboekies wat oor 100 jaar uitgegee is en Saam is ’n ode aan dié kookboekies – die nederigste, mees miskende in die genre van kosliteratuur. Dié pragstuk het soveel herinneringe vir my en Babs teruggebring en hier volg ’n uittreksel uit die uitsonderlike meesterstuk.

Noorsie, die inheemse koffietyd-koekie

Koekies kry dikwels troetelname wat dui op pret, bederf en wat elkeen se gunsteling- of kenmerkkoekie was. Hier is die storie van ’n kontreikoekie met ’n inheemse troetelnaam.

Die noorsie (noorsdoringkoekie) is ’n soort koekie vir koffietyd, genoem na die noorsdoring, ’n doringagtige plant met lang regop stamme wat in dorre gebiede voorkom. Die koekie word met ’n vleismeule-koekiemaker in sy sterpatroon gevorm om die plant na te boots.

Errieda se geesdrif vir die koekie het begin toe sy dit by Vioolsdrif se kerkbasaar geproe het. Toe sy die resep in Vosburg kook sien, móés sy net die koekie se herkoms uitpluis. So kontak Errieda toe vir Marieta van der Merwe wat nou in Hartenbos bly. Op 80 is sy nog net so op-en-wakker as in haar dae as boervrou op die plaas Mordant in die Murraysburg-distrik.

Sy vertel: “Ek het nie veel geweet van bak toe ek in 1959 op die plaas kom bly nie, maar het gou lief geword daarvoor. Die vleismeultjie met die koekiedrukker was vasgemaak aan ’n ou stoeptafel. Toe lyk die vlakoekies wat daar uitpeul, nes die noorsdoring wat op die plaas gegroei het. Ek het die plant ook goed leer ken toe ek voor my troue op Jansenville gewerk het, wat eintlik die groot noorsdoring-wêreld is.

“Die resep maak sommer ’n klomp koekies. Party hou jy net so en die ander plak jy opmekaar met ’n smeerbare vanieljevulsel. Al het my man nie van soetgoed gehou nie, het hy altyd hope noorsies geëet. Nadat ek dit vir die basaar se kleinkoekietafel gebak het, wou almal die resep hê. Toe stuur ek dit maar vir Huisgenoot se Wenresepte. Ek bak lankal nie meer nie, en verlang na die dae met die vleismeultjie en die noorsies. Ek wens só mense wil weer begin bak.”

Soutterte

As dit nie vir souttertresepte was nie, sou vele gemeenskapsboekies heelwat dunner gewees het. Die vroue het soutterte gemaak met alles wat in hulle is, en met alles in die yskas en die spens. Dis glad nie ongewoon om resepte te sien met name soos Souttert I, Souttert II of Souttert III nie, en dan is daar nog ’n rits vir korslose soutterte wat omtrent almal identies is. Dink aan die intriges en politiek van so ’n boekie saamstel – wie se resepte laat jy uit sonder om op tone te trap?

’n Ander kenmerk is hoeveel van die souttertresepte met die hand bygeskryf is in kantlyne, op los stukkies papier en selfs agterop ou water-en-ligterekeninge. So het mev. Maaike M. Jooste van Boston soutterte netjies ingeskryf op oop spasies in Beproefde Resepte. Dis deel van die reeks van drie boekies wat die sustervereniging van die NG Kerk Bellville-Oos van 1960 af saamgestel het.

Met net die regte balans tussen nostalgie, modernisering van ou resepte en boeiende vertellings, is Saam dié boek vir huiskokke, kookboekversamelaars en almal wat nuuskierig en entoesiasties is oor Suid-Afrikaanse kos.

Groete uit my kombuis

Anel

anelpot@telkomsa.net

Noorsies

Noorsies herinner aan die noorsdoring. Foto:

Lewer ongeveer 150 koekies

750 g botter of margarien

500 g versiersuiker

4 eiers

15 ml vanieljegeursel

1,5 kg bruismeel

2 ml sout

gesmelte donkersjokolade vir versiering (opsioneel)

Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer bakplate goed. Room die botter en versiersuiker tot lig. Voeg die eiers een vir een by en klits goed na elke byvoeging. Voeg die res van die bestanddele by en meng goed. Druk die deeg deur die stervorm van die vleismeul, sny in lengtes van 6 cm en pak ’n entjie uitmekaar op die bakplate. Bak 8 tot 10 minute tot gaar, maar nie bruin nie. Keer uit op afkoelrakke en laat afkoel.

Souttert

SouttertFoto:

Lewer 1 medium souttert

Aartappelkors

500 ml warm kapokaartappels

55 g botter

10 ml bakpoeier

2 groot eiers, geklits

Vulsel

15 g botter

15 ml koekmeel

250 ml warm melk

1 eier, geklits

5 ml sout

15 ml gekapte vars pietersielie

knippie rooipeper

180 ml gerasperde cheddarkaas

keuse van gekapte ham, skyfies Weense worsies, soutvleis, geblikte aspersiepunte, gekapte hardgekookte eier, gekapte gaar streepspek, gerookte snoek

Bolaag

1 eier

125 ml melk

60 ml gerasperde cheddarkaas

Aartappelkors: Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer ’n tertbak met deursnee van ongeveer 20 cm. Meng die warm aartappels met die botter. Voeg die bakpoeier en geklitste eiers by en meng. Voer die voorbereide tertbak met die aartappelmengsel uit.

Vulsel: Maak ’n witsous: Smelt die botter in ’n kastrol en roer die meel by. Sodra dit effe verbruin, voeg die helfte van die warm melk by, roer wild en wakker tot glad en klontvry. Voeg die res van die melk by en roer tot die sous verdik. Voeg die res van die bestanddele by en giet die mengsel in die aartappelkors.

Bolaag: Klits die eier en melk goed en giet dit oor die vulsel. Strooi die kaas oor en bak 20 tot 30 minute tot gaar.

Geluk Errieda!

Errieda du Toit
Tannie Babs het vele kosherinneringe. Foto: Anél Potgieter

Saam is bekroon met die Gourmand Cookbook-prys as die beste Suid-Afrikaanse boek in die kategorie kulinêre erfenis. Dit sal in 2020 teen boeke van 225 ander lande meeding in die internasionale been van die kompetisie.

Wen!

Saam word uitgegee deur Struik Leefstyl en kos R350. Drie lesers kan elk ’n eksemplaar wen. SMS die woord “saam” met jou naam en adres na 34581. Sluitingsdatum: 13 Desember

Meer oor:  Errieda Du Toit  |  Anél Potgieter  |  Kookboek  |  Kostelik  |  Resensie  |  Resepte  |  Kos  |  Bak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.