Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Sampioene is propvol gesondheid

’n Gesonde immuunstelsel was nog nooit so belangrik soos nou nie. En sampioene kan, as deel van ’n gebalanseerde dieet wat ’n verskeidenheid groente, vrugte, koolhidrate en proteïne insluit, jou help om joune te versterk.

Sampioene is laag in cholesterol, kilojoules en sout, dis glutenvry en dit het ’n lae glukemiese indeks. Volgens dr. Martmari van Greuning, wat as bestuurder van sampioenkwekers Sylvan Africa al meer as 20 jaar se ondervinding en kennis in die bedryf het, word sampioene al hoe meer vir hul vele gesondheids- en medisinale eienskappe erken.

Foto: iStock

Natuurlike antioksidante

Antioksidante is ’n natuurlike komponent in sekere kossoorte wat help om vry radikale (wat ’n rol speel in veroudering, inflammasie en leefstylsiektes) in die liggaam te neutraliseer. Dis noodsaaklik vir ’n gesonde immuunstelsel en sampioene is ’n briljante bron daarvan. Dit bevat baie ergotionien, ’n aminosuur en kragtige antioksidant wat slegs deur fungi gesintetiseer word en dus deur sampioene in die dieet ingeneem kan word. Dit word ook nie tydens die gaarmaakproses vernietig nie. Ergotionien versterk veral rooibloedselle, wat ’n rol in die vervoer van suurstof en voedingstowwe na selle speel, en beskerm die are teen aarverkalking (arteriosklerose).

Sampioene is ook ryk aan fenoliese komponente, wat witbloedselle stimuleer om infeksie af te breek en sodoende die immuunstelsel te versterk.

Sampioene bevat ook ergosterol, ’n antioksidant wat met blootstelling aan die son omskakel na vitamien D en noodsaaklik is vir ’n gesonde immuunstelsel en beenstruktuur. Wilde sampioene bevat ’n groter hoeveelheid ergosterol.

Volgens Martmari voorsien ’n porsie sampioene (100 g) ’n kwart van die aanbevole daaglikse hoeveelheid selenium, ’n mineraal bekend om sy antioksidantiese eienskappe en die rol wat dit in die voorkoming van prostaatkanker speel.

Nog hope voordele

  • Sampioene voorsien meer as 20% van die aanbevole daaglikse hoeveelheid van ses belangrike voedingstowwe: vitamien B2, B3 en B5, vitamien H, koper en selenium.
  • Dit bevat meer proteïne, in die vorm van lektien (wat ook antibakteriese en antivirale eienskappe het), as die meeste ander groente.
  • Dis ’n bron van vesel, wat in die vorm van chitien en beta-glucans in die selwande van fungi voorkom.
  • Dit bevat ook ander bestanddele wat kan help om bors- en prostaatkanker te voorkom. Navorsing deur die Beckman-instituut in Kalifornië het gewys knopiesampioene bevat ’n omega-6-vetsuur wat ensieme inhibeer wat by die vorming van bors- en prostaatkanker betrokke is.
  • ’n Studie deur die Menslike Voedingkunde-navorsingsentrum vir Veroudering (HNRCA) in Massachusetts het ook getoon wit knopiesampioene stimuleer dendritiese selle wat in beenmurg voorkom en help om T-selle te maak.
  • T-selle is spesiale witbloedselle wat antigene kan identifiseer en deaktiveer en só die immuunstelsel versterk.

Bestel

Delheim se wilde-sampioen-soektog, wat gewoonlik ’n volbespreekte jaarlikse geleentheid is, is vanjaar weens die inperking afgestel. Nietemin maak Delheim die beste van die tiende jaar van dié geleentheid met hul wilde-sampioen-bokse.

Bestellings kan deur Delheim se aanlyn winkel (delheim.com) geplaas word. Dit kos R720 en bevat:

* Gedroogde porcini-sampioene, parmesaankaas en risottorys, asook ’n paar ekstra artikels om die maaltyd iets buitengewoons te maak, en ’n resep om ’n heerlike risotto te maak.

* ’n Bottel elk van Delheim se Chenin Blanc Wild Ferment 2019, Sauvignon Blanc 2019 en Cabernet Sauvignon 2016.

* Teen R1 200 kan jy die boks saam met die boek Field Guide to Mushrooms & Other Fungi of South Africa (Penguin Random House, 2019), deur Gary Goldman en Marieka Gryzenhout, bestel.

Tamatie en sampioen dhal Foto: Samfa

Tamatie en sampioen dahl

Sampioene is heerlik veelsydig. As jy moeg is daarvoor in slaai, of gebraai as deel van ’n Engelse ontbyt, probeer gerus dié twee heerlike sampioenresepte, verskaf deur die Suid-Afrikaanse Sampioenkwekersvereniging (Samfa).

Maak 4-6 porsies

Jy benodig:

30 ml olie

1 ui, gekap

3 knoffeltoontjies, fyngekap

15 ml vars gemmer, fyngerasper

15 ml kerriepasta

400 g portabellini-sampioene, gehalveer

1 x 410 g blikkie gekapte tamaties

2 x 410 g blikkies bruin lensies, gedreineer

45 ml Griekse jogurt of dik room

30 ml vars koljanderblare, fyngekap

rys of naan-brood

Maak dan só:

Verhit die olie in ’n pan en braai die ui en knoffel liggies vir 5-7 minute.

Voeg die gemmer, kerriepasta en sampioene by en kook vir 3-4 minute.

Roer die tamaties en lensies by en prut vir 5 minute.

Skep die mengsel bo-oor rys of naan, met ’n skeppie jogurt en koljanderblare bo-op.

Sampioen-en-halloumi-tortillas. Foto: Samfa

Sampioen en halloumi tortilla

Maak 4 porsies

Jy benodig:

15 ml olyfolie

300 g groot bruinsampioene (in dik skywe gesny)

3 ml paprika

80 g halloumi-kaas (in repe gesny)

160 g gladde roomkaas

30 ml vars kruie, soos pietersielie en koljander, fyngekap

1 suurlemoen, skil gerasper en sap uitgedruk

4 tortillas, gerooster

1 avokado (in skywe gesny)

1 handvol roketblare

sout en peper na smaakMaak dan só:

Verhit die olie in ’n pan en braai die sampioene en paprika vir 4-5 minute, of totdat die sampioene gaar is. Plaas eenkant.

Braai die halloumi-kaas vir 30-40 sekondes aan elke kant in die warm pan en plaas eenkant.

Meng die roomkaas, kruie, suurlemoensap en gerasperde suurlemoenskil saam en smeer ’n bietjie van die mengsel op elke tortilla. Plaas die sampioene en halloumi-kaas bo-op, asook ’n paar avokadoskywe en roketblare. Bedien dadelik.

Die mengsel is ook heerlik op ’n snytjie geroosterde lae-GI-brood.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.