Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Sauvignon – superster van wynliefhebbers

Vier die wonder van sauvignon blanc saam met Winifred Bowman.

Dit is amptelik: sauvignon blanc het die meeste aanhangers van enige druifsoort, wit of rooi, in Suid-Afrika.

Altesaam 40% van alle witwynverkope is sauvignon blanc, omtrent dubbeld die van die naaste kompetisie, naamlik chenin blanc (en drie keer meer as chardonnay). Die goeie nuus vir produsente is: 22% van alle sauvignon blanc-wyne verkoop teen meer as R90 per bottel.

Sauvignon blanc is ook die derde mees aangeplante wit druifsoort ná chenin blanc en colombar. Dit maak 10% van die totale nasionale wingerd uit met 9 277 ha van die 94 545 ha totale aanplantings.

Sauvignon blanc was ook onlangs wêreldwyd in die nuus met die internasionale Celebration of Sauvignon in Blenheim Marlborough in Januarie vanjaar, sowel as die Concours Mondial du Sauvignon-kompetisie.

“Die Nieu-Seelanders is gek oor sauvignon blanc en met rede. Die wyne wat daar geproduseer word, is uiters uniek en van hoë gehalte. Verbruikers vanoor die wêreld sal dadelik ’n wyn uit Nieu-Seeland uitken,” sê dr. Carien Coetzee, wat beide die geleenthede bygewoon het.

“In wynterme is die Nieu-Seelandse wynbedryf nog baie jonk, maar die produsente is innoverend en werk saam om premium sauvignon blanc te vervaardig. Die hoeveelheid inligting wat die produsente met mekaar deel, is ongelooflik. Hulle is ook ywerig om te eksperimenteer met tegnieke en style wat dan by formele proeë aangebied en bespreek word. Projekte wat ondersoek word, sluit in die produksie van hoëgehalte natuurlike lae-alkohol-wyne,” sê sy.

By hierdie konferensie is Diemersdal se Winter Ferment 2018 geproe en uiters goed ontvang. Kommentaar deur die gesiene Sam Harrop, MW (wynmeester), was: “Tasting this wine transports me to your property in South Africa, even though I have never been there.”

“Suid-Afrika se sterkpunt is die diversiteit van wynstyle wat geproduseer word. Ons produsente vervaardig hoëgehaltewyne met kompleksiteit en ’n verskeidenheid style. Maar die indruk dat Suid-Afrikaanse wyne cheap &cheerful is, moet verander. Ek dink die wêreld se wynbedryf begin besef dat Suid-Afrika werklike ernstige mededingers is en daarmee saam moet die prys vir die produk verhoog word,” sê Coetzee.

Die gewildheid van sauvignon blanc wêreldwyd het die Concours Mondial du Sauvignon tot gevolg gehad. Volgens Coetzee is 51 Suid-Afrikaanse wyne hier beoordeel en die terugvoering was baie positief.

Wat sê die kenners?

RJ Botha van Kleine Zalze, voorsitter van die Sauvignon Blanc Belangegroep van Suid-Afrika (SBIG), verduidelik: “Die direkte vertaling van sauvignon blanc is ‘wilde wit’ en wat maak dit so wild? Wel, dis die wonderlike vars en elegante wyne met appelliefie-, sitrus- en grenadellageure, en die debatteerbare teenwoordigheid van groen soetrissie.

“Enige wynmaker sal jou vertel daar is nie meer tevredenheid in die wêreld as wanneer jy by ’n gistende tenk sauvignon blanc verbyloop nie. En as gevolg van die gewildheid van die druifsoort, het pryse per ton met 17% verhoog – selfs meer as vir die ikoniese druifsoort cabernet sauvignon! En dit maak dit nog wilder!”

Gerhard Swart van Flagstone: “Sauvignon blanc is een van daardie druifsoorte wat jou kan laat jubel as jy dit regkry en laat huil as jy nie. Jy wil die wese van die druif se geure vasvang in die finale wyn en om dit reg te kry moet jy die druiwe met die grootste respek hanteer. Sauvignon blanc skree somer en vakansie uit die glas, maar die verbruiker moet nie die fout maak om te dink dat dié druifsoort nie saam met kos genuttig kan word nie.”

JC Martin van Creation verduidelik die grootste geleentheid vir Suid-Afrikaanse sauvignon blanc is die opwindende verskeidenheid wynstyle wat ons bied. By Creation word ses verskillende klone gebruik om die beste kompleksiteit en uniekheid in die bottel te kry.

Boela Gerber van Groot Constantia: “Sauvignon blanc is ’n baie belangrike kategorie vir ons as Suid-Afrikaanse produsente. Dit is tans die enkeldruifsoort-witwyn met die hoogste bottelverkope in die land sowel as die Verenigde Koninkryk, ons belangrikste uitvoermark. Een van die inherente eienskappe van sauvignon blanc is die hoë vaste suur. Die gee ’n varsheid en ’n droë nasmaak aan die wyn. Ons plaas ’n hoë premie op smaakbalans en die drinkbaarheid van ’n wyn. Prof. Joël van Wyk het menigmaal vir ons as studente gesê: ‘Julle moet onthou, die kliënt moet die wyn drink’.”

Charles Hopkins van De Grendel: “Sauvignon blanc is my geliefste druifsoort. Daar word ook die meeste wêreldnavorsing gedoen oor dié druifsoort. By De Grendel is dit geweldig belangrik dat ons twee style maak. Sauvignon blanc verteenwoordig 35% van ons reeks.

“Die reis met sauvignon blanc is ongelooflik en ek leer nog elke jaar nuwe dinge en ons doen ons eie navorsing om die hoogste gehalte wyn te verskaf. Elke oesjaar bied ’n ander uitdaging.”

Winnie se keuses

  • Balance Winemakers Selection 2018 (R62): Vars, vrugtig en sakpas, vrolik vir elke dag wanneer die son sak.
  • Groot Phesantekraal Sauvignon Blanc 2018 (R80): Kompleks en aromaties met geure van tropiese vrugteslaai en ’n grenadellasmeer-nasmaak.
  • Neil Ellis Groenekloof Sauvignon Blanc 2018 (R105): Seker Suid-Afrika se bekendste sauvignon blanc – vrugtig, vars en onmiskenbaar.
  • Flagstone Ice 2016 (R120): Intense geure van stroopsoet vye, mango en heuning met uitstekende suurbalans. Soos die naam aandui, bedien yskoud.
  • Creation Sauvignon Blanc 2018 (R125): Tropiese vrugte, suurlemoensmeer en volrondheid in die mond, bekoor keer op keer.
  • Tokara Elgin Sauvignon Blanc 2018 (R140): Aanloklike geure van grenadella, appelliefie en pas gesnyde gras – lekker vir vars geelstert met suurlemoenbotter.
  • Diemersdal Winter Ferment 2018 (R140): Hierdie sap word vir vyf maande gevries en dan gegis – die eerste van dié styl in Suid-Afrika. Ongelooflike geure en smake van appelliefie, groen pruim en suurlemoen.
  • Iona Sauvignon Blanc 2018 (R140): Koel soos ’n komkommer met somergeure en -smake. Dié besonderse koel-klimaat-wyn sal jare se plesier verskaf.
  • Solara Block 2 Little Foxes 2017 (R144): Tropies geure meng met vars lemmetjie. Volrond en romerig met ’n lang nasmaak.
  • Delaire Graff Sauvignon Blanc Coastal Cuvée 2018 (R150): Ryk en volrond met intens geure en smake van vrugte en brandnetel.
  • Groot Constantia Sauvignon Blanc 2018 (R165): Volrond met geure van ryp perske, somervrug en ’n sweempie spesery en blom. Volrond met ’n lang nasmaak.
  • De Grendel Koetshuis Sauvignon Blanc 2018 (R175): Fokus en onmiskenbaar! Gedeeltelik in hout verouder, en dit dra by tot die lang speseryagtige nasmaak – ’n wenner!
  • Giant Periwinkle Blanc Fumé 2018 (R200): Vars soos die seebriesie oor die Overberg, met geure en smake van perske, oesterskulp en fynbos.
  • Cape Point Vineyards Sauvignon Blanc Reserve 2017 (R200): Hierdie wingerde het die beste uitsig oor die see – koel en statig met uitstekende vrug- en suurbalans. Gemaak vir die geduldige wynliefhebber wat iets spesiaals soek.
  • Kleine Zalze Family Reserve 2017 (R210): Lewendig met geure van vars groen kruie en somervrugte. Volronde wyn.
  • Cederberg Ghost Corner Sauvignon Blanc 2018 (R220): Van een van die koelste areas in Suid-Afrika met die koue seewind vir vars sitrus- en pomelo-kompleksiteit en fynbos met ’n lang mineraalagtige nasmaak.
Meer oor:  Wyn
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.